Afrikaanse onderwys is die lewenstroom van die taal

Melanie Buys, onderwysspesialis by die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hande het die noodsaaklikheid van volhoubare Afrikaanse skole beklemtoon. Foto: Verskaf.

As Afrikaanse onderwys tot niet gaan, sal dit ook die einde van Afrikaans as taal beteken.

Met dié boodskap het Melanie Buys, onderwysspesialis by die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hande se leierskapkongres, die noodsaaklikheid van volhoubare Afrikaanse skole beklemtoon.

Buys het gesê Afrikaanse skole bied steeds wêreldgehalte-onderrig en alles moontlik moet gedoen word om te verseker dat dit behoue bly.

Sy meen Afrikaanse skole se sukses is onlosmaaklik deel van die kultuur van uitnemendheid wat deur die skool en ouergemeenskappe nagestreef word.

Sy meen Afrikaanse skole is uitgelewer en het geen ander keuse as om meer selfstandig te word nie.

“As mens kyk na uitsprake van individue soos Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, naamlik dat onderwys die ruggraat van transformasie is en dat dit eerder oor kwessies soos sosiale kohesie en politieke gelykheid gaan, is dit duidelik dat gehalteonderrig nie die prioriteit is nie.”

Buys het ook verwys na die departement se onvermoë om genoeg skole in Gauteng te voorsien. Daar is sowat 2 000 skole in Gauteng waarvan 124 Afrikaans is. Volgens haar is nog sowat 160 skole nodig.

“Die probleem is nie ’n gebrek aan fondse om meer skole te bou nie, maar die onvermoë en onwilligheid om die probleme te pak.”

Daar is verskeie redes waarom Afrikaanse skole meer selfstandig moet word soos die aanslag op dié skole se kultuur, etos en Christelike waardes, die finansiële druk waaronder hulle verkeer omdat die departemente nie gelde oorbetaal wat die skole toekom nie, asook die tekort aan kundige onderwysers en gebrekkige kundigheid in die breër onderwysomgewing.

Volgens Buys is ouers baie lojaal aan hul skole en skole moet dit in ag neem en vennootskappe met ondernemings sluit wat selfstandigheid verder kan bevorder.

Sy het die noodsaaklikheid van ’n Afrikaanse onderwyspyplyn van kleuterskole tot tersiêre vlak beklemtoon.

“As Afrikaanse onderwys nie behou word nie, sal dit uiteindelik ook ’n negatiewe impak op die taal hê.”

Johan van Lill sê leesprobleme is ’n wêreldwye verskynsel. Foto: Verskaf.

Johan van Lill, radio-omroeper, het op die kongres, wat deur meer as 500 onderwysers bygewoon is, oor leesprobleme in die klaskamer gepraat.

Hy het waardevolle lesse vir opvoeders gehad oor wat hulle kan doen om kinders se leesvermoë te verbeter. Hy het ook talle mites oor lees uitgewys en ’n ernstige pleidooi gelewer dat kinders nie voor die ouderdom van 7 jaar geleer moet word hoe om te lees nie.

Van Lill het gesê leesprobleme is ’n wêreldwye verskynsel en nie net tot Suid-Afrikaanse kinders beperk nie. Hy het die breinprosesse rakende lees verduidelik en gesê as kinders nie die wêreld rondom hulle deur hul sintuie ervaar nie, kan taal nie plaasvind nie.

Van Lill het voorts gesê baie geletterdheidsontwikkeling vind gedurende slaap plaas en tieners het net soveel slaap soos tweejariges nodig sodat dié ontwikkeling kan plaasvind. Om dié rede het hy gesê moet onderwysers dit ernstig oorweeg om hoërskoolleerlinge later in die dag te laat toets skryf.

Van Lill het ook die rol van tegnologie toegelig en gesê “kyk” het die nuwe lees geword.

“Tegnologie, waaronder selfone, het verander hoe mense lees. Mense lees nie dommer of vlakker nie, maar vinniger as in die verlede.”

Hy het ook verduidelik wat die invloed van skermtyd (rekenaars, witborde, televisie, selfone, iPads) op die ontwikkeling van die brein het.

“Skermtyd moet beperk word. Kinders wat die heeldag na skerms kyk, se breine word beskadig.”

sos-leierskapkongres-2018-daan-potgieter

Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die nuutgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) het oor personeelerkenning en -motivering gepraat. Foto: Verskaf.

Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die nuutgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) het oor personeelerkenning en -motivering gepraat.

Hy het gesê onderwysers moet hulself opnuut vra of hulle in die onderwys is omdat dit ’n werk, ’n loopbaan of ’n roeping is.

“In die onderwys kan dit eenvoudig nie oor rand en sent of ’n salaristjek aan die einde van die maand gaan nie.”

Hy het gesê hoofde moet nuut oor erkenning en motivering van personeel dink. Hy het gesê baie personeel floreer wanneer hulle professioneel kan groei of deel van bestuursprosesse kan wees. Daar is ook ander vorme van aansporing wat personeel kan motiveer. Dit sluit in aanprysing, koop- of geskenkbewyse, toekennings vir uitstaande diens en toewyding, skiktyd of verlof, etes, persoonlike gesprekke en mentorskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

White Rhino ·

Almal behalwe Afrikaanssprekendes wil graag dat ons taal tot niet gaan.
Solank as wat ons dit praat sal dit nie tot niet gaan nie.

B ·

Nee, WR – om ‘n taal te praat is ongelukkig geen waarborg. Dit moet aanhoudend ontwikkel en instand gehou word deur bv tersiere instellings, navorsing, publikasies ens. Deur dit NET te praat boer dit agteruit terug kombuis toe.
(Dis hoekom dit SO belangrik is dat Afrikaans nie moet stop aan die einde van matriek nie, maar deurgevoer moet word na post-matriek onderrig en kwalifikasies.)

Argentinië ·

Jy is reg B, kyk hoe het Afrikaans wat in Argentinië net gepraat is, doodgeloop.

Anonieme Lafaard ·

Luister ouens, sit hierdie tipe van toesprake / aanbiedings / lesings op YouTube sodat dit toeganklik is vir meer mense. Ek wens ek kon die volledige toesprake van al die sprekers te sien kry. Die tegnologie is daar – gebruik dit asseblief.

Boerseun ·

Hahaha, nou wil julle wakker skrik. En verder groei CVO by die dag. Gelukkig kan al die Afrikaners wat skool gee goed engels praat so julle jobs is veilig. Julle mense wou mos nie hoor nie.

Carpie ·

Hoekom is daar dan net beurse vir voorheen agtergeblewenes? Wat van Afrikaans sprekende studente?

Stefaans ·

En ek het gedink ‘n kind wat teen die ouderdom van 7 nog nie kan lees nie, is ‘n bietjie “stadig”.

Cornelia ·

Lees se fundamentele boustene is die KEN van die Alfabet en die sestien saamgestelde klanke: aa, oo, ee, uu, ie, ei, ou, oe, ui, aai, ooi, ai, oi, eeu, eu en oei. Dit word by hehaling daagliks by die kind vasgelê totdat dit sy vanselfsprekende onderbou is. Van Lill maak ‘n wye stelling wat vreemd en irrelevant is as in gedagte gehou word dat generasies soos myself en ander voor my, reeds vóórskools al die alfabet en saamgestelde klanke wat woordbou en sinsbou saamsmee tot lees en leesbegrip, geken het. Moes my eie kind “onderskep” tydens vakansies om haar die alfabet te leer asook die “leesklanke.” Wil nog uitbrei, maar hoop u volg hierdie riglyn en sien hoe u kind kan lees, spel en skryf!

Cornelia ·

Mag ek in die klein ruimte byvoeg dat ek leerlinge in standerd een (in die ou bekende terme) ontvang het, wat nié die Alfabet kon opsê of elke letter binne woordbou oefeninge kon plaas nie! Die meeste het nie geweet van die “16 goue leesklanke” nie. Hierdie is ‘n MOET ken vóórdat leerlinge na graad twee toe oorgeplaas word! (ou terme) Wie sukkel om te lees gaan sukkel om die leer vereistes te intrepreteer. Woordbou oefeninge met die sestien saamgestelde klanke is noodsaaklik. Begin by die Begin en moedig ouers aan om deel te neem aan die proses. Dit is nodig. Help die onderwyser in ‘n tyd waar onderrig byna verspot word weens disrespek, dissipline gebrek en interkulturele druk.

whanita ·

Afrikaans hoort net by die huis. Engels is Internasionale taak en ons kinders sal meer daarby baat as hul slegs daarin skool onderrig kan ontvang. Vervang afrikaans op skool met iets anders. Dis ‘n pynlike vak!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.