Afsondering: Woede oor pa, dogter in see swem

IPSS se soek-en-reddingseenheid (Foto: IPSS Medical Rescue/Facebook)

’n Plasing op Facebook deur nooddienste van ’n pa en sy dogter wat Sondag ten tyde van die staat van afsondering in die see gaan swem en amper verdrink het, het ’n herrie onder sosialemediagebruikers ontketen.

Luidens die Facebook-plasing deur IPSS Medical Rescue is die nooddienste se soek- en reddingseenheid en paramedici vroeg Sondagaand na Salmonbaai in Ballito in KwaZulu-Natal ontbied. Dit nadat hulle inligting ontvang het oor die pa en dogter wat glo besig was om deur ’n sterk seestroom in die see meegesleur te word.

By hul aankoms op die strand was die pa en dogter reeds verby die punt waar die branders in die see breek. Die reddingspan het die see ingeswem om hulle te red en hulle veilig terug strand toe gebring.

Sosialemediagebruikers was ontstoke oor die feit dat die pa en sy dogter nie die afsonderingsreëls om ten alle tye tuis te bly, nagekom het nie.

Byna 200 gebruikers het tot dusver kommentaar op die plasing gelewer, en die meeste meen dat die pa by die polisie vir sy onverantwoordelike gedrag aangegee moet word.

“Die pa was onverantwoordelik om sy dogter tydens afsondering in die see te laat swem waar geen lewensredders teenwoordig is nie. Salmonbaai is in elk geval een van die gevaarlikste strande by Ballito,” meen ’n Facebook-gebruiker.

“Mense neem nie die afsondering ernstig nie. Hulle speel met hul lewens en loop die risiko om ander onskuldige mense aan te steek,” het nóg ’n gebruiker haar misnoeë oor die situasie uitgespreek.

Die IPSS ’n ernstige beroep op die publiek gedoen om die afsonderingsregulasies na te kom. “Kom ons almal werk saam om die verspreiding van die virus te bekamp,” het die IPSS op sy Facebook-blad geskryf.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Genis ·

Dit is uiters onverantwoordelik… ek dink die Pa moet definitief met die gereg bots…

JC Venter ·

Ek stem dat dit onverantwoordelik was deur hul lewe in gevaar te stel, maar indien hier nou nie ‘n staat van inperking was nie?

Veronderstel mens het ‘n vakansiehuis by die see, nie ‘n siel in sig nie en die naaste huis is honderde meter van jou af, mag mens in die see voor jou huis visvang? Of dalk so kniediep die water inloop?

Die doel is sekerlik om mense weg van mekaar te hou, daarom word mense ingeperk, maar wat nou as mens op ‘n plaas of ‘n kleinhoewe woon, mag mens by jou huis uitgaan? En dan natuurlik kom mense wat in dieselfde huis woon deurlopend met mekaar in aanraking, ook in die stad, maar sodra hulle buite die huis is, moet hulle weg van mekaar beweeg?

Ek het agter my huis ‘n natuurtuin wat teen ‘n kop uitloop, mag ek by my huis uitgaan en so tydjie daar in die natuur verwyl?

Renier ·

Ek is in Dakar,Senegal.Ons het nie lockdown nie. Ek het gister gaan visvang,en die vis foto op n groep geplaas op gesigboek. Die ‘tant Stienie’s ‘ in Suid Afrika het my verslind. baie ontsteld. Maar as ek kyk na fotos en videos wat mense van Suid Afrika wys oor hoe dit by die winkels lyk,is al wat verander het dat mense nie meer werk toe gaan nie. Party mense is 2 tot 3 keer per dag by Spar of Shoprite vir Éssentials’. Dit is ook hulle wat die meeste kla .

Daleen ·

Renier jy praat so die waarheid. Vir meeste is die ‘n betaalde verlof. Ons bly in ‘ n baie besige straat en die straat is niks minder besig na die lockdown nie. Ergste was vanoggend toe daar bakleiery by die U-save uitgebreek het hoekom want brood is nou R20, en bier en sigarette vrylik bekombaar ook teen buitensporige pryse. Toemaar ek was nie daar nie dis op die GPF facebook geplaas. En die polisie bel ek dink jy gaan makliker die koningin van England in die hande kry – fone lui net. Gelukkig is die GPF op hulle stukke en ry toe om polisie te gaan haal. En toe…. Geen voertuig beakikbaar om uit te stuur nie. Sterkte aan almal wat wel gehoor gee aan die lockdown vir die ander moenie huil as jy positief toets nie BLY IN JOU HUIS!

Alida ·

Nirmand mag in die see swem nie. Watter deel verstaan die mense nie?

Schalk N ·

Om te dink na al die HONDERDE waarskuwings wat reeds versprei is, is daar steeds mense wat maak soos hulle wil. Gevalle soos hierdie moet die rottang uit gehaal word vir n slag. Wie weet waar die persoon se “ore” sit…

Oumie7 ·

Moenie swem as daar ook glad nie lewensredders is nie punt en bly asb by die huis

DRB ·

Dit slaan my dronk dat 2 mense alleen op n strand gestenig word, maar die taxis mag feitlik soos normaal mense vervoer. Selfs al is daar klomp mense op die strand, met die seebries wat enige ‘virusse’ wegwaai en die soutwater wat n natuurlike ontsmettingsmiddel is, in vergelyking met n voeruig waarin die insittendes mekaar verseker gaan aansteek, ongeag die afstand tussen hulle – hoe redeneer mense??? As die taxis toegelaat word om so aan te gaan is die lockdown sinneloos!

Rina ·

Ek gaan eers weer more winkel toe. Of Donderdag. Dis voor Paasnaweek. Verder het ons Alles wat ons nodig het. Ek dra my masker winkel en het hand sanitizer by my. My man kyk na ons kinders daai tyd.
As almal Saam werk, Kan ons dit maak wetl, maar nou ja!
Hier in ons dorp Hou 90 % by die reels! Dorp is stil!
Hoop almal besef dis ernstig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.