Agoa-beraad begin in SA ná diplomatieke spanning

Albert Muchanga, kommissaris van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (bekend as Agoa) op die eerste dag van die beraad in Johannesburg. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Die Agoa-handelsberaad tussen Afrika en die VSA het Donderdag in Suid-Afrika begin, terwyl Pretoria en Washington bande herbou ná ʼn relletjie oor bewerings dat Suid-Afrika te danig met Rusland is.

Ministers van nagenoeg 40 lande suid van die Sahara wat ingesluit is in die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika – bekend as Agoa – is in Johannesburg byeen om drie dae lank samesprekings met Amerikaanse afgevaardigdes te voer.

Die keuse van Suid-Afrika as gasheer vir die jaarlikse beraad was ʼn “teken van ons verbintenis tot die bilaterale verhouding”, sê Joy Basu, Amerikaanse adjunkminister vir buitelandse sake in die Buro vir Afrika-aangeleenthede.

Die Amerikaanse kongres het die wetgewing in 2020 goedgekeur en dit vorm die hoeksteen van die Amerikaanse ekonomiese en handelsbeleid op die vasteland.

Die ooreenkoms bied aksynsvrye toegang tot die wêreld se grootste ekonomie vir lande wat voldoen aan bepaalde demokratiese kriteria. Voldoening aan die kriteria word jaarliks gemeet.

Agoa verstryk in 2025 en met geen sprake nog van ʼn opvolger nie, sal die samesprekings na verwagting wentel om ʼn moontlike verlenging.

Diplomatieke betrekkinge tussen Washington en Pretoria was stram weens die oorlog in Oekraïne en te midde van beskuldigings dat Suid-Afrika – wat hou by ʼn sogenaamde onverbonde posisie – al hoe nader aan Rusland beweeg.

In ʼn ongewoon skerp verklaring het die Amerikaanse ambassadeur na Suid-Afrika, Reuben Brigety, beweer dat ʼn Russiese vragskip wapens en ammunisie by ʼn vlootbasis hier opgelaai het.

“Ons het groot waardering vir die Ramaphosa-administrasie se ondersoek na die kommer wat ons gelug het,” sê Basu.

“Suid-Afrika kom ten volle in aanmerking vir Agoa-voordele.”

Handel ingevolge die Agoa-ooreenkoms is verantwoordelik vir 21% van Suid-Afrika se jaarlikse uitvoere na die VSA; produkte wissel van voertuigonderdele tot rou materiaal en was verlede jaar sowat R55 miljard werd.

“Agoa was tot dusver sentraal in die versterking van ekonomiese bande en die bevordering van groei en ontwikkeling op die Afrika-vasteland,” het die Suid-Afrikaanse presidensie gesê.

Die VSA het vroeër gesê hy skop die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Gaboen, Niger en Uganda vanaf Januarie uit die ooreenkoms weens kommer oor menseregte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

voor ek vergeet ... ·

Die enigste rede hoekom SA nie geskors sal word nie is omdat Amerika ons ook nodig het. Die AGOA-ooreenkoms is die laaste strategiese hefboom wat hulle oor SA kan uitoefen. Waarom anders anderkant toe kyk, toe die ANC en die EFF openlike hulle steun aan Hamas (en Iran wat hulle gehelp het) gegee het.

annie ·

Die roete on die Kaap as strategiese punt was nog altyd belangrik. Indien die roete deur Egipte geblok word is die een om die Kaap die enigtse tensy skepe ‘n groot draai seil. Skepe word vanaf daar dopgehou. En ook omdat ons naby die Suidpool lê. Minerale bly ook belangrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.