Agoa help bande versterk, uitbou

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy openingsrede by die Agoa-forum in Johannesburg. (Foto: GCIS)

Die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika – beter bekend as die Agoa-ooreenkoms – versterk nie net Suid-Afrika se bande met die VSA nie, maar help ook sakeondernemings op die vasteland om met Amerikaners en hul vennote handel te dryf.

“Ek het eerstehands gesien hoe Agoa ondernemings en entrepreneurs in Suid-Afrika ondersteun,” sê Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa (BLSA).

Mavuso het verlede week die Agoa-forum in Johannesburg bygewoon en verskeie vertellings gehoor van Suid-Afrikaanse ondernemings wat ʼn voet in die deur in die Amerikaanse mark, en baie ander markte wat in vennootskap met die VSA is, kon kry.

Die forum het sakelui van oor Afrika bymekaar gebring om met hul Amerikaanse eweknieë te skakel.

Die Agoa-forum het ook op die toekoms gefokus en hoe dit voorts vir al die betrokke partye verbeter kan word. Die ooreenkoms verstryk volgende jaar en moet voor 2025 deur die Amerikaanse kongres hernu word. Aanduidings is dat dit wel sal gebeur, maar daar was nog geen amptelike aankondiging nie.

Volgens Mavuso het Antony Blinken, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, gesê pres. Joe Biden werk saam met die kongres om die ooreenkoms te verbeter.

“Een manier om dit te doen is uitgelig deur pres. Cyril Ramaphosa. Ramaphosa het aangevoer dat Agoa vir ʼn lang tydperk verleng word sodat Afrika-ondernemings hulle tot langtermynbeleggings kan verbind,” sê sy.

“Verskeie lande het ook aangedring op langer termyne vir die hersiening van lande se geskiktheid. Geskiktheid word tans jaarliks hersien, wat teoreties beteken dat lande Agoa-voorkeure kan verloor wat dit moeilik maak vir ondernemings op die vasteland om langtermynbeleggingsbesluite te neem.”

Suid-Afrika se deelname aan Agoa is onlangs in gedrang gebring deur die Lady R-sage, maar alle aanduidings is dat die ooreenkoms met die VSA steeds voortgesit gaan word wanneer die jaarlikse oorsig in Januarie geskied.

Mavuso sê wat ook in ag geneem moet word, is dat die dinamika tussen die Afrika-vasteland en die VSA verander het sedert die ooreenkoms laas in 2015 hernu is. Sedertdien is die Afrika- kontinentale vryhandelsgebied tot stand gebring. Dit bied Amerikaanse ondernemings ook toegang tot ʼn wye handelsmark.

“Sakelui is bekommerd oor die toekoms van Agoa en Suid-Afrika se plek daarin, maar ek het verlede week gevoel ons is op ʼn meer positiewe koers as ʼn ruk gelede,” sê sy.

Beleggers het ‘aptyt vir SA’

Terwyl die Agoa-forum op tuisbodem onderweg was, is die SA Tomorrow-konferensie in New York gehou. Sakelui en politieke leiers het met beleggers geskakel om Suid-Afrika as ʼn aantreklike beleggingsbestemming te bevorder.

“Amerikaanse beleggers was gretig om te sien hoe ernstig Suid-Afrika se verbintenis tot hervorming is,” sê Mavuso.

Mike Brown, adjunkvoorsitter van BLSA en uitvoerende hoof van Nedbank, het dit in een van sy gesprekke duidelik gemaak dat uitdagings Suid-Afrika in die gesig staar om sy ekonomie uit te bou. Selfs met dié uitdagings het Brown die geleenthede uitgewys, soos dié dat Suid-Afrika vinnig hernubare energie-infrastruktuur begin ontplooi het.

Mpumi Madisa, uitvoerende hoof van Bidvest, het ook verduidelik hoe Bidvest in hernubare energie belê en dienste aan verbruikers en ondernemings verskaf.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec, het uitgebrei oor hoe die vennootskap tussen die regering en sakeondernemings tot uitvoering lei, wat weer geleenthede vir sakeondernemings en beleggers skep.

Politieke leiers, onder wie Rudi Dicks wat medehoof is van Operasie Vulindlela, het oor die vordering met die inwerkingstelling van die regering se planne gepraat. Leiers van Eskom en Transnet was ook teenwoordig om beleggers insig te gee oor hoe dié ondernemings te werk gaan om hul prestasie te verbeter.

“Die ontvangs van die toesprake was positief. Beleggers is gretig om geleenthede te vind en die aptyt verbeter nou gaandeweg,” sê Mavuso.

Sy sê die gebeurtenisse die afgelope naweek is om verskeie redes belangrik. By albei geleenthede is die diplomatieke verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA bespreek.

“Ek dink die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA is aan’t herstel, aangesien die regering nou baie duideliker is oor sy onverbonde standpunt wat die onderskeie konflikte oor die hele wêreld heen betref. Die geleenthede sal daardie genesingsproses versterk deur lig te werp op die gedeelde geleenthede wat die twee lande kan bied deur saam te werk.

“Die beleggings- en handelsverhoudinge wat ons met die VSA het, is baie belangrik – sekerlik een van ons belangrikstes ter wêreld. Die gebeure verlede week sal help om dit te konsolideer en te bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.