Agt jaar later kry ‘tandjieshond’ vir-altyd-huis

(Foto: Verskaf)

Funny Bones, die hond wat vroeër vanjaar die harte van duisende diereliefhebbers aangeraak het nadat ʼn skuiling in Houtbaai in die Wes-Kaap skattige foto’s van hom op Facebook gedeel het, is ná meer as agt jaar uiteindelik amptelik aangeneem.

Maroela Media het vroeër berig ná talle pogings om vir dié negejarige Africanis-hond ʼn liefdevolle huis te kry – en “oorweldigende belangstelling” – het hy steeds op ʼn liefdevolle gesin gewag om hom in sy laaste paar jare te bederf.

Die Domestic Animal Rescue Group (DARG), het egter Vrydag in ʼn plasing op Facebook die verblydende nuus gedeel: “Funny Bones het nou ʼn huis van sy eie.”

“Ons is so opgewonde om te sien hoe ons pragtige seuntjie nou ʼn nuwe avontuur aanpak – ʼn huis van sy eie! Vaarwel Funny Bones, ons gaan jou speelse persoonlikheid, liefdevolle aard en perfekte tande baie mis.”

DARG het aan Maroela Media vertel dat, ondanks sy innemende en speelse persoonlikheid, dit ʼn uiters ingewikkelde proses was om vir dié vierpoot die regte huis te vind.

Funny Bones het as ʼn jong hondjie van ʼn informele nedersetting, Imizamo Yethu, by die organisasie beland nadat hy met ʼn skerp voorwerp in die nek gesteek is.

“Hy was ʼn baie gefrustreerde en ‘moeilike hond’ in sy jonger dae omdat hy nie by die skuiling wou wees nie. Hy was vir lank baie gestres hier, hy wou so graag net sy eie gesin hê wat vir hom sal lief wees nes hy is.”

(Foto: DARG/Facebook)

DARG sê een van die uitdagings was onder meer dat hy glad nie met katte oor die weg kom nie, “en 90% van die mense wat aansoek gedoen het om hom aan te neem het katte gehad”.

“Hy kan ook nogal stout wees. Hy is gek daaroor om met stokke te speel en iets stukkend te byt en is geneig om gate te grawe wanneer hy ʼn bietjie gefrustreerd raak.”

Volgens die skuiling het hy egter nou uiteindelik by die perfekte paartjie beland, “ʼn paartjie met baie geduld en onsettende baie liefde”.

We're so excited to watch our beautiful boy head off on his new adventure – a home of his very own! Farewell Funny Bones…

Posted by DARG on Wednesday, April 3, 2024

Die paartjie, wat verkies om anoniem te bly, het aan Maroela Media vertel dat hulle onlangs hul boerboel – “wat hulle vir 15 jaar lank baie liefgehad het” – aan die dood moes afstaan.

“Ons het daarom besluit om ʼn hond aan te neem wat ouer is, omdat ons gevoel het ʼn hond wat al jare by ʼn skuiling is en al oud is, dit verdien om die liefde te ken wat ons aan hom kan bied.

“Ons het na ʼn paar honde gekyk en navrae gedoen, maar toe ons vir Funny Bones sien, het ons net geweet – en dadelik besluit ons wil hom hê.”

Hulle het daarna met DARG kontak gemaak en was ongelooflik gelukkig om uit te vind dat Funny Bones nog vir aanneming beskikbaar is. “DARG het ʼn baie goeie diens gelewer en ons het sommer vinnig ʼn besoek aan hom afgelê.”

Volgens DARG is dit ʼn lang proses om ʼn hond wat so lank in ʼn skuiling moes deurbring na nuwe eienaars te laat gaan. Die paartjie het eers ʼn paar dagbesoeke met Funny Bones deurgebring, voordat hy vir die eerste keer by hulle kon oorslaap.

(Foto: Verskaf)

Die eerste kuier by Mr. Bones – soos sy nuwe eienaars na hom verwys – “was ʼn wonderlike ervaring, hy is so oulik”.

“Ons moes vir hom wag, want hy is eers vir ʼn stappie geneem om van al sy oortollige energie ontslae te raak. Ons het na die ander honde gekyk terwyl ons sowat ʼn halfuur gewag het, maar hy was die mees spelerige, snoesigste, en unieke hondjie,” vertel sy nuwe eienaars.

“Hy het iets gedoen waaroor ek baie verbaas was; toe hy moeg geraak het na sy stap, het hy op my voete kom lê. Ons was albei net so aangetrokke tot hom. Ons het daarna weer reëlings vir ʼn besoek getref. Hy was net vir ons die oulikste seuntjie van die begin af.”

Die eienaars vertel dat daar egter heelwat uitdagings was om hom aan te neem.

“Dit was maar vir ons ʼn sensitiewe saak aangesien ons pas ons boerboel-seuntjie verloor het. En vir Mr. Bones was dit ook maar moeilik. DARG het egter sy geskiedenis deeglik met ons gedeel, dit is uiters hartseer waardeur hy al moes gaan en ons was bewus dat daar uitdagings sou wees om ʼn hondjie soos hy te probeer huisves.

“Ons was senuweeagtig, maar ons was reeds vasbeslote dat ons hóm wou hê.”

Die paartjie vertel dat hy drie besoeke by hulle moes aflê wat elke keer met ʼn uur verleng is.

“Hy was spelerig en gelukkig en dit het van die begin af gelyk of hy by ons sal pas. Ek sou sê ons het die klein uitdagings vinnig oorkom. En nou is hy reeds deel van die gesin, hy aard wonderlik hier.

“Hy is ongelooflik intelligent. Vir ʼn hond wat nie juis ‘potty trained’ is nie, het hy van dag een af ​​presies geweet wat om te doen. Hy het geweet waar om vir sy lekkernye te wag en ook vinnig by ons slaap- en werkroetine aangepas.

“Dit is asof hy geweet het hy het nou ʼn huis wat hy syne kan maak.”

(Foto: Verskaf)

Funny Bones se nuwe eienaars sê sy innemende persoonlikheid bly hulle verras en dat hy hulle weer soveel genot verskaf.

“Hy doen die oulikste dinge. Hy het klein eienaardige maniertjies, hy strek op sekere maniere, en vat enige ‘bederfie’ met groot opgewondenheid na sy bed toe.

“Hy laat ons meer lag. Hy het ʼn tipe geluk saamgebring wat nie beskryf kan word nie. Hy word in die oggend stertswaaiend wakker en ʼn mens kan nie anders as om vir hom te lag nie. Dit is die beste manier om jou dag te begin, hy is ons baba.

“Funny Bones het ons huis reeds sy tuiste gemaak. Ons hoef dit nie in die vooruitsig te stel nie, want dit het reeds ʼn werklikheid geword. Hy is nou deel van die meubels en ons gesin. Sy algemene geluk laat ons elke dag beter voel, selfs wanneer ons dalk ʼn slegte dag gehad het.”

Die eienaars se boodskap aan ander hondeliefhebbers wat graag ʼn hond wil hê is om diereskuilings te besoek vir ʼn aanneming.

“As daar iets goed is wat jy in hierdie wêreld wil doen, dan moet jy eers ʼn skuiling besoek voordat jy kies om ʼn hond te koop.

“Skuilings het ook die oulikste, snoesigste, liefdevolste hondjies.

“Hierdie honde is onskuldig. Hulle kan nie vir hulself praat nie. Hulle kan jou nie van hul hartseer vertel nie.

“Maar as jy lank genoeg in hulle oë kyk sal jy verstaan ​​hoekom hulle eerder saam met jou huis toe moet gaan as ʼn hond wat jy by ʼn teler koop.”

Die paartjie het DARG vir hulle uitstekende werk bedank en dat hulle Funny Bones vir so lank liefgehad en versorg het.

“Ons baba is nou waar hy moet wees, by sy vir-altyd-huis, en ons het hom reeds so oneindig lief.”

Hou Funny Bones dop op sy splinternuwe Instagram-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ester ·

Agge siestogie mammie, wat ‘n dierbare gevreetjie.
Sal ook boots en all in my hart klim.
So bly daar is nou ‘n viraltyd huis…

Republikein in die Wes Kaap ·

Funny Boots moet Hollywood toe. Sal baie geld verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.