Akademici vir lewensbydrae tot Afrikaans vereer

Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe. (Foto: Verskaf)

Die Jan H Marais-prys vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal word vanjaar gedeel deur proff. Ina Wolfaardt-Gräbe, voorheen verbonde aan Unisa in Pretoria, en Hennie van Coller, buitengewone professor by die NWU en uitstaande professor (emeritus) van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Dié prys ter waarde van R500 000 sal later vanjaar tydens ʼn funksie op Stellenbosch aan hulle oorhandig word.

“Albei wenners geniet wye aansien as literatuurwetenskaplikes van internasionale formaat,” sê prof. Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Gräbe, wat aan die destydse PU vir CHO gepromoveer het, was van 1984 tot met haar aftrede in 2005 verbonde aan Unisa, eers aan die departement Algemene Literatuurwetenskap en later Afrikaans. Sy is bekend vir haar werk as teoretikus en ook as dryfkrag agter die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, die belangrikste Afrikaanse akademiese tydskrif met internasionale aansien.

Van Coller, ʼn produk van die Universiteit van die Witwatersrand met doktorsgrade van die Universiteit van Utrecht in Nederland en die destydse RAU, is in 1997 deur die Vrystaatse Universiteit vereer met ʼn bevordering tot uitgelese professor. Hy het nie net ʼn formidabele vakkundige publikasierekord as literatuurwetenskaplike nie, maar is ook ʼn erkende digter, vertaler en prosaskrywer.

Prof. Hennie van Coller. (Foto: Verskaf)

Die jaarlikse Jan H Marais-prys is in 2015 ingestel deur ʼn besluit van Het Jan Marais Nasionale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch, wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ʼn groot ondersteuner van Afrikaans as akademiese en literêre taal.

Die prys word jaarliks toegeken as erkenning vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoё vlak en van hoё gehalte in Afrikaans.

Die keurkomitee het bestaan uit: Albert Grundlingh, professor emeritus in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch; proff. Marius de Waal van die Stellenbosse Regsfakulteit as voorsitter; Ian Dubery, hoogleraar in biochemie aan die Universiteit van Johannesburg; Debra Meyer, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskap aan die Universiteit van Johannesburg; asook drs. Johan van Zyl, oudrektor van die Universiteit van Pretoria en voormalige hoof van Sanlam, en Ena Jansen, oudhoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam. Prof. Christof Heyns, regsprofessor aan die Universiteit van Pretoria, was verskeie jare lid van die komitee, maar is ongelukkig onlangs onverwags oorlede. Prof. Andreas van Wyk, oudrektor van die Universiteit Stellenbosch, is op kort kennisgewing as lid in die plek van Heyns gekoöpteer.

Die prys van R500 000 sal weer in 2022 toegeken word. Die aanwending van die prysgeld is in die hande van die ontvanger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santie Gildenhuys ·

Ek was so bevoorreg om by professor Hennie van Coller klas te kon kry in die jare 1984/85 aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het ook vir my ‘n getuigskrif aan die einde van 1985 geskryf wat ek steeds koester. Sy entoesiasme en liefde vir veral Afrikaanse letterkunde inspireer my tot vandag toe nog . Ek hou al vir 35 jaar lank skool, 28 jaar daarvan as Departementshoof Tale. Ek onthou nog die jolige en insiggewende uitstappie waarop hy ons Afrikaans-Nederlands klas na die skrywer Etienne le Roux se plaas op Koffiefontein geneem het! Hiermee dus BAIE GELUK aan u met ‘n uiters verdienstelike toekenning! Kovsiegroete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.