Aksieplan vir perlemoenstropery ‘dringend nodig’

(Foto verskaf deur die Valke)

Perlemoenstropery hou nie net ʼn veiligheidsrisiko vir inwoners in kusgebiede in nie, maar gee dié produk – wat ook wettiglik uitgevoer word – ʼn slegte naam.

Die DA het die afgelope week ʼn beroep op Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, gedoen om verslag te lewer oor wat presies gedoen word om aandag te gee aan die voortdurende stroping van perlemoen in die Wes-Kaap.

Hoewel verskeie suksesse die afgelope week teen perlemoenstropers behaal is, meen die DA baie meer moet steeds gedoen word om kriminele netwerke wat verantwoordelik is vir stroping van perlemoen in die provinsie hok te slaan.

Andricus van der Westhuizen, die DA se Wes-Kaapse woordvoerder oor landbou, het vandeesweek aan Maroela Media gesê dat die onwettige handeldryf van perlemoen glo soveel as vier keer groter as die wettige produsering daarvan kan wees.

“Aangesien perlemoenstropery ʼn onwettige bedryf is, het ons nie regtig ʼn aanduiding van hoe groot die omvang daarvan werklik is nie.

“Mense wat wettig met perlemoen boer en teel reken egter dat die onwettige verskaffing daarvan tot vier keer meer kan wees as dit wat hulle produseer.”

Perlemoen wat onwettige bekom word beland boonop tussen wettige perlemoenprodukte op die kommersiële mark – wat dié produkte se reputasie groot skade kan berokken.

“Daar is uiteraard geen gehaltebeheer oor produkte wat die mark onwettig bereik nie. Niemand weet hoe hulle dit verwerk, waar dit was en of hulle dié perlemoen selfs in die son laat lê nie. Dit kan giftig en gevaarlik wees vir mense,” sê Van der Westhuizen.

“Wettige produsente doen egter hul bes om produkte van hoë gehalte te produseer en uit te voer. Produkte wat dan onwettig tussen dié produkte beland gee Suid-Afrikaanse perlemoen ʼn slegte naam.”

Dis juis om dié rede dat owerhede eerder gestroopte perlemoen waarop beslag gelê word, sal vernietig, sê hy.

Beamptes van die Overstrand-metro het Donderdag in samewerking met lede van die departement van bosbou en vissery vyf duikers in Buffelsjagbaai naby Gansbaai in hegtenis geneem. (Foto: Facebook / Overstrand- munisipaliteit)

Perlemoen wat aan die Suid-Afrikaanse kus gestroop word, word hoofsaaklik na Oos-Asië, veral Hongkong, uitgevoer, waar dit as ʼn spesialisgereg beskou word, berig AFP.

Bose kringloop

Van der Westhuizen meen onwettige perlemoensmokkelary hou ook met ander misdadige aktiwiteite uit die onderwêreld – soos dwelms en bendebedrywighede – verband.

“Dis ʼn bose kringloop, want die opbrengs van die een misdryf finansier weer ʼn volgende een.”

Inwoners wat langs die kus woon of strandhuise besit is glo ook uiters bang om stropery wat byna op hul voorstoepe plaasvind aan te meld.

“Baie inwoners is bang om na hul strandhuise te gaan of om op die stoep te sit. Perlemoenstropers sal onder meer met gebare dreigemente maak wat suggereer dat hulle dié inwoners sal keel afsny indien hulle durf om stropers te verkla.”

Voortdurende stryd

Verskeie perlemoenstropers het weer die afgelope week hul moses teëgekom in pogings om dié probleem te takel.

Beamptes van die Overstrand-metro se taakspan en K9-eenheid het Donderdag in samewerking met lede van die departement van bosbou en vissery vyf duikers in Buffelsjagbaai naby Gansbaai in hegtenis geneem, nadat inligting omtrent moontlike stropery ontvang is.

Die vermeende stropers het duiktoerusting ter waarde van R115 000 en twee rubberbootjies ter waarde van R340 000 in hul besit gehad, waarop die polisie beslaggelê het.

Perlemoen ter waarde van R4 000 is ook in hul besit gevind.

Wetstoepassers in Kaapstad het ook verlede Vrydag op ʼn reusestropingskamp in die Tafelberg- nasionale park afgekom. Beslag is gelê op duiktoerusting soos paddavoete en duikpakke. Niemand is egter tydens dié operasie in hegtenis geneem nie.

SANParke het onlangs op ‘n stroperskamp naby Tafelberg toegelsaan. (Foto: Twitter/ SANParke)

Wayne Dyason, Stad Kaapstad se woordvoerder vir wetstoepassing, sê die metro se mariene-wetstoepassingseenheid werk gereeld saam met rolspelers soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens, SANParke en die nasionale departement van omgewingsake, bosbou en visserye om perlemoenstropery in die wiele te ry.

Van der Westhuizen meen egter die stryd moet nou verder gevoer word, aangesien daar die afgelope twee jaar weer ʼn toename in stropery was.

“Die regering, in samewerking met ander rolspelers, het in ʼn stadium baie goeie vordering met die bekamping van dié misdryf gemaak.” Hy het na Operasie Phakisa verwys wat reeds in 2014 van stapel gestuur is om onder meer kriminele aktiwiteite soos onwettige stropery en smokkelary – ook van vetplantjies en diere soos die ietermagog – hok te slaan.

“Hulle fokus het egter met die aanbreek van die Covid-19-pandemie verskuif, waar ons weer ʼn geweldige toename in dié soort onwettige aktiwiteite ervaar het. Ons wil juis nou by owerhede weet hoe daar met mekaar saamgewerk kan word om die stryd verder te voer.”

Dit is om dié rede dat die DA hoop die minister en ander rolspelers hul samewerking sal gee en verslag aan die Wes-Kaapse wetgewer sal doen. “ʼn Plan van aksie is dringend nodig om perlemoenstroping te stuit.”

Maroela Media het vandeesweek navrae oor die omvang van perlemoenstropery en die uitwerking daarvan aan die departement van omgewingsake, bosbou en visserye gestuur, maar geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.