Al hoe meer druk op skole om toeskouers toe te laat

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Hoewel die departement van basiese onderwys nog sy beleidsbepalings vir die komende skooljaar moet uitreik, word daar verwag dat toeskouers weer by skoolbyeenkomste toegelaat sal word ten spyte van die voortslepende Covid-19-pandemie.

Skole word nou aangeraai om van dié geleentheid gebruik te maak en ouers by byeenkomste terug te verwelkom.

“Skole sal dwaas wees om voor die voet te weier dat toeskouers toegelaat word,” sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).

Ook ’n opvoedkundige sielkundige meen dit sal voordelig vir kinders wees om na ’n mate van normaliteit terug te keer. Ma en pa se ondersteuning langs die sportveld of in die skoolsaal dra deels daartoe by.

Klopper wys daarop dat ’n skool se beheerliggaam die keuse het om toeskouers tydens ’n skoolgeleentheid te weier – soos reeds die geval voor die uitbreking van die koronavirus was.

“Daar is reeds ’n mate van terugkeer na normaliteit en skole gaan ongetwyfeld groot druk van ouers ontvang om toeskouers toe te laat. Daar is ook geen twyfel daaraan dat leerders wil hê ma en pa moet daar wees nie.”

Volgens Klopper is dit moontlik om toeskouers tydens skoolbyeenkomste te akkommodeer en te koördineer mits daar streng aan die afsonderingsregulasies voldoen word.

Byeenkomste word ingevolge vlak 1 van die Covid-19-inperkingsreëls tot 1 000 mense binnenshuis en 2 000 mense in die buitelug beperk. Maskers moet gedra word en sosiale afstand behoort ten alle tye gehandhaaf word.

Andreas Baron, ’n opvoedkundige sielkundige, het vandeesweek aan Maroela Media gesê die aanmoediging van ’n skare by onder meer ’n sportbyeenkoms het ’n sielkundige uitwerking op spelers en kan selfs beter prestasie tot gevolg hê.

“Toeskouers is ’n interaktiewe deel van sport en die terugvoer, en die geraas, kan baie opbouend wees.

Die terugkeer na roetine kan ook nie onderskat word nie, sê Baron.

“Veral ouer kinders was voor die Covid-19-pandemie daaraan gewoond dat mamma en pappa byeenkomste bywoon en die terugkeer van toeskouers kan tog ’n manier wees om te wys dat ons besig is om terug na roetine te beweeg.

“Hoe meer aspekte van normalisering, hoe veiliger voel ’n mens.”

Baron waarsku egter dat dit van kind tot kind verskil en sommige het reeds aangedui dat hulle minder druk ervaar wanneer hul ouers en ’n skare nié tydens ’n byeenkoms teenwoordig is nie.

“Sommige het al genoem dat hulle gemakliker en vryer voel sonder toeskouers. Toeskouers is natuurlik grotendeels positief maar in enkele gevalle waar daar ’n ongesonde kultuur in die huis of in die sport heers, plaas dit druk op die kind.”

Daar word verwag dat die departement se beleidsaanduidings rakende skole na verwagting binne die volgende twee weke uitgereik sal word. ’n Woordvoerder van die departement het egter nie vandeesweek op navrae reageer nie.

Skole in die binnelandse provinsies – Gauteng, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes – sal onderskeidelik op 10 en 12 Januarie heropen. Skole in die kusprovinsies verwelkom hul leerders op 19 Januarie terug op die skoolbanke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

Dit is hoog tyd. Wat is beter as om jou ouers en self vir oupa en ouma te hoor skree as jy daai laaste pylvak vat of as jy jou laaste greintjie krag gebruik om oor die hoogspring lat te seil. Dit is goed vir hart, siel en verstand. Dit is tyd om terug te keer na dit wat saakmaak.

Baardman ·

Moes lankal gebeur het, nie net in skole nie, maar alle fasette van die samelweing moet terugkeer normaal toe.

Harley Davidson ·

Dit gebeur reeds in Durban as gekyk word na die hoeveelheid mense wat op die strande toegelaat is.

Swerwer ·

Covid 19 met al sy Variante is ‘n lewenswyse waarby almal moet aanpas en inperkings gaan dit besls nie stuit nie. So stel oop en dat die samwelewing tot normaal terugkeer. Of jy nou op ‘n paviljoen sit en die kinders ondersteun en of jy in ‘n inkopie sentrum rondloop of as gesin in ‘n restaurant sit en eet waar ander gesinne ook sit en die kinders almal saam in die speelarea saam speel, wat is die verskil? Daar is niemand wat in die speelareas rondloop en alles “Sanitise” waar die kinders speel nie.

Terry ·

As die land 2000 mense buite en n 1000 binne toelaat, wat keer skole?? Dink hul miskien hul kan die verspreiding keer? Daardie selfde ouers met selfde kinders kom ook by plekke. Ons moet net aanhou by reelshou vir almal se onthalwe. Ondersteuning vir ons kids is baie belangrik!!!

Johan ·

Watter pandemie praat hulle van, ek sien net regulasies wat verwoesting saai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.