Al meer geld uit, al minder in – minister

Enoch Godongwana (Foto: Presidensie)

Die staatskas word ál leër.

En die Suid-Afrikaanse regering se skuldrekening al dieper in die rooi terwyl rente van miljarde rand ophoop.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het Woensdagmiddag met die bekendmaking van sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) gesê die staat se begrotingstekort het met R54,7 miljard toegeneem.

Dit is weens laer inkomsteprestasie, hoër loonrekeningkoste en hoër geprojekteerde skulddienskoste.

Die minister sê stygende jaarlikse begrotingstekorte het nou ’n vlak bereik waar die regering gemiddeld R553 miljard per jaar oor die mediumtermyn wil leen.

Godongwana voorspel dat bruto skuld van R4,8 biljoen in die 2023‑’24- finansiële jaar tot R5,2 biljoen in die volgende finansiële jaar gaan styg.

Teen 2025‑’26 sal Suid-Afrika se bruto skuld die R6 biljoen-kerf oorskry.

“Ons verwag nou dat bruto staatskuld teen 2025‑’26 teen 77% van die bruto binnelandse produk (BBP) sal stabiliseer. Dit is hoër as die vlak wat ons in Februarie [tydens die begrotingsrede] voorspel het,” sê Godongwana.

Luidens die jongste syfers sal Suid-Afrika se skulddienskoste alleen oor die volgende drie jaar vanaf 20,7% in 2023‑’24 tot 22,1% in 2026‑’27 styg.

Die koste, of rente van dié skuld, vir volgende jaar alleen, beloop sowat R385,9 miljard.

Godongwana sê die doeltreffendste manier om die regering in die stadium te befonds is om die belastingbasis te verbreed – met ander woorde om Suid-Afrikaners strenger en op meer maniere te belas.

Die minister sê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal dus voortgaan met die afdwinging van belastingvoldoening op gebiede soos skuldinvordering, die voorkoming van bedrog en die bekamping van onwettige handel.

Eerlike Suid-Afrikaners word ook gevra om hul samewerking te gee.

“Elke bykomende rand aan inkomste wat ingesamel word, is een rand minder wat ons moet leen.”

Godongwana sê dit is egter belangrik om daarop te wys dat Suid-Afrika se skuldvlakke en stygende skulddienskoste nie probleme op sigself is nie.

“Ons uitdaging is dat stygende koste van skulddienste besig is om belangrike maatskaplike besteding te verdring en ons ekonomie het nie vinnig genoeg gegroei om meer uitgawes of ons huidige skuldvlakke te onderhou nie.”

Godongwana voorspel ’n groei van 0,8% in reële BBP in 2023. Dit is 0,1 persentasiepunt laer as die groeiprojeksie wat Godongwana in Februarie tydens die begrotingsrede aangekondig het.

Groei word geprojekteer op gemiddeld 1,4% van 2024 tot 2026.

“Hierdie groeikoerse is nie voldoende om ons gewenste vlakke van ontwikkeling te bereik nie,” sê die minister van finansies.

Besteding is in die huidige boekjaar met R21 miljard verlaag. Verdere verlagings van R64 miljard in 2024‑’25 en R69 miljard in 2025‑’26 word voorgestel.

Die minister sê die regering het tog ’n “strategiese besluit” geneem om fondse toe te wys aan die sektore wat veral baie personeel benodig, onder meer gesondheid, onderwys en polisiedienste.

Bykomende befondsing van R24 miljard vanjaar en R74 miljard oor die mediumtermyn is dus toegewys om in 2023‑’24-loonverhogings in hierdie sektore te finansier.

Sowat R34 miljard sal ook bewillig word om die Covid-19- maatskaplike hulptoelaag van R350 per maand met nóg ’n jaar te verleng.

Lees die minister se volledige toespraak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Henker ·

Ja nee, die pap pot skraap al op die bodem.
Tipies, sal die arme belasting betaler net meer belas- voetsek

Anel ·

En wat van al die onwettiges wat geen belasting betaal en miljoene, indien nie miljarde die land uit stuur nie!! Verminder die regering se salarisse, veral hul verhogings, wat hulle in elke geval nie verdien nie. Dit beloop seker ‘n paar miljard ‘n jaar! En dan is daar baie ander maniere om geld te bespaar. Julle kan nie aanhou om die krimpende belastingbetalerspoel aan te hou hoër belas nie!! En stadk die R350.00 passela! Ek is moeg om my hard verdiende geld te gee vir ‘n klomp nutelose niks doenner. Net soos die kinder toelaes. Sit bepetkings daarop! Daar is nog baie meer wasrop gedpaar kan word. Gebruik net bietjie “commen sense”. En ek weet van ekonomie niks!!!

George ·

Die V.F. en D.A. is saam in die parliment saam met baie ander om die ding te stop . Hoekom doen hulle niks aan dit nie ? of wil almal maar net kyk hoe verval alles en sit daar om n selaris te kry ? onthou julle kinders en ons kinders gaan almal saam in die vervalle staat eendag moet sit en probeer n lewe maak .

Danie ·

Hulle sal niks doen nie want hulle is net daar om hulle sakke vol te stop. Hulle gee voor dat hul vir die mense omgee maar sit net soos n spul kraaie en kyk waar kan hul aas.

ENFM ·

Skuld is nooit ‘n goeie plan nie!
Die staat trek die strop al stywer om “eerlike Suid-Afrikaners” se nekke met al die skuld wat hulle maak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ou kommunis sukkel maar met die ekonomie.

Andries ·

ek lees die beroep wat op eerlike Suid afrikaners gedoen word – kan ons asb ‘n regering van eerlike Suid Afrikaners kry?

Danie ·

Ai maar hulle ry nou lekker op die Springbokke se rug. Begin met die bokke en sluit af met die bokke. Al kom julle hele regering vandag nog tot bekering sal ek nie saam met julle in die boot klim nie want een van julle gaan n gat in die romp slaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.