Ál meer wil onafhanklikheid vir WK hê

Die Kaapstad-stadsaal. (Foto: Maroela Media)

Bykans sewe uit tien Wes-Kaapse kiesers steun ʼn referendum vir onafhanklikheid, met sowat ses uit tien kiesers wat ʼn onafhanklike Wes-Kaap voorstaan.

Dit is ʼn aansienlike toename sedert 2020, toe slegs 47% van kiesers ten gunste van ʼn referendum was en net 36% onafhanklikheid voorgestaan het.

So toon die jongste peiling onder 1 080 respondente deur Victory Research, wat die opname namens die Cape Independence Advocacy Group (CIAG) gedoen het.

Volgens die CIAG is steun vir onafhanklikheid vir die eerste keer die hoogste onder bruin kiesers, met 77,5% van respondente wat dit ondersteun.

Die meerderheid van die kiesers meen hul lewensgehalte sal toeneem indien die Wes-Kaap onafhanklikheid verkry, met 80% van bruin kiesers en 72% van wit kiesers wat dié sentiment deel – slegs 39% van swart kiesers dink hulle sal beter af wees ná onafhanklikheidwording.

Altesaam 77% van Wes-Kaapse kiesers steun onafhanklikheid omdat hulle meen Suid-Afrika is oor die algemeen op ʼn afwaartse trajek. Altesaam 64% wil graag onafhanklikheid hê om meer beheer oor hul eie beleid te bekom ten einde ʼn beter lewe vir hulself te verkry.

In die lig van hierdie steun wil die CIAG saam met ander organisasies wat onafhanklikheid steun, vra dat ʼn referendum oor Wes-Kaapse onafhanklikheid op verkiesingsdag in 2024 gehou word.

Alan Winde, Wes-Kaapse DA-premier, word deur artikel 127(2)(f) van die Grondwet gemagtig om ʼn provinsiale referendum uit te roep.

Volgens Craig is daar egter ʼn debat oor hoe presies hierdie reg in werking gestel sou word, omdat die wet op referendums wat uitvoering hieraan moet gee, verouderd is. Die wet maak net eksplisiet voorsiening vir die president om ʼn referendum uit te roep, en nie vir premiers soos deur die Grondwet bepaal nie.

Die CIAG se regsadviseurs meen egter “Winde se vermoë om ʼn referendum uit te voer kan ‘ingelees’ word in die wet op referendums”. Indien dié interpretasie betwis word, “kan [die premier] bloot die president […] vra om sy grondwetlike oproep uit te voer” deur die referendum uit te roep.

Craig meen “ʼn Kaapse onafhanklikheidsreferendum op verkiesingsdag sal pragmaties én beginselvas wees” omdat die OVK reeds in die verkiesingsraamwerk voorsiening maak om ʼn referendumvraag tot die stembrief te voeg.

“Om daarna aan Wes-Kaapse kiesers die opsie te gee om enige vooruitsig op ʼn ANC-regering ná 2024 te vermy, deur vir hulle die referendum te gee waarvoor tweederdes van hulle vra, is die toonbeeld van demokrasie,” sluit Craig af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

houopkruip ·

…… ai, ai, die naiwiteit …….
Die manne in beheer van ons land sal mos nooit instem tot onafhanklikheid vir die wes-kaap nie.
Selfs federalisme is ‘n droom.
Verstaan julle mense die regerende party ?

houopkruip ·

Weet julle kapenaars hoeveel papiere , aksies, referendums, filosofiee, ens, ens, werd is vir die regerende party ?
Kyk na die res van Afrika.
Dream on.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die sleutel is om die regime iets in ruil te bied. Hulle bankbalanse is al wat tel. Hulle voel vere vir Suid Afrikaners. Ons hier sal iets uitwerk om die regime gelukkig te hou.

Rob ·

https://www.capeindependence.org/questions
Dis net onmoontlik solank jy glo dat die onmoontlik is, Sesessie in makliker as Federasie omdat ons nie die ANC regering se toestemming nodig het om af te stig (as die mense b.w.v referendum aangedui het dat hulle onafhanklik wil wees) nie. Vir Federalisme moet die regering gevra word (en tot nou toe het hulle die DA ‘n toffie gewys).

Republikein in die Wes Kaap ·

Die eerste fase is besig om te gebeur. Afwenteling van funksies is net die begin. Die regime se hande is vol met hul mislukte staat en het nie meer genoeg vingers en tone om die damwal se krake te stop nie.

Piet Snot ·

Ek sien daarna uit om my WesKaapse paspoort te gaan afhaal (sal sekerlik binne ʼn dag gereed wees!)

Samuel ·

Mag hierdie onafhanklikheid spoedig aanbreek. Ons kan nie meer onder ‘n nasionale ANC-regering voortgaan nie.

Henry ·

ek hoop hulle sluit port elizabeth of dan gebertes ook in so ver as oos london

Rob ·

Die aanvanklike referendum sal vir die WesKaap wees (die huidige provinsiale grense is die beginpunt).

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners was nog altyd ietwat verdeeld. Dis wat ons lewendig en aanpasbaar gehou het..

Manie ·

Kom nou Winde, laat die Winde van verandering waai en roep ‘n referendum uit.

Johan ·

Ek stem saam. n Onafhanklike Wes-Kaap kan n goeie ding wees met meer voordele as nadele. Die uitslag van n volledige referendum hieroor sal interessant wees en die volgende stap bepaal. Dis nou as die huidige onbevoegde regime dit sal toelaat.

Chris ·

Ek persoonlik dink dit sal nooit slaag nie.Daarvoor sal jaloerse ANC regering sorg.Aangesien dit blyk dat daar oor een saak gestem kan word, laat ons eerder stem oor of die doodstraf weer ingestel kan word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC val uitmekaar. Die land val uitmekaar. Die regime se mag hang aan ‘n draadtjie. Jy gee te veel krediet aan die beweging. Die “demokrasie” is net 30 jaar oud. Ons is nog vêr van die finale hoofstuk. Hier gaan nog baie gebeur.

annie ·

Dié idee darem lekker gekaap. Nou wil John (De Klerk2) net met alle mag president word. Aaitig! Julle besef nie hoeveel (werklose) swartmense, Maleiers en ander in Kaapland woon nie. Min sal met die Maanlandskap tevrede wees en die ANC en Malema sal nog nooit ooit die mooi plase en omgewing laat gaan nie. Die parlement word ook weer oorgebou. Afrikaners sal daar soos in die noorde tuis sit sonder werk.

capie ·

Annie, Hier gaan werk wees vir almal. Dis nie net ‘n onafhanklike Weskaap nie. Dit sal ‘n beleggingsoord vir menige sakemanne wees vir fabrieke ens. As jy wil werk, sal daar werk hier wees. Soos die sukses van die Weskaap vir die ander provinsies duidelik word sal hulle ook hierby wil aansluit. Dit is verseker.

annie ·

Weet jy hoe lank dit neem om ‘n huis te bou en ‘n fabriek en ‘n skool te bou en hoeveel dit kos? ‘n Droom kos niks.

Republikein in die Wes Kaap ·

Vinniger as wat ‘n fabriek, huis en skool onder die ANC regime afbrand.

Republikein in die Wes Kaap ·

John is van KZN. Hy kan dáár veg vir onafhanklikheid.

annie ·

Sien, julle droom. Die DA gaan julle beheer en jul sal van John se goedgunstige meerderwaardigheid afhanklik wees… Vergeet dit ook. Die aanslag van die ANC sal dodelik wees! Pak solank. Noord is weer op hande.

Republikein in die Wes Kaap ·

John vs Ramaphosa. Wie is die beste? Die noorde is ‘n rommelhoop. Dis nie ‘n opsie nie.

annie ·

Dieselfde mense wat so voorbok was met die oorgee van die regering in 1994 is weer voor in die koor met die terug trek na waar alles begin het. Alle dom Afrikaners wat nou wil harrakiri, pak op. Waar is waens te koop teen afslag vir afslag. Slaapplek is nodig want gastehuise is vol en ‘n lappie staanplek gaan skaars wees. ‘n Opwindende laaste deel van die Afrikaner geskiedenis wat, tensy jul na Indië wil reis, ons is binnekort baaaaie welkom daar.

Boontjie ·

Die idee klink vir my wonderlik, en dit sal goed wees, maar ek dink net aan al die mense wat in ander dele van SA bly wat ook nie onder die ANC wil wees nie. Wat nou van hulle? Maak nie saak watter rigting SA vat nie, net God kan ons red.

Republikein in die Wes Kaap ·

Eenvoudig. Mense in ander streke wat teen die ANC is kan mos wegbreek en afstig. Onthou, SA se land oppervlakte is groter as die hele Wes-Europa saam. In Europa is net Rusland groter as SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.