Als glo nie pluis met Welkom-vrou se verdwyning

Caren Bezuidenhout. Foto: Facebook

Die Vrystaatse polisie sê hulle werk nie met gerugte nie, maar sal wel elke leidraad en wenk opvolg wat hulle kry in hul soeke na die vermiste Caren Bezuidenhout van Welkom.

“Ons soek nog na die dame,” het kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder, Woensdag aan Maroela Media gesê. “Ons is bewus van die gerugte dat sy drie weke gelede beweer het haar man is oorlede, maar op die oomblik volg ons net alles op.”

Thakeng het Dinsdag gesê Caren het omstreeks 06:55 Maandag vir haar man, Daniël Stephanus, gesê sy gaan hul kind by die skool aflaai. Hy het verder geslaap, maar toe hy omstreeks 09:30 wakker word, het hy besef sy vrou is nog nie tuis nie.

Hy het ʼn opsporingsmaatskappy laat weet hul rooi Toyota-bakkie is nie in die motorhuis nie. Hulle het hom ingelig die bakkie staan by die Harmony-vulstasie op Virginia, sowat 15 km van Welkom af.

“Hy is ingelig dat die bakkie 07:41 by die vulstasie ingery het. Bezuidenhout het na die vulstasie gery waar hy die bakkie gevind het met een van die vensters op ʼn skrefie oop en die sleutels nog in die bakkie.”

Thakeng het gesê van Caren was daar geen teken nie. “Hy het ʼn stuk draad gebruik om die bakkie oop te maak en toe daarmee gery om hul kind by die skool te gaan haal.”

Volgens Thakeng het Bezuidenhout glo talle kere sonder welslae met sy vrou kontak op haar selfoon probeer maak. Hy het sy skoonma ingelig en sy kon ondanks talle pogings ook nie haar dogter in die hande kry nie. Bezuidenhout het sy vrou by die Welkom-polisiestasie as vermis aangemeld.

Mense, sy’t gelieg dat haar man dood is omdat sy iemand vir wie sy geld moes betaal, aan ’n lyntjie gehou het.

Sosialemediagebruikers maak intussen wilde aantygings teen die egpaar. “Mense, sy’t gelieg dat haar man dood is omdat sy iemand vir wie sy geld moes betaal, aan ’n lyntjie gehou het,” beweer ’n gebruiker. “As jy my vra, het die man nie [eens] geweet hy’s suppose [sic] om dood te wees nie.”

Nog ‘n Facebook-gebruiker vra mense moet eers wag tot Caren terugkom en daar uitgevind kan word wat gebeur het, “voor almal haar stenig”. Hy skryf: “As sy verkeerd gedoen het, dan moet sy haar tyd voor die hof kry. Maar vir nou is daar ’n kind wat nie weet waar sy ma is nie. Bietjie menslikheid sal ver gaan.”

Thakeng sê die polisie het ʼn uitgebreide ondersoek na Caren se verdwyning begin. “Ons volg elke leidraad op om vas te stel wie hierdie Caren Bezuidenhout nou eintlik is. Eers nadat ons alles opgevolg het, sal ons ons bevindings bekend kan maak.”

Enigiemand met inligting oor waar Caren haar moontlik kan bevind, word versoek om kapt. Yolanda Hulme by 057 391 6012 of 082 372 0423 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Neels ·

Ons sal maar wag en sien watter slang kruip uit die gras uit. Hierdie hele storie van die begin af ruik maar na n rot. Sekere goed en handeling maak nie sin nie. Hoop maar daar is n paar skerp speurders op die saak. Is dit ook dalk n zak vallentine geval ?

Santjie ·

Ek weet nie. As die bakkie nou gekry is, wag jy dan nie vir die polisie om ten minste vingerafdrukke te vat nie? Of hoe werk dit? Ek is ernstig en sal graag wil weet hoe werk dit. Kan/mag jy net die bakkie sommer so vat om dan nou wat ook al te gaan doen?

Corné ·

Kom maar terug Caren sou dit ń Cry Wolf geval is. Polisie gaan jou nou nog aankla ook.
Sou sy werklik weg wees, hoop ek sy word gou en lewend gevind.

VanAfrika ·

Begin eers by die mense vir wie sy geld skuld. Hulle weet dalk iets???

Snaaks ·

Dis snaaks, met die hijack geval is daar byna dadelik videos beskikbaar gewees van die skietery. Hoekom kan hier nie ook na die videos van die vulstasie gekyk word nie.
Meeste vulstasies het kameras. dalk is sy saam met iemand daar weg en als haarfyn beplan om weg te kom van die skuldeisers. Als klink baie verdag in hierdie storie

PJN ·

Haar man het 9h30 wakker geword. OK wel Welkom is ‘n myndorp dalk het hy nagskof op die myn gewerk…………….. Arme man kry ook nie eers ‘n bietjie rus in voor die volgende skof nie……

Hannelie ·

Dit met my ook opgeval dat haar man eers 09:30 wakker geword het. Het hy nagskof gewerk? Dit klop net nie. Maar die waarheid het mos ‘n manier om uit te kom. Ons bid net dat die vrou ongeskonde is.

Nita ·

Mmm lyk my daar is n groot gesmokkel met goud aan die gang,in Welkom. Bv ander dame waarvoor goud ge-eis was, as losprys. Die man wat sommer so goedsmoeds doodgeskiet is in n parkeer terrein. Die dame wat so tussen neus en ore verdwyn. Miskien hang al hierdie gebeure saam?

ChristaT ·

Ai tog hier is te veel mense wat sit en spekuleer . Van nuuskierigheid is the tronke vol en die kerke leeg.

Tyd vir wannabe CSI agente om af te tree.

VanAfrika ·

As die mense dan so nuuskierig is hoekom is dit dan in die koerant? Is dit om die mense te verlei om nuuskierig te wees?

Mariaan ·

Ek voel jammer vir die kind….wat moet nie als deur sy koppie gaan nie…sou hierdie een of ander plan wees…nee man…mens se kinders verdien gemoedsrus….hoop sy is ok

Staak saam ·

Ek se net, in die flieks word daar motors omgeruil by motorhawes, in SA wys statestieke dat motors verlate in die veld gelos word en baie mal uitgebrand word.
Motorhawe is n redelike veilige plek om jou motor te los want daar is altyd joggies aan diens.
N skelm wat die sleutels binne die motor toesluit, baie gerieflik vir die eienaar, geen skade!

Hierdie een stink, as daai vrou se lewe nooit in gevaar was nie dan is dit nou want net n lyk sal nou ontvoering bewys.
Ek hoop hulle kry haar gou en ek hoop die man is heel onskuldig.

Sandy ·

Ok, hier is iets nie pluis nie. Hy het gery na die vulstasie en die bakkie daar gekry met die sleutels in en die venster op ‘n skreef oop.

Toe maak hy die bakkie oop met ‘n draad, en gebruik die bakkie om die kind by die skool te gaan haal.

Met watter kar het hy dan tot by die garage gery?

En as hy dadelik onraad vermoed het, hoekom het hy aan die bakkie gevat voor die polisie daarna kon kyk vir bv vinger afdrukke ens.

En die vrou wat beweer haar man is dood?

Baie weird saak die.

Hoop hulle kry die vrou en dat sy ok is.

Anoniem ·

Ek weet die eerste vrou wat vermis is het te doen met die Zama Zamas. Haar man afgepers met losprys omdat hy by goudplant werk. Gelukig kon hulle haar veilig terug besorg. En dat hulle wel die mense gevang het. Die kaping by die winkel sentrum is nie kaping gewees nie kan duidelik sien dit was n huur moord. En glo dat die besonderhede ook gaan ly na Zama Zama wat betrokke is met die moord. Hulle het ook paar maande terug myn bestuueder dood geskiet van Welkom. Vir die vrou wat weg geraak het by Garage wel ek dink dit is n raaisel. Net jammer dat haar kind al die trama moet ervaar. Hoop hulle kry haar dat die kind berusting kan kry. Maar as jy na sosial media kyk en selfs die berug is daar verseker iets nie pluis nie..hoop dit kan vinnig opgelos word terwille van die kind.

Carla ·

Help en bid eerder vir die vrou, oordeel is darem maar lekker as jy nie bereid is om die nood en menslikheid raak te sien nie. Ek bid dat die vrou veilig terug huis toe gaan en haar lewe verbeter

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.