Alternatiewe begroting: Dís wat ekonomie benodig

begroting

(Foto: Maroela Media)

Die DA het sy gebruiklike alternatiewe begroting voorgelê met die voortslepende kragkrisis, die bestuur van groeiende staatskuld, steun aan kwesbare Suid-Afrikaners en die versterking van instellings om korrupsie te bestry hoog op die amptelike opposisie se sakelys.

“Ons ekonomie is kniediep in die moeilikheid – ʼn regstreekse gevolg van die regering se mislukte ekonomiese beleid, veral sy mislukte beleid oor swart ekonomiese bemagtiging, sy pogings om ʼn wanfunksionele staat in die middel van ons ekonomie te plaas en die rampspoedige kaderontplooiingsbeleid,” sê dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies.

Enoch Godongwana, minister van finansies, maak Woensdag sy begroting bekend, maar George sê die ANC-regering het tot dusver ʼn gebrek aan begrip van die bestuur van die land se ekonomie getoon en moet dringend beleidshervorming instel om die ekonomie weer op koers te kry.

In sy alternatiewe begroting fokus die DA veral op maniere om volhoubare groei moontlik te maak, ʼn hupstoot aan die energiesektor en praktiese oplossings om beurtkrag te beëindig, die stabilisering van die fiskale ruimte en ʼn vermindering van staatskuld, steun aan kwesbare Suid-Afrikaners en die versterking van instellings wat korrupsie beveg.

Verminder staatskuld

Enoch Godongwana, minister van finansies, lewer Woensdag sy begrotingsrede. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

George sê die minister moet ʼn ekonomiese beleidsraamwerk voorsien wat fokus op die vermindering van staatskuld, terwyl groei deur verantwoordelike besteding aangemoedig word.

Suid-Afrika bestee gemiddeld 20 sent uit elke rand aan die terugbetaling van skuld en dit is toenemend besig om beskikbare geld vir die lewering van selfs basiese dienste op te vreet en die begrotings wat aan byvoorbeeld polisiëring, gesondheid en basiese onderwys toegewys kan word, weg te kalwe.

George sê die DA se ekonomiese beleidsraamwerk sal, wanneer dit ingestel word, die vermindering van staatskuld versnel en Suid-Afrika se fiskale posisie versterk.

“Dit sal gedoen word deur die skep van robuuste ekonomiese groei wat die voorspelde ekonomiese koers van die huidige regering verbysteek.”

Die party meen die 2023-begroting moet gegrond wees op ʼn raamwerk van fiskale versigtigheid wat die vermindering van skuld prioritiseer, terwyl dit ook ekonomiese groei aanwakker en werk skep.

“Ondanks herhaalde pogings kon die nasionale regering nog nie sy eie fiskale teikens bereik nie. Dit benadruk die behoefte aan ʼn meer omvattende en samehorige benadering tot begrotingsbestuur,” sê George.

‘Ja’ vir sonpanele (en ‘nee’ vir nuwe elektrisiteitsminister)

(Argieffoto: ExcoalSolar/Verskaf)

Die DA het ook opnuut gevra vir die privatisering van Eskom en die oopstel van die energiesektor aan onafhanklike kragprodusente om voortslepende beurtkrag te stuit.

“Wie sou belangstel om in Eskom te belê? Indien daar werklike politieke wil is en as die ekonomie en die mark werklik glo daar is ʼn wil om dit reg te ruk, is daar baie geld beskikbaar; ek het geen twyfel daaroor nie,” sê George.

Suid-Afrika is op sigself al ʼn reusemark en het boonop toegang tot die res van die vasteland. Beleggers bly egter hier weg omdat die regering se regulasies hulle afskrik, sê George.

Die DA meen ook Eskom is die verpersoonliking van die regering se mislukte sentraliseringsbeleid.

Die instelling se onvermoë om krag te voorsien kos die land ʼn geraamde R1,5 miljard tot R4 miljard per dag.

“Die beleërde staatsbeheerde ondernemingsektor is die grootste hindernis vir die verwesenliking van voortreflike ekonomiese groei in Suid-Afrika. Die syfers wys dat rekordhoë kragonderbrekings Suid-Afrika verlede jaar meer as R1 biljoen in inkomste- en produksieverliese gekos het.”

Die DA stel voor dat bykomende polisiekapasiteit beskikbaar gestel word om sabotasie en misdaad by Eskom te stuit, dat die regulatoriese kostelas verminder word en Suid-Afrikaners belastingaansporing kry om na alternatiewe krag oor te skakel.

George sê die inwerkingstelling van semi-permanente beurtkrag het baie Suid-Afrikaners reeds aangespoor om dit te doen en verdere aansporing vir huishoudings, en veral kleiner sakeondernemings, kan dadelik help om die uitwerking van beurtkrag te verminder.

Een van die voorstelle sluit in belastingterugbetalings in die vorm van ʼn 100%-aftrekking vir die koste van geïnstalleerde sonkragstelstelsels (met ʼn R100 000-perk). Deelnemers sal dan die installering finansier en die aftrekking van hul inkomstebelasting terugeis.

Die koste hiervan beloop sowat R4 miljard oor drie jaar en sal verbruik volgens die DA met minstens 480 MW verminder, selfs al neem nie almal wat kan daaraan deel nie.

Die DA het ook weer kapsie gemaak teen die aanstelling van ʼn nuwe minister van elektrisiteit.

George sê die departement gaan belastingbetalers nog ʼn fortuin kos, sonder om die kragprobleem op te los.

Hulp aan kwesbare SA’ners

(Argieffoto: SA Poskantoor)

Volgens die DA is dit veral die kwesbaarste Suid-Afrikaners wat die grootste prys vir die regering se mislukkende beleid betaal.

Die party stel in sy alternatiewe begroting voor dat ʼn voorwaardelike inkomstetoelaag aan dié kwesbare groep verskaf en gefinansier word deur versnelde ekonomiese groei en die invordering van belasting. “Die regering wil dit voorhou as die een of die ander. Indien hy ʼn toelaag betaal, moet hy belasting – veral BTW – verhoog.”

Dit is onnodig, volgens George, en indien die regering sy geld beter bestuur en korrupsie nek omdraai, is die betaling van ʼn inkomstetoelaag wel bekostigbaar.

“Dit is moontlik om die koers van ons ekonomie te verander, mits ons die regte keuses maak. Die geleentheid is daar en moet bloot aangegryp word,” sê George.

“Ons moet net optree terwyl dit nog moontlik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Skrap seb en alle diskriminernde wette oor ras,verseker eiendomsreg en die ekonomie sal self regkom.

Andries ·

Wat is meer, 1 Biljoen of 1 miljard? Verlede jaar 1 biljoen verloor aan inkomste en tans 1 tot 4 miljard per dag? My kop is te klein vir hierdie astronomiese bedrae wat kleingeld is vir ons regering….

Andries ·

Volgens google is 1 miljard en 1 biljoen dieselfde. Altwee is gelykstaande aan n duisend miljoen, oftewel 1 000 000 000, 00. Hoe kon ons laasjaar oor die hele jaar dieselfde bedrag verloor het as wat ons tans per dag verloor? My kop is weereens te klein

De Bok ·

Afrikaans gebruik die lang-skaal om biljoene en miljarde aan te dui. D.w.s ‘n miljard is ‘n duisend miljoen, ‘n biljoen ‘n duisend miljard, ‘n biljard is ‘n duisend biljoen, ‘n triljoen is ‘n duisend biljard, ens.
Engels gebruik die kort skaal. D.w.s ‘n billion is 1000 million, en trillion is 1000 billion.
Jy kan meer daaroor oplees deur “Long and short scale” te gaan soek op Google.

Wicus ·

Soos ek verstaan: miljoen het 6 nulle, biljoen 12 nulle (bi = twee, dus 2 keer 6 nulle, triljoen 18 nulle tri = drie, dus 3 keer 6 nulle. Miljard vul die gaping tussen miljoen en biljoen, dis nou in Afrikaans. Amerikaners sien miljard anders.

Republikein in die Wes Kaap ·

Reg Wicus. Afrikaanssprekendes verwar soms billion met biljoen, en trillion met triljoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.