Amptelike versoek vir Gupta-uitlewering uitgereik

Ajay en Atul Gupta. (Foto: ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Maandag amptelik ʼn versoek gerig aan die owerhede in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) vir die uitlewering van Atul en Rajesh Gupta.

Suid-Afrika het ingevolge ʼn verdrag wat hy in 2019 met die VAE onderteken het, 60 dae tyd gehad om ʼn formele aansoek vir uitlewering in te dien. Dit is verlede maand reeds gedoen.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê ʼn voorlopige verhoordatum van Januarie 2023 is vasgestel vir die saak teen die Gupta-broers.

Die Guptas word daarvan beskuldig dat hulle sentrale figure in die talle voorvalle van staatskaping in Suid-Afrika was. Hulle het in 2018 uit die land gevlug, nadat die Zondo-kommissie met sy ondersoek na die talle bewerings van korrupsie begin het.

Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, het tydens die mediakonferensie gesê hoewel die uitleweringsproses vir die Gupta-broers nog etlike maande kan duur, is die versoek vir uitlewering ʼn belangrike mylpaal in die bekamping van korrupsie.

Batohi het die aansoek namens Suid-Afrika in Engels en Arabies ingedien.

Die aansoek kan ingevolge die uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VAE toegestaan word, óf dit kan gedoen word ingevolge die Verenigde Nasies se Konvensie teen Korrupsie – of albei, sê Batohi.

“Dit bevestig weer die NVG se voorneme om die regsverteenwoordiger van die mense te wees en gemeenskaplike geregtigheid vir ons land te soek.”

Volgens Batohi het die Guptas in Doebai aansoek om borgtog gedoen, maar dit is van die hand gewys.

“Namate die proses ontvou en die uitleweringsaansoek in die VAE-howe aangehoor word, sal die NVG voortgaan om saam te werk en sy eweknieë in die VAE te ondersteun om te verseker dat die Gupta-broers uitgelewer word.”

Ander uitleweringsake

Lamola sê die uitleweringsaak van die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, is ook aangehoor. Dit volg nadat die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) in Desember 2020 gevra het vir die uitlewering van die egpaar.

Die twee, asook hul medebeskuldigdes, staan tereg op aanklagte van bedrog ten bedrae van sowat R102 miljoen.

Lamola het ook bevestig dat ʼn “versoek om wedersydse regsbystand” van die VSA ontvang is wat verband hou met bewerings van bedrog en korrupsie tydens die toekenning van sekere tenders, en onbehoorlike betalings wat gemaak is met betrekking tot die Kusile-kragsentrale.

Die versoek is in Julie 2020 goedgekeur en na die NVG en Interpol verwys. Die ondersoeke daarna duur voort.

Lamola het ook terugvoer gegee oor die uitlewering van die voormalige Mosambiekse minister van finansies, Emmanuel Chang. Die besluit om Chang aan Mosambiek uit te lewer is op 17 Augustus 2021 geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

domheks ·

Laat die skelms kom en die geldjies terug betaal. Verkoop die luukse huise!

Di ·

Die DIEWE hoort in die TRONK! Le ook beslag op al hulle bates tot elke pennie terug betaal is. Gedink hulle kan wegkom deur terug te slyp DUBAI toe

AJ ·

Geen moeite word ontsien om die Indiërs in Dubai te vervolg nie MAAR die Zoeloe hier naby in Nkandla word nie vervolg nie?

Onthou Shabir Shaik is destyds ook suksesvol vervolg maar die prime evil loop steeds vry?

sopbeen ·

Ek sal ook graag wil weet hoe lyk die fasiliteit waar hul in aanhouding gehou word.

Oosie ·

Dink daar gaan ñ paar name uitkom wie alger betrokke is.. sal moet sien of die wel gaan plaasvind..

Yvonne ·

Mooi so…..nou wonder ek wat van die wat in ons land aan die staatskaping deelgeneem het…..trap hulle eerste vas…..niks is meer geloofwaardig nie….of ek is te skepties

mattk ·

En wanneer hulle hier verhoor word gaan hulle seker nog borg ook kry, of soos hul “nefie” (Shabir Shaik) aansoek doen om mediese parool en dan nog jare lank gelukkig en gesond rondloop.

Jack ·

Gaan seker met SAAirforce op waterkloof land. Nog twintig jaar later en daar sal niks van die dikgevrete skelms kom nie.

Wondermaarnet ·

En waar gaan hulle aangehou word? Seker in ‘n 5 ster hotel want die arme bloedjies sal dit nooit maak in ‘n tronk nie of alternatiewelik sal hulle in die hospitaal vleuel aangehou word en zuma se taktiek inspan om te speel vir tyd.

Eragrostis ·

Maar nou praat die Smamila Batohi mos groot nonsens. As die NVG, volgens haar, die regsverteenwoordiger van die mense is om geregtigheid te laat seëvier, waarom het hulle eerstens so lank geneem om die klagstaat in te dien by Dubai se owerhede? Tweedens waarom het die NVG nie leiding geneem en vir Omar al-Bashir in 2015 gearresteer met sy besoek aan Suid-Afrika nie? Hou op om die intelligensie van die publiek te onderskat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.