ANA is gʼn ʼn front vir die SSA, sê nuusagentskap

Die African News Agency (ANA) is nie opgerig om ʼn front te wees vir die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) nie, het Vasantha Angamuthu, uitvoerende hoof van ANA, Dinsdag gesê.

Dit volg ná onthullings vroeër tydens die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Die waarnemende direkteur-generaal van staatsveiligheid, Loyiso Jafta, het Dinsdag getuienis van oudminister Sydney Mufamadi bevestig dat die nuusagentskap African News Agency deur die spioenasie-agentskappe “gemanipuleer” is. Mufamadi het gister getuig dat die SSA oor ʼn tydperk van agt maande R20 miljoen aan die African News Agency betaal het vir “dienste gelewer”.

Angamuthu het Dinsdag reageer op plasings op Twitter en berigte op mededingermediaplatforms oor dié gerugte.

Sy het verduidelik ANA is opgerig in die dae ná die South African Press Association (Sapa) sy deure toegemaak het om die gaping te vul en geposisioneer te word as ʼn nuusagentskap wat Afrika-inhoud aan Afrika en die res van die wêreld verskaf. Sapa se bates, insluitend ʼn argief, is deur die Sekunjalo Group oorgekoop.

Met groot beleggings deur Sekunjalo het ANA in 2015 tot stand gekom as ʼn nuuskamer waar talle Sapa-personeellede kon aanbly toe hulle moontlik hul werk sou verloor. Angamuthu is in Januarie 2020 as uitvoerende hoof aangewys.

Mufamadi het Maandag voor die Zondo-kommissie verwys na Project Wave wat daarop gefokus het “om die plaaslike en oorsese media te infiltreer en te beïnvloed”, glo in ʼn poging om “slegte publisiteit vir die land, voormalige pres. Jacob Zuma en die SSA teen te staan”.

Vasantha Angamuthu, uitvoerende hoof van ANA (Foto: Vasantha Angamuthu/Facebook)

Angamuthu het bevestig dat ANA in 2016/2017 ʼn kontrak met die SSA aangegaan het om multimedia-opleiding te verskaf vir SSA-analiste wat oor Afrika heen werk en om sy platforms, spesifiek die African Independent-koerant te gebruik om positiewe berigte oor Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse regering te publiseer. Maar, het sy gesê, ANA is nie bewus van enige onderduimse motief deur die SSA nie en het nie deelgeneem aan of sou hoegenaamd enige besigheid goedgekeur het buite sy fokus nie – om groei en ontwikkeling te verseker op die Afrika-kontinent deur die gebruik van media.

“ANA se vermoëns, bekwaamheid en voetspoor op die kontinent is wat moontlik daartoe gelei het dat die senior leierskap van die SSA ons genader het om ʼn kontrak aan te gaan om multimedia-opleiding te verskaf aan van hul beamptes – insluitend analiste en persone wat internskappe doen. Toe ons daardie ooreenkoms met die SSA aangegaan het, was ons nie bewus van enige onderduimse motiewe deur die SSA nie. As ons bewus was van só motief, sou ons beslis nie enige ooreenkoms aangegaan het nie.”

Oudminister Mufamadi se uitlatings was nuus vir haar en haar span. Sy het bygevoeg die SSA, insluitend verskeie staatsdepartemente, is kliënte van ANA Syndication en hulle betaal om nuus van die agentskap te ontvang.

ANA het in 2018 sy buro’s in verskeie Afrika-lande gesluit en sy sakemodel uitgebrei om op die African Partner Network te fokus sodat klein Afrika-mediahuise ʼn platform kon kry om hul inhoud aan die res van die wêreld te verkoop of te versprei.

“Die vennootskap tussen die ANA en die SSA moet binne konteks beskou word. Ek is geskok oor die gerugte wat deur sommige van ons mededingers oorgedra word. Ons sal nie betrokke raak in faksie-oorloë in die regering of die regerende party nie,” het Angamuthu benadruk.

“Sedert ek by ANA aangesluit het, was my primêre fokus nog altyd om ʼn wêreldgehalte multimedia nuusdiens te verskaf aan alle kliënte in die land en op die kontinent. Ondanks pogings om die beeld en reputasie van ANA en sy personeel skade te berokken, bly ons vasbeslote om voort te gaan met ons missie vir Afrikane om die narratief oor Afrika te besit en unieke en oorspronklike multimedia joernalistiek te verskaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

quartus ·

Sy laat my nogal baie dink aan josef goebels,,dolfie se regterhand en minister van propoganda….en ek haal aan…deur positiewe nuus oor suid afrika en die suid afrikaanse regering te publiseer…

Hennie J ·

Dit is darem insiggewend hoe vinnig hulle backpedal. Ook niks nuuts nie….Citizen!

Kosie ·

So, om te wys hoe jy jou distansieer van die SSA, gaan julle die geldjies terug betaal? Of is dit weer ‘n geval van “ja, maar”; ja ons is uitgevang, maar ons is eintlik die slagoffers. Hoeveel valse berigte het julle gepubliseer vir die SSA. Hoeveel mense se lewens het julle nie direk negatief beïnvloed, omdat julle nuus te koop is aan die hoogste bieër nie? Die hoofstroom media kla gereeld dat mense hulle nie meer glo nie, maar dan kom sulke inligting uit en dan wonder hulle hoekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.