ANC dien klag van bedrog, korrupsie in teen Mashaba

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg. (Foto: ANA)

Die ANC se Johannesburg-tak het Vrydagoggend ʼn klag van bedrog en korrupsie teen Herman Mashaba, dié stad se burgemeester, by die Hillbrow-polisiestasie ingedien oor ʼn beweerde onwettige toekenning van ʼn R1,2 miljard-kontrak aan Afrirent, ʼn vlootbestuursonderneming.

Die klag is ook teen Ntombi Khumalo, ʼn lid van die stad se burgemeesterskomitee, en ʼn aantal senior amptenare aanhangig gemaak.

Die ANC beweer die kontrak is aan Afrirent toegeken nadat die Stad van Johannesburg sy oop en deursigtige tenderproses vir ʼn nuwe vlootbestuursonderneming laat vaar het.

Afrirent is reeds kwytgeskeld tydens ʼn forensiese ondersoek wat die Stad van Johannesburg vroeër vanjaar van stapel gestuur het. Die bevindings van die ondersoek is in Junie bekendgestel.

Die munisipaliteit het na ʼn alternatiewe diensverskaffer begin soek nadat sy kontrak met Avis se vlootbestuur gekanselleer is. Dié besluit het gevolg ná ʼn verslag van die SM Xulu Konsultante-ouditeurs, waarin onreëlmatighede tydens die verkrygingsproses van dié kontrak ontbloot is.

Die munisipaliteit het toe ʼn 30-maande-kontrak met Afrirent aangegaan deur gebruik te maak van ʼn regulasie 32-proses. Hierdie regulasie behels dat sekere departemente in die regering toegelaat word om ʼn diensverskaffer aan te stel wat reeds aan ʼn ander regeringsdepartement of instansie dienste verskaf, sonder om ʼn volledige mededingende tenderproses uit te voer.

Die ANC voer egter aan dat Mashaba en ander amptenare die voorstelle van die stad se aanbodkomitee geïgnoreer en steeds voortgegaan het met die proses. Hulle grond hierdie bewering op die bevindings van “ondersoekende joernaliste”.

Die ANC voer verder aan die proses mag slegs gebruik word wanneer dit aantoonbare afslag of voordele vir die munisipaliteit of munisipale entiteit inhou.

“Ondanks opvallende gebreke in die aard, grootte en prys van die twee kontrakte, het die stad steeds besluit om regulasie 32 onwettig toe te pas om die kontrak aan Afrirent toe te ken. Die kontrak tussen die munisipaliteit en die diensverskaffer moet presies dieselfde as die vorige kontrak wees,” het die ANC in ʼn verklaring verduidelik.

In die geval van dié kontrak beweer die ANC dat die Johannesburg-munisipaliteit die kontrak wat deur die Mogale- plaaslike munisipaliteit met Afrirent aangegaan is, in werking moes stel. “Die twee kontrakte kan nie met mekaar vergelyk word nie,” het die party aangevoer.

Die Mogale-kontrak het voorsiening gemaak vir die verskaffing van 145 voertuie, met ʼn kontrakwaarde van R100 miljoen. Dit is op ʼn finansiële huurkontrakbasis gesluit. Die R1,3 miljard-Afrirent-kontrak is egter vir ʼn vloot van 2 600 voertuie gesluit, volgens ʼn volle onderhoudhuurkontrak wat finansiering, bestuur en ondersteuning insluit.

“Dit is duidelik dat die Stad van Johannesburg en die stad se bestuurder nie aan regulasie 32 se vereistes voldoen het nie, wat die kontrak onwettig en ongeldig maak. Ons vertrou dat die owerhede spoedig sal optree om die plundering van staatsgeld én die geld van Johannesburgse inwoners stop te sit. Ons vra ook die ouditeur-generaal om ondersoek in te stel,” het die ANC gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Irma ·

Oooo genade, en die ANC se bestuur is onbesproke. Wat hulle nie alles probeer om by die geldkas uit te kom nie.

Jerry ·

Dit sal ook n bedekte seen wees vir die DA indien die ANC namens die DA van Mashaba ontslae raak. Mashaba het net soos Maimane nie net n korrupsie probleem nie, maar getuig van sy uitlatings en doen en late dat hy ook n rasgedrewe agenda het!

Riaan ·

Ek kan dit nie glo nie, vir die heel eerste keer stem ek saam met Jerry oor iets!

Souskluitjie ·

Mashaba vir president ek kan nie gekerm van die ANC verduur nie Herman Mashaba doen en praat nie net!

K P ·

Laat die man met sy rasgedrewe ideologie gaan so gou moontlik

David Potgieter ·

Hierdie kaders praat van miljarde rande waar ons gewone mense van ‘n tien rand praat!

Schalk ·

Dis nou snaaks ANC=KORUPSIE.Snaaks dat hul iemand anders kan beskuldig daarvan.Hulle is die leermeesters.Ace,Jacob,Selebi.to mention a few I thought they had unversity .In my life time this is worse than a Idi or Kenyatta maybe these deplorable leeches learn something in the process be it how to ruin the country .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.