ANC ‘gewond, nie verslaan’

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

ʼn Meningspeiling van die Social Research Foundation (SRF) oor die politieke stand van sake in Suid-Afrika wys dat die ANC in hierdie stadium gewond, maar nog nie verslaan is nie. Dit wys ook dat die ANC stedelike Suid-Afrika aan opposisiepartye afgestaan het en toenemend ʼn landelike party word.

Die SRF, onder leiding van politieke ontleder en strategiese raadgewer dr. Frans Cronjé, het die peiling in Julie vanjaar landwyd onder 3 204 mense gedoen en het ʼn foutspeling van 1,7%.

Die opname het onder meer bevind:

  • Gauteng is verlore vir die ANC en gaan waarskynlik nes die Wes-Kaap ʼn vesting vir die opposisie word.
  • KwaZulu-Natal, wat die ekonomies invloedryke hawestad Durban insluit, gaan waarskynlik hierdie patroon volg.
  • Die Noord-Kaap, met sy unieke demografie, hang in die politieke weegskaal.

Die SRF se navorsing wys dat die oorblywende provinsies vir minstens nog ʼn verkiesingsiklus onder ANC-beheer gaan bly. Die implikasie hiervan is, ondanks die algehele verkiesingsuitslae in 2024, dat Suid-Afrika se ekonomiese sentrums waarskynlik onder die beheer van ander politieke rolspelers gaan wees as dié wat die meerderheid van die landelike hartland gaan beheer.

Die SRF het ook bevind onder groot partye (diegene wat na verwagting meer as 5% van steun in die 2024-verkiesing gaan verwerf), is die ANC en EFF raseksklusief in dié opsig dat hul ondersteuners oorwegend uit een rasgroep kom.

Die DA is rasgewys die mees diverse party in die land en nie meer as ʼn derde van sy ondersteuners kom uit ʼn enkele rasgroep nie.

Luidens die peiling kan Suid-Afrika se politieke toekoms een word waar “betreklik rasgeïntegreerde, meer stedelike, ietwat beter opgeleide, toenemend middelklas- en nogal kosmopolitaanse politieke partye Suid-Afrika se ekonomiese sentrums beheer”, terwyl raseksklusiewe partye kiesers uit laer sosio-ekonomiese landelike gebiede kan lok.

Só lyk steun

Die peiling het bevind die ANC het in hierdie stadium steun van 46,9% onder geregistreerde kiesers; steun vir die DA onder geregistreerde kiesers staan op 25,1% en dié vir die EFF op 12,8%.

Indien ʼn verkiesing binnekort gehou word, sal die ANC naastenby 50% van stemme op hom verenig (indien 66% van stemgeregtigde kiesers hul kruisies trek). Indien 56% van kiesers stem, sal die ANC sowat 52% van stemme kry. Die DA sal volgens die peiling sowat ʼn kwart van stemme lok, met die EFF op sowat 11% en nuwelingparty Action SA op naastenby 5%.

Cronjé sê indien Suid-Afrika se breë opposisie saamtrek, sal die ANC se vooruitsigte by die stembus al hoe droewiger lyk.

“ʼn ANC-kieser is nie meer ʼn ANC-ondersteuner nie. Hulle besef sake loop nie in die regte rigting nie.”

Hy beskryf dit as soortgelyk aan ʼn egskeiding, met ANC-kiesers wat toenemend voel die verhouding werk nie meer vir hulle nie en besef dit is nie meer die beste opsie nie.

“Dan beweeg hulle weg, dan beweeg hulle weer bietjie nader aan die ANC,” sê Cronjé. “Dan bekommer hulle hul weer oor wat sal gebeur sonder hul lewensmaat.”

Volgens hom kan die ANC selfs verdere steun verloor indien politieke partye vir hul kiesers wys dat hulle kan saamwerk om mense se maatskaplik-ekonomiese omstandighede te verbeter. “As hulle onder mekaar stry en baklei en nie die mas opkom nie, wonder kiesers of dit werklik ʼn beter alternatief [as ʼn ANC-regering] is.”

Cronjé sê die ANC het self nie meer die vermoë om op sy eie te verhoed dat hy tydens ʼn nasionale verkiesing minder as 50% van stemme trek nie. “Sy enigste strategie is om die opposisie te verdeel.

“Beheer oor wat met die ANC gaan gebeur, is eintlik in die hande van opposisieleiers en hul vermoë om op ʼn manier te kan saamtrek.”

As die opposisiepartye onder mekaar baklei, versterk dit die ANC se kans – al is dit ʼn skrale kans – om vir nog vyf tot tien jaar die land te regeer, sê Cronjé, maar indien opposisiepartye saamwerk om die ANC te beveg, kan dit die party se steun tot ver onder 50% druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

annie ·

Die ANC se Phala-gate is ‘n kwessie wat die ANC se leierskap raak wat nog voor die ’24-verkiesing chaos mag skep. ‘n Ryk Sudannese vinger in die aangebrande pie blyk ‘n moontlik; CR tussen piramides vasgekeer? Soos die lieflike samewerking tussen partye in Gauteng duidelik aandui, gaan so ‘n konkoksie nie eintlik bevorderlik wees vir die SA- kieserkorps se spysvertering nie, wat beteken dat die ANC weer sal regeer hetsy via chaotiese handevat-rade, maar beheer wil dit beheer.

Jr ·

Die wat vir hulle stem, moenie huil of toi toi as hulle nie dienste, werk, ens kry nie. Julle net julle self om te blameer

marius ·

Die land het in ‘n hool verander juis as gevolg van hierdie spul . Die skade kan NOOIT herstel word nie .

De Villiers ·

Die ANC gaan Suid Afrika regeer tot die heel laaste toe. Al hierdie “peilings” is nutteloos en totaal uit gevoel vir die realiteit.

Republikein in die Wes Kaap ·

Angola en Zimbabwe is goeie voorbeelde. Die ANC het daar geleer.

Neestemmer ·

Verbaas my regtig dat daar na 28 jaar van ANC diefstal, korrupsie en die afbreek van SA enigsens nog ANC ondersteuners oor is, watwou nog amper 50%! Dit wys eintlik hoe ongelooflik dom die meeste kiesers eintlik is of is SA nog ‘n geval vd Stockholm sindroom…..

B-Man ·

Ongelukkig is die meeste van die ANC se ondersteuners ‘n onopgeleide en oningeligde massa. Kyk baie mooi na die tweede laaste grafiek. Hoe meer mense wegbly en nie stem nie, hoes sterker vertoon die ANC. Ingeligde “slim” kiesers moet stem en nie wegbly nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC gaan nog vir dekades ‘n faktor bly in ‘n bankkrot en onstabiele hool. Wat Afrikaanssprekende minderhede nou benodig is ‘n onafhanklike en voorspoedige republiek in die Wes Kaap. Net ‘n gedeelte, met ‘n oppervlakte van sowat 20 000 vierkante km.

PieterJ ·

Dis juis die “gewonde” deel wat my bekommer. Daar is gesegde in die jagwêreld van enige gewonde dier/bok is uiters gevaarlik.

Papsak ·

Hulle wat bly stem vir anc moenie huil of kla nie julle moet julle self blameer want julle sien hoe gaan dit in die land hou op stem vir anc en dinge gaan verbeter

Nie Verbaas ·

Gelukkig is die ANC besig om hulself te vernietig. Ongelukkig lei die hele land as gevolg van hulle totale onbevoegdheid en korrupsie.

Jaco ·

Net voordat almal nou te bly word: die Afrika-manier is blykbaar dat die liberation movement wat by die koloniale heersers oorgevat het, vir ewig daarna móét regeer, selfs al wys verkiesingsuitslae anders. Vir SA voorspel ek óf ‘n ANC-EFF koalisie, met die ANC wat as toegewing dan maar die volle anti-wit EFF-beleid sal oorneem, óf ‘n Zimbabwe-styl opsie van verwerp die verkiesingsuitslag en ontplooi die weermag en polisie om opstandige mense stil te maak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit gaan nog dekades neem voordat demokrasie hier gevestig gaan word. Vir Afrikane is dit ‘n vreemde konsep. Die ANC koop selfs opposisielede om vir steun.

Swerwer ·

Wil maar eers sien, die klomp propageer dat hul nie ANC stem of is nie maar as dit by ‘n verkiesing kom
stem hul weer ANC want hul glo die klomp wat in die lokale rondloop kyk en gaan hul doodmaak as hul nie vir die ANC stem nie en tweedens net voor ‘n verkiesing maak die regering allerhande beloftes wat nooit die waarheid is nie. Die EFF wat geen benul van die woord “Ekonomie” het nie, maak nog groter beloftes want geld word mos van die bome gepluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.