ANC in Gauteng slyp sy tande vir Tshwane

Pretoria (Foto: Clayton Majona/Pixabay)

ʼn Spesiale raadsvergadering word vir 28 Maart belê om ʼn nuwe uitvoerende burgemeester vir Tshwane aan te stel.

Die speaker van die munisipaliteit, Mncedi Ndzwanana, het in ʼn verklaring bevestig dat die vergadering om 10:00 die oggend sal plaasvind.

Dit volg ná Faith Mazibuko, waarnemende LUR vir die departement van waarnemende samewerking, e-regering, navorsing en ontwikkeling, Ndzwanana formeel versoek het om redes te verskaf waarom die munisipaliteit nog nie ʼn burgemeester aangestel het nie.

Maroela Media het vroeër berig die verkiesing van die nuwe burgemeester verloop teen ʼn slakkepas. Die metroraad het Woensdag vir die tweede keer binne ʼn week probeer om ʼn burgemeester te verkies nadat die DA verlede week as ʼn teken van protes uit die vergadering gestap het.

Cilliers Brink, die veelpartykoalisie in Tshwane se burgemeesterskandidaat, het Woensdagmiddag gesê dit is duidelik dat die ANC‑EFF-koalisie nie die getalle het om ʼn “marionet-burgemeester” – soos in die geval van dr. Murunwa Makwarela – te verkies nie.

Mazibuko het aan die speaker gesê as die waarnemende LUR verantwoordelik vir regering in die provinsie, beskou sy die stand van sake in die stad in “ʼn baie ernstige lig”.

“Dit beteken dat die stad sonder ʼn burgemeester bly en dat ʼn vakuum gelaat word in die uitvoerende leierskap. Die voortgesette versuim om ʼn burgemeester aan te stel, stel die integriteit en regering van die munisipaliteit in gevaar.”

Mazibuko meen dit sal “ongetwyfeld verreikende gevolge hê vir stabiliteit in die munisipaliteit”.

Mazibuko doen ʼn beroep op alle raadslede om die belang van die inwoners in Pretoria eerste te stel en die nodige stappe doen om ʼn burgemeester so vinnig as moontlik aan te stel. Sy maan alle raadslede om te alle tye in die beste belang van die munisipaliteit en inwoners van die stad op te tree.

Brink het vroeër gesê dit is duidelik dat die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, ook die ANC se leier in die provinsie, met raadslede van die ANC en EFF saamwerk om die bestuur van die stad te ontwrig en chaos te skep sodat die Gautengse provinsiale regering by die stad se sake kan probeer inmeng.

“Natuurlik bestaan die vrees dat die doel hiervan is om hulpbronne na die ANC en moontlik selfs die EFF in die aanloop tot die 2024-verkiesing te kanaliseer.”

Brink het aan Lesufi geskryf en hom gewaarsku dat sy beweerde inmenging by Tshwane se sake dit “moeilik vir hom maak om sy verantwoordelikhede as premier teenoor die stad na te kom”.

“Die belangrikste kwessie nou is dat die ANC‑EFF-koalisie van korrupsie, dienslewering en regering in die Tshwane-metro ontwrig. Ons sal nie skroom om Lesufi en die ANC ten volle verantwoordelik te hou vir die gevolge van hul dade nie, selfs al moet ons weereens hof toe gaan en ʼn kostebevel kry teen die mense wat hier persoonlik betrokke is.”

Die veelpartykoalisie in die Tshwane-metroraad bestaan uit die DA, ActionSA, VF Plus, IVP en ACDP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.