‘ANC-kader van geen waarde vir Eskom’ – DA

Bheki Ntshalintshali. (Foto: Facebook / Bring back Mzansi now)

Die aanstelling van ANC-kader Bheki Ntshalintshali op Eskom se raad is volgens die DA van geen waarde vir dié onderneming nie, en oorskadu al die ander nuwe aanstellings, onder wie ingenieurs en geoktrooieerde rekenmeesters.

Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, meen Ntshalintshali se aanstelling is “niks meer as ʼn goedkoop poging om die ANC se kaderkwota in ʼn staatsbeheerde onderneming te vul” nie.

Volgens Cachalia is dié posisie bloot ’n “sagte landing” vir Ntshalintshali nadat Cosatu hom as sekretaris-generaal verwerp het. Hy het dié posisie voorheen beklee.

“Hoewel ’n poging aangewend is om mense met ʼn sterk ingenieursagtergrond aan te stel, het die regering nie ver genoeg gegaan nie, en is sommige aanstellings bloot voormalige uitvoerende hoofde met geen ingenieurservaring nie,” het Cachalia gesê.

Hy meen vir Eskom om onmiddellik antwoorde oor die beurtkragkrisis in die land te gee, is “ingenieurskundigheid op die hoogste vlak” uiters noodsaaklik.

“Die raad se eerste taak is eenvoudig – hulle moet die instandhoudingsprogram van Eskom se kragstasies weer op koers bring, betroubare kragtoevoer verseker en ʼn einde aan beurtkrag bring.

“Om sy doelwitte doeltreffend te bereik, is dit belangrik dat politieke inmenging van die ANC-regering in dié raad op ’n afstand gehou word.”

Cachalia sê die raad behoort in die volgende paar dae met ʼn plan vorendag te kom oor hoe kragvoorsieningsprobleme getakel gaan word, en sê die DA is bereid om “versigtige steun” aan die nuwe raad te bied.

“Dit sal egter net werk as die raad bereid is om oop kaarte met Suid-Afrikaners te speel en duidelik uiteensit wat gedoen moet word om energiesekerheid te bewerkstellig.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre ·

hoekom moet die DA altyd fout soek met als, kry eerder julle huis in orde en werf steun vir 2024 dan kan julle besluit wie op watse SOE direksie moet wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.