ANC ontken Mbalula se beurtkrag-uitlatings

Fikile Mbalula (Foto: @MbalulaFikile/X/Twitter)

Die ANC het in die bresse getree vir sy sekretaris-generaal nadat daar berig is dat Fikile Mbalula gesê het klimaatfinansiering tussen Suid-Afrika en Westerse lande is verantwoordelik vir die voortslepende beurtkrag in Suid-Afrika.

Volgens die ANC is Mbalula se woorde verdraai. “Die ANC weerlê enige bewerings dat klimaatsverandering die skuld vir beurtkrag is ten sterkste,” het Mahlengi Bhengu-Motsiri, ANC-woordvoerder, gesê.

Mbalula het glo twee sleutelargumente voorgelê tydens Donderdag se debat van politiekepartyleiers in Johannesburg.

“Eerstens weerspreek die punt wat ons sekretaris-generaal gemaak het die bewering dat Eskom se wanfunksionering te wyte is aan kaderontplooiing. Die sekretaris-generaal het daarop gewys dat Eskom sy swakste prestasie gehad het toe die hoof nie ʼn ‘kader’ was nie.

“Tweedens ondersteun die sekretaris-generaal die onafhanklike kragprodusente-program. Hy het beklemtoon dat hierdie program van kritieke belang is om betroubare energievoorsiening in Suid-Afrika te handhaaf. Laastens voer hy aan dat die oorgang na skoon energie regverdig en billik moet wees. Hy het in geen stadium voorgestel dat klimaatsverandering beurtkrag veroorsaak nie. Hy gebruik nie eens die term ‘klimaatsverandering’ nie.”

Mbalula is daarvan beskuldig dat hy gesê het Suid-Afrika se voortslepende beurtkragkrisis is ʼn direkte gevolg van die regverdige-energieoorgang-beleggingsplan. Dit is ʼn $8,8 miljard-belegging wat ten doel het om Suid-Afrika se oordrag van steenkool na skoner en volhoubare energiebronne te bewerkstellig.

Volgens Bhengu-Motsiri volstaan die ANC by sy standpunt oor energiesekerheid en ʼn regverdige en billike oorgang na skoner energie.

“Ons benadering tot energiesekerheid word gelei deur die geïntegreerde hulpbronplan, wat die gebruik van ʼn optimale mengsel van energiebronne soos steenkool, sonkrag, wind, gas, kern-, hidro- en energieberging in die vooruitsig stel om die sekerheid van die voorsiening van elektrisiteit te handhaaf teen die laagste koste vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Benewens die fokus op die verbetering van Eskom-opwekking moet vinnige ontplooiing van ander alternatiewe vir elektrisiteitsopwekkingsvermoë voorsien word.”

Volgens Bhengu-Motsiri moet die beleggingsplanne vir regverdige energieoorgang doeltreffend ingestel word, asook verdere hulpbronne gemobiliseer word om elektrisiteitsopwekking en transmissiebeleggings te finansier op ʼn wyse wat toelaes én hoogs gunstige finansiering insluit.

“Sulke finansiering moet gestruktureer word om te verhoed dat die land se soewereine skuldposisie versleg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jan Jacobs ·

Die klimaat verandering leun het baie lande in europa ook met krag probleme gelos.

Sean ·

Die kaders beskerm mekaar Hoop na die verkiesing volgende jaar dat almal tronk toe gaan

Pietie ·

Eers was dit apartheid se skuld, nou is dit klimaatsverandering wat die skuld vir beurtkrag kry. What a joke. Stel vir ṅ slag ṅ bevoegde persoon aan en hou hom daar.

Republikein in die Wes Kaap ·

Mbalula werk vir die ANC. Hy moet daar bly en die organisasie help vernietig.

Papsak ·

Raak hierdie verkiesing ontslae van hierdie korrupte anc regering reg net klomp leunaars en skelms die land het dit nie meer nodig nie regtig

annie ·

… en hy wil ook nog SA se president word. Wat wel waar is, is dat hy ‘n goeie soustrein-bestuurder sou gewees het as daar spore was wat wyd genieg was vir die wye treine wat destyds aangekoop is… Hy het mos destyds ook geprobeer om die minister van vervoer te wees? Toe bervorder hulle hom om die spoorweë te red, maar dit was ongelukkig te laat, maar Eskom baat gelukkig…

Lurock ·

Is die kader se toespraak beskikbaar dat ons as gewone burgers self kan sien wat hy gesê het, en self kan bepaal wat die waarheid is?

Niklaas ·

Dis ook nie die eerste keer dat Fikile snert praat nie . Maar hy word nie vervang nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.