ANC se ‘Groot Broer’-benadering smoor werkskepping

Haweloses in Johannesburg (3 Februarie 2022) (Foto: Marco Longari/AFP)

Die jongste kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS) vir die derde kwartaal van 2023 skilder ʼn duidelike prentjie van Suid-Afrika se voortgesette werkloosheidskrisis en beklemtoon die noodsaaklikheid van ʼn verandering in politieke leierskap.

Só sê Michael Cardo, die DA se skaduminister van indiensneming en arbeid.

Statistieke Suid-Afrika het die QLFS vandag vrygestel. Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers het in die derde kwartaal tot 31,9% gedaal – effe laer as die werkloosheidskoers van 32,6% in die vorige kwartaal. Indien die uitgebreide definisie in berekening gebring word, is die koers steeds meer as 41%.

“Solank as wat die ANC aan bewind bly, sal die status quo voortduur.”

Cardo sê die ANC se Groot Broer-benadering tot ekonomiese rentmeesterskap het veroorsaak dat miljoene Suid-Afrikaners werkloos is. “Klein ondernemings word beperk deur burokrasie en die outomatiese verlenging van kollektiewe bedingingsooreenkomste aan klein en nuwe ondernemings smoor werkskepping.

“Deur die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming en sy verwante regulasies het die ANC al hoe meer aggressief geword om raskwotas in die arbeidsmark toe te pas. Die Wet op Raskwotas sal beleggers afskrik, groei beperk en werkskepping verwoes. Slegs ʼn DA-geleide regering kan dié situasie omkeer.”

Cardo sê ʼn dieper analise van die data onthul dat die ANC se onvermoë om ʼn stabiele kragtoevoer te verseker, die werkloosheidskrisis vererger, veral onder jong Suid-Afrikaners.

“Jongmense tussen 15 en 34 jaar oud word oorweldigend van geleenthede ontneem. Altesaam 43,4% van hulle kan nie op ʼn betekenisvolle manier bydra tot die ekonomie nie. Dit beteken dat 4,6 miljoen jong Suid-Afrikaners deur die ANC versaak word.”

Byna 7,8 miljoen steeds werkloos

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê die afname van 0,7% is goeie nuus, maar meer volhoubare en doeltreffende maniere om werkloosheid te verminder, is nodig.

“Die QLFS het gewys dat werkende mense met 399 000 tot 16,7 miljoen toegeneem het. Dit is die hoogste sedert voor die Covid-19-pandemie. ʼn Verbysterende 7,8 miljoen mense is egter steeds werkloos. Ons pleit weer by die regering, leiers en belanghebbendes om behoorlike beleggingstrategieë te oorweeg in leidende sektore, insluitend mynbou, landbou, vervaardiging en die privaat sektor om indiensneming ʼn hupstoot te gee.”

Moyo sê indien daar nie dringende optrede van die regering is nie, sal Suid-Afrikaners nog verder in armoede verval.

Uitgebreide werkloosheidskoers op 41,2%

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê die land het nou vir die afgelope 14 kwartale ʼn uitgebreide werkloosheidskoers van meer as 40%.

“Twee uit elke vyf Suid-Afrikaners, of 11,7 miljoen mense, is al die afgelope drie en ʼn half jaar werkloos. Dit benadruk die dringende behoefte aan ʼn standvastige ekonomiese beleid wat werk kan skep en miljoene uit armoede kan ophef.”

Mashaba sê die enigste manier om die ekonomie te herstel is om die regerende party uit die kussings te lig.

Wes-Kaap se werkloosheid daal met 4,3%

Die QLFS het gewys dat meer werk in die Wes-Kaap geskep is en werkloosheid het in dié provinsie gedaal:

  • Indiensneming het met 22 000 poste toegeneem of 0,8% kwartaal-op-kwartaal
  • Indiensneming het met 305 000 poste toegeneem of 12,6% jaar-op-jaar

Volgens die verslag is die meeste werksgeleenthede tussen die derde kwartaal van 2022 en die derde kwartaal van 2023 in die Wes-Kaap geskep.

Werkloosheid het jaar-op-jaar met 4,3% gedaal – die grootste afname in die land. Op die uitgebreide definisie het werkloosheid met 3,9% jaar-op-jaar gedaal.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het gesê die statistieke wys dat ʼn goeie en stabiele regering die omgewing kan skep wat die ekonomie laat groei en werk kan skep.

Mireille Wenger, minister van finansies en ekonomiese geleenthede, het bygevoeg alhoewel daar nog baie werk is wat gedoen moet word, is sy trots op die uitslag wat in die verslag onthul is.

Twee uit elke vyf soek werk in Oos-Kaap

Bobby Stevenson, die DA se hoofsweep in die Oos-Kaapse wetgewer, sê alhoewel die Oos-Kaap se werkloosheid jaar-op-jaar met 3,6% gedaal het, is dit op 38,8% steeds die hoogste in die land.

“Dit beteken dat ongeveer twee uit elke vyf mense in die provinsie werkloos is. Dit is boonop uiters kommerwekkend dat daar, ná ʼn afname in die onlangse kwartale, ʼn toename was in die uitgebreide werkloosheidskoers. Dié koers het met 0,6% toegeneem kwartaal-op-kwartaal tot 43,9%. Dit is moontlik ʼn vroeë waarskuwing van toekomstige werksverliese, aangesien mense gefrustreerd is en ophou werk soek.”

Stevenson sê die situasie kan vererger word deur die besuinigingsmaatreëls wat onlangs vir die provinsie aangekondig is, veral wat betref infrastruktuur-uitgawes betref.

“Nêrens is die sosio-ekonomiese impak hiervan meer duidelik as in die jongste verslag van die Menseregtekommissie nie, wat onthul het dat 116 kinders weens ernstige wanvoeding gesterf het. Hierdie kinders het van die honger gesterf, deels omdat daar nie werk vir hul ouers was om voldoende geld te verdien om vir hulle kos te koop nie.”

Hy sê as werk in die Oos-Kaap geskep gaan word, is ʼn bekwame regering nodig wat die regte klimaat kan skep vir ekonomiese groei.

“Ons het ʼn regering nodig wat proaktief die kragkrisis kan takel, gewelddadige misdaad kan takel wat buite beheer is in die provinsie en die nodige infrastruktuur kan oprig vir beter logistiek. Onder ʼn DA-geleide regering het die Wes-Kaap die grootste daling jaar-op-jaar in werkloosheid gesien. Die Wes-Kaap het boonop ook drie keer soveel poste as die Oos-Kaap oor dieselfde periode geskep (305 000 poste in vergelyking met die Oos-Kaap se 99 000).

Stevenson sê die DA het ʼn bewese rekord van die impak wat ʼn goeie regering het op die lewens van inwoners. “Die DA het ʼn plan om die Oos-Kaap van die werkloosheidskrisis te red.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Deon ·

Dit het tyd geword dat al die politieke partye presies uitspel watter stappe hulle gaan neem om werkloosheid die hoof te bied. Dit beteken niks om net hierdie wanfunksionele regering te blameer vir die gemors en te verkondig dat hulle die situasie gaan omkeer as hulle aan bewind is nie. Sê vir ons watter wette en regulasie julle gaan wysig of skrap. Die ANC reguleer hierdie land in die afgrond in.

latie ·

ja dis zimbabwe grens mos verniet ingang daar dis EFF -EVERYTHING FOR FREE SOUTH AFRICA

Manie ·

DA, verduidelik asb hoe julle die werkloosheid kwessie in die land gaan omkeer, terwyl 20% van die arbeidsmag in die Wes-Kaap waar julle regeer, werkloos is.

George ·

Hulle maak ook net beloftes en doen niks. Gaan stap n bietjie hier om die draai onder die brue in CT.

Willem ·

Prediker. 10:16. Ellende wag vir die land waarvan ‘n slaaf koning is en waar amptenare vroeg in die dag begin feesvier.

Tokkel ·

Verwyder hierdie plakkers! Koop vir hulle ‘n buskaartjie terug na hul oorspronklike blyplekke. Hulle drink en mors oral waar hulle bly, want ons is mos ‘n vullishoop land.
Ek glo elkeen het ‘n huis iewers waarheen jy kan teruggaan. Mense word beroof deur hulle. karre se deure word oopgeruk en so kan mens voortgaan. Hulle kom soek werk in ‘n provinsie en as hulle nie kry nie, plak hulle sommer net daar……nee aarde, wat word van ons mooi land en hoe kan ons veilig voel??

Chris ·

Ek kan nie verstaan hoekom daar so ophef oor die werkloosheidsyfer gemaak word nie. Gaan daar ‘n verskil wees indien die mense gaan werk kry? Wat gaan gebeur? Meer belasting en ander mooi prentjies. Ag asseblief tog. Ry noord van die Limpopo en gaan kyk wat werklik in Afrika aan gaan. Om in Afrika te oorleef en bestaan, leef soos die Afrikaan. Moenie uitstaan of presteer nie. Jy gaan verguis en na die massas se vlak afgetrek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.