Aspen vervaardig eerste entstof in SA

Die eerste besending van die Johnson & Johnson- (J&J-)entstof wat deels op tuisbodem vervaardig is, verlaat Maandag Aspen se fabriek in Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap.

Dié plaaslike medisynereus het dié dag as ’n belangrike mylpaal in Suid-Afrika se stryd teen Covid-19 bestempel. Die besending is die “eerste Covid-19-entstowwe wat op die vasteland van Afrika, deur ’n Afrika-vervaardiger, vir Suid-Afrikaanse en Afrika-pasiënte vervaardig is”.

Johnson & Johnson het vroeër ʼn ooreenkoms met Aspen aangegaan om die entstof in Suid-Afrika te vervaardig.

Stephen Saad, uitvoerende hoof van Aspen, sê Maandag in ’n verklaring die farmaseutiese maatskappy is trots op die rol wat hy speel in die vervaardiging van entstowwe vir verspreiding in Suid-Afrika, asook oor Afrika en die wêreld heen.

Die eerste besending dosisse sal oor die hele Suid-Afrika versprei word terwyl sommige van die dosisse ook bestem is vir die Europese Unie (EU) en ander buitelandse markte.

Saad sê voorts die entstofaanbod aan Suid-Afrika en die res van Afrika is besonder lonend, gegewe die huidige ongelykheid wat die toegang tot entstowwe betref.

Suid-Afrika se entstofprogram het aanvanklik teen ’n slakkepas gevorder, maar intussen effens versnel. Meer as 6,3 miljoen dosisse van die Covid-19-entstof is in dié stadium toegedien wat beteken dat een uit elke tien Suid-Afrikaners nou al minstens een dosis van die entstof ontvang het.

Mense ouer as 35 jaar mag tans teen Covid-19 ingeënt word terwyl enigiemand bo 18 jaar vanaf begin September in die ry mag val.

Afrika werk tans saam met die EU en ander vennote om plaaslike sentrums vir die vervaardiging van entstowwe te help skep.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaanse maatskappy Biovac is verlede week aangewys om die Pfizer-BioNTech-entstof teen Covid-19 op tuisbodem vir verspreiding binne die Afrika-unie (AU) te vervaardig.

Biovac, wat in Kaapstad gesetel is, is die eerste maatskappy in Afrika om ʼn sogenaamde mRNA-gebaseerde entstof te vervaardig. Die mRNA-entstowwe is ʼn betreklik nuwe soort entstof wat teen aansteeklike siektes help beskerm. Dit leer die liggaam se selle hoe om ʼn proteïen te maak wat ʼn immuunreaksie in die liggaam veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Robert ·

Dit is nie vervaardig nie… slegs herverpakking vir gebruik. Groot verskil!

marius ·

Vertel vir die mense , wie betaal hiervoor , of is dit verniet ?

Keith ·

Ewe skielik het ons nou Aspen kama J&J se entstof, en dan ook Biovac kama Pfizer-BioNTech-enstof ( ‘n “betreklik nuwe soort entstof…”) (?) wat wenpaal toe jaag. Nee dankie.

Retha ·

Niks met negatief te doen nie. Lees weer die berig. Biovac, wat in Kaapstad gesetel is, is die eerste maatskappy in Afrika om ʼn sogenaamde mRNA-gebaseerde entstof te vervaardig. Die mRNA-entstowwe is ʼn betreklik nuwe soort entstof wat teen aansteeklike siektes help beskerm. Nuwe met hoofletters, nog nie eers proef tydperk deur gegaan nie.

Anel ·

‘n Mens word gebore met daardie selle. Jou liggaam moet gewoond wees aan kieme om homself te kan beskerm. Met al hierdie gehande was, word alle kieme weggewas. Automaties gaan mense nou siek word want hul liggame ken nie meer kieme nie. Mense wat op plase woon ek werk, veral tussen diere, ek is seker hulle is gesonder as die stadsjapies. Ons het ook diere, en hulle slaap by ons, lek ons en ons is nie heeldag besig om alles te ontsmet en hande te was nie. En ons is nog steeds gesond. So om my intespuit met iets wat my liggaam nou moet leer om teenliggampies te maak, asseblief! En dan is dit nog ongetoets. Gelukkig is ek nie ‘n skaap nie.

MakersMark ·

Ja mens word met “selle” vir pokke, pampoentjies, masels, duitse masels en meningitis gebore. Daarom moet jy ‘n inenting daarvoor kry vanaf 8 maande. En die sertifikaat wys voor jy mag skool toe gaan op 6 jr oud. Dalk kan kinders net minder hul hande was dan word hul sommer immuun teen geelkoors, TB, Tetanus, hondsdolheid en hepatitis as hul ouer word.

Dirk Mostert ·

Entstof met verswakte kieme is een ding. Entstof met mNRA, wat jou DNA moet herprogrammeer is ‘n perd van ‘n ander kleur. Wat is die effek oor jare? Vir sommige was die effek op kort termyn reeds drasties.

Retha ·

Ja, maar hoeveel jare se navorsing is in daardie inentings gesit. Dit is minder as jaar gelede in P E begin vervaardig, nou nog meer nuwe konkoksie by gevoeg. Berig lees self, Biovac, wat in Kaapstad gesetel is, is die eerste maatskappy in Afrika om ʼn sogenaamde mRNA-gebaseerde entstof te vervaardig. Die mRNA-entstowwe is ʼn betreklik nuwe soort entstof wat teen aansteeklike siektes help beskerm.

Retha ·

Stem volkome met jou saam Anel. Die sanitasie en maskers het almal se immuunstelsel teen kieme afgebreek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.