‘Asseblief, mnr. President … los nasionale gesondheidsversekering’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Insung Yoon / Unsplash)

“Wanneer die wetsontwerp oor nasionale gesondheidsversekering (NGV) op jou tafel beland, moet dit asseblief nie onderteken nie – ter wille van alle Suid-Afrikaners.”

Dít is die pleidooi van Michele Clarke, die DA se woordvoerder oor gesondheid, aan pres. Cyril Ramaphosa in ʼn laaste poging om die president ter elfder ure te probeer oortuig om die omstrede NGV te laat vaar.

In ʼn ope brief aan Ramaphosa vra Clarke die president om vir eens “sy land bo sy kamerade” te stel.

“Mnr. President, my versoek is eenvoudig: Moenie toelaat dat goedkoop politieke gewin jou oordeel oorskadu nie. Jy het ʼn eed afgelê om hierdie land te beskerm.

“Jou optrede kan óf lewens red óf duisende vernietig.”

Clarke se ope brief volg nadat die finale wetsontwerp oor die NGV verlede maand tydens ʼn stemming van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid aanvaar is. Dit sal nou na die Nasionale Vergadering vir oorweging en stemming verwys word.

Benewens hewige teenkanting kon die regering nog nie antwoorde bied oor hoe die NGV belastingbetalers sal raak of hoe presies dit gaan werk nie.

“Soos jy weet, het die ANC-lede in die portefeuljekomitee oor gesondheid onlangs ten gunste van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gestem, ten spyte van oorweldigende besware, bekommernisse en vrae wat geopper is – waarvan nie een ooit voldoende beantwoord of hanteer is nie.

“Dit sluit vrae en besware van die DA sowel as ander opposisiepartye, gesondheidsbelanghebbendes en die algemene publiek in, asook ’n nadelige regsmening deur die onafhanklike parlementêre regsdienste.”

Clarke herinner die president voorts daaraan dat selfs die minister van finansies dit duidelik gemaak het dat Suid-Afrika die NGV nie kan bekostig nie. In haar brief peper sy die president ook met verskeie vrae in dié verband.

“Ek kan net aanvaar dat ten spyte van die fasade wat aan die res van Suid-Afrika voorgehou word, jy en al jou ANC-kamerade baie goed weet dit is die waarheid. Waarom anders sou dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, en sy departement so vasberade wees in hul weiering om op selfs die mees basiese en redelike versoeke te reageer, soos die versoek dat ’n uitvoerbaarheidstudie gedoen word?

“Hoekom anders sou hulle almal weier om te verduidelik hoe dié lynitem op die land se finansiële state gefinansier word?”

Clarke lig verder verskeie probleme uit wat die land met NGV sal ondervind en verwys onder meer na die haglike toestande wat in die meeste staatsgesondheidsinstellings in die land heers.

“Sou die NGV tot stand kom, sal gesondheidsdienste in duie stort. Tot vandag toe het die departement dit nog nooit duidelik gemaak watter gesondheidsdienste onder die NGV beskikbaar sal wees nie, en vir watter uitgawes pasiënte self verantwoordelik sal wees nie.

“Dit lyk of die ANC onder die illusie is dat Suid-Afrikaners met graagte ekstra geld sal opdok vir ’n reeds verbrokkelende openbare gesondheidstelsel om verder oorlaai te word, wanneer byna nege miljoen individue met mediese fondse sal moet meeding vir dienste onder universele gesondheidsorg.

“Hoe kan jy [Ramaphosa] eerlikwaar verwag dat daardie nege miljoen Suid-Afrikaners hul mediese fondse prysgee en dan voortgaan om die private gesondheidsektor te finansier sonder enige oënskynlike voordeel vir hulle? Die een dag ontvang hulle onmiddellike mediese sorg by ʼn private hospitaal, en die volgende dag moet hulle ver reis na ʼn openbare hospitaal wat nie beddens of voldoende personeel het nie, asook ʼn waglys van sewe jaar vir sommige operasies.

“Dit is doodeenvoudig nie redelik nie.”

Clarke sê dit is steeds onduidelik hoe belastingbetalers die NGV sal moet finansier, aangesien die ANC weier om klinkklare en deursigtige antwoorde hieroor te gee. Dus is daar geen verklaring oor hoe lede van mediese fondse geraak gaan word en wat die eindelike uitwerking op die belastingbetaler sal wees en wat hulle daarvoor moet betaal nie.

“Hulle [die ANC] vergeet ook gerieflik dat Suid-Afrika reeds universele gesondheidsorg het. Tans kan enige individu wat mediese sorg benodig na enige openbare gesondheidsfasiliteit gaan vir behandeling, hetsy gratis of teen ’n nominale fooi, wat natuurlik onder die NGV sal verander.

“Private gesondheidsorg het juis ontstaan ​​as gevolg van die versuim van die ANC-regering om gehaltegesondheidsorg te verskaf. As die ANC sy werk gedoen het, sou mediese fondse en private hospitale nie ʼn noodsaaklikheid in die Suid-Afrikaanse samelewing wees nie.”

Clarke benadruk ook dat NGV die land in bankrotskap sal dompel, duisende sterftes tot gevolg sal hê en kundige medici landuit sal jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

miavos ·

Nasionale gesondheidsorg werk uitstekend in Suid-Korea, met die verskil dat ALLE gesondheidsdienste en -geboue hier in tip top kondisie en van wêreldgehalte is. ALMAL is verplig om daaraan te behoort en mense betaal volgens die salaris wat hulle verdien. As jy ‘n hartoperasie moet ondergaan betaal jy alleen jou gedeelte tot ‘n maksimumbedrag en die staat betaal die res. Duisende Suid-Afrikaners werk in Korea en kan getuig van die uitmuntende mediese dienste wat aan die publiek gebied word. Alles word natuurlik streng beheer, maar die punt van die saak is jy kry die allerbeste teen ‘n prys wat jy kan bekostig. Boonop kry jy elke tweede jaar gratis kankertoetse.

KatjieDeKat ·

Suid-Korea lyk na n fantastiese land, volgens wat ek al op die internet gesien het. Ek sou baie graag daar wou woon.

etienne ·

Sonder twyfel sal hy dit onderteken. eskom se fontein is droog, met die NGV sal daar weer n nuwe fontein geskep word om die kaders se dors na geld en korrupsie te les.

CHRISTINE ·

Netso. Vooruitgang vir Suid-Afrika is nie op die ANC se agenda nie.

Andries ·

Volgens Denosa is 20 000 verpleegsters tans werkloos – hoofsaaklik agv tekort aan geld. Hoe op dees aarde gaan hierdie ‘plan’ dit Verbeter? Teen n belaglike slegs R100 000 per jaar, is dit 2 miljard (twee duisend miljoen) Rand

KatjieDeKat ·

Hierdie sal die grootste ANC katastrofe van almal wees. Miljoene mense behoort juis aan mediese fondse omdat meeste staatshospitale so pateties is. Hulle maak opofferings, ontsien hulself baie plesier in die lewe, om die allerbelangrike mediese fonds te kan betaal. Hierdie NGV kan en gaan derduisende onnodige sterftes veroorsaak. Die sterfte van derduisende, miskien miljoene BELASTINGBETALERS, neem kennis, ANC, want lewens maak nie saak vir julle nie, net geld. So dink daaraan in terme wat in jul verwysingraamwerk is. Die einde is finaal in sig vir hierdie land, as die NGV deurgaan.

George ·

Cyril gaan beslis die teken. Dis hoe hulle ANC oor die 50% stem gaan stoot en so koebaai grondwet.

Papsak ·

Ramaphosa skrik net al skrik jy net wakker asb jy het n hand probleem jy onderteken te vinnig goed maak oop jou oe asb

Amelia ·

Is dit nie presies wat rampie wil he nie werf steme so en as dit n flater is is dit apartheid se skuld
want 30jaar terug is daar nie genoeg opleiding en hospitale gebou nie apartheid kry mos vir als die skuld

JohanR ·

pres. Ramaphosa sal dit nooit los nie. Daar is te veel kaders wat weer te lekker gaan vreet. Daar is nou net een hoop oor vir SA en dit is om die ANC in 2024 uit te stem.

Anje ·

Ek sien baie geld in die verkeerde hande beland en baie lewens wat verwoes gaan word. Die ANC gee nie om nie. Common sense is daar nie. Ek bid net dat die storie sloer soos alles anders in die land, sodat my 8jarige net n bietjie ouer en minder weerloos kan wees .

KatjieDeKat ·

Ai jou laaste sin raak aan my hart, as ouers is hierdie ons grootste nagmerrie. My seun is 17 en dogter 25 maar nog steeds bekommer ek my elke dag oor wat van hulle gaan word as die NGV deurgaan.

Elma ·

As die Mediese Fonds Reuse in SA minder gierig was met hul lidmaatskapfooie sou hierdie ding nooit ter sprake gekom het nie, dan sou meer mense n mediese fonds kon bekostig. Ek is een van die Suid Afrikaners wat elke jaar n laer plan moet kies agv stygende lewenskostes en salaris wat nie tred hou nie. En so word my voordele net al hoe minder en my bybetalings al hoe hoër.

Manie ·

Ek sien een skema spog met 8 miljard rand opgehoopde fondse maar betaal geen bonusse aan polishouers nie. Klomp skelm wetters.

Martie Smartie ·

So dis ‘n briljante plan van die staat om private fondse te plunder ne? Plunder is orraait as dit jou pas of hoe?

Elma ·

en niemand se plunder pas my nie, okay???? Die mediese fonds plunder MY en dit pas my NIE.

Martie Smartie ·

Dis net weer een groot langduringe korrupsie oefening vir die ANC en kaderswerm. Gaan lekker vir jare weer belastinggeld sluk en private mediese industrie leeg tap

Republikein in die Wes Kaap ·

Eerbare burgers moet die land op sy knieë bring voor Ramaphosa dit doen. Dit sal gebeur op burgers sr terme.

Marina ·

Die regering is desperaat vir nog geld. Dit is al. As derduisende mense in die poses hul lewens verloor, is dit bloot “collateral damage”! Ek self, werk in die gesondheidsorg sektor en daar is n rede hoekom ek uit die staatshospitale padgegee het… Dit was daardie tyd al van swak gehalte (2010) en die personeel uiters lui en swak opgelei. Onthou, die oorgrote meerderheid van “our people” is nie baie intelligent nie en is natuurlik onder die indruk dat hulle nou almal in privaat hospitale gratis behandel gaan word.

annie ·

Alweer die DA… Smekend… Julle en antie Zille het die ANC op die troon help plaas. Kry hom nou weer af, Suster!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.