Atlete, beampte van kollege sterf in ongeluk    

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Lucian Alexe / Unsplash)

Vyf atlete en ’n personeellid van die Umngungundlovu TVET-kollege in KwaZulu-Natal is Sondag in ʼn ongeluk op die N3-hoofweg naby Estcourt dood. Die groep was ten tyde van die ongeluk op pad terug huis toe nadat hulle die TVET-atletiekspele in Polokwane, Limpopo, bygewoon het.

ʼn Sesde atleet het beserings opgedoen en word tans in ʼn hospitaal behandel.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het Maandag sy innige meegevoel met die kollegegemeenskap en naasbestaandes van Sakhiwo Zuma, die personeellid wat dood is, en die atlete Nobuhle Radebe (Edendale-kampus), Thembeka Zuma (Middellande-kampus), Anele Dlomo (Plessislaer-kampus), Mamelo Lerara (Plessislaer-kampus) en Khanyisile Khoza (Edendale-kampus) betuig. Hy het Siphokazi Gambu van die kollege se Msunduzi-kampus ook ’n spoedige herstel toegewens.

Luidens die departement se verklaring is die ongeluk glo deur ʼn voertuig veroorsaak wat noordwaarts in die rigting van Johannesburg gery het. Dit is nie in dié stadium duidelik of nog mense in die ongeluk betrokke was en beseer is nie.

Nzimande het die kollegebestuur intussen opdrag gegee om die nodige ondersteuning en vertroosting aan die naasbestaandes van die oorledenes, asook verdere sorg vir die beseerde student te bied.

Begrafnisreëlings sal later aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Simpatie en meegevoel met die Ouers en naasbestaandes van die afgestorwenes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.