Au revoir, Bokke! (en bring die beker terug)

Die Sprinbokke vertrek Sondag na Frankryk vir die wêreldbekertoernooi. (Foto: SA Rugby/Twitter)

Daar word Saterdag groot makietie gehou om die Springbokke te groet voor hul vertrek na Frankryk vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi wat volgende maand in Frankryk afskop – en geesdriftige ondersteuners word genooi om hul helde sterkte toe te wens voor hulle op die vliegtuig klim.

Die heersende wêreldkampioene – ʼn span van 33 spelers en 22 bestuurslede – vlieg Saterdag van die OR Tambo-lughawe vir wat hulle hoop ʼn 78 dae lange reis tot nóg ʼn oorwinning gaan wees.

Van die voorste Suid-Afrikaanse kunstenaars sal die skare (en die Bokke) op die verhoog by die korttermynparkeerterrein – oorkant internasionale aankoms – vermaak voor die span vertrek. Dit sluit in Robbie Wessels, Early B, Dr Victor and the Rasta Rebels, PJ Powers, Loyiso Bala, Lloyd Cele, Good Luck, Mariechen en Bernice West.

Daar sal ook kos- en drankstalletjies wees.

SA Rugby sê die spelers en afrigters sal op die verhoog verskyn en ook beskikbaar wees vir een laaste selfie saam met ʼn gelukkige aanhanger. Daar sal ook ander vermaak wees – en dit is alles gratis.

Bespreking vir die jollifikasie is egter noodsaaklik omdat kapasiteit beperk is.

Die hekke open om 12:00 met die vermaaklikheidsprogram wat ʼn uur later afskop en die Springbokke wat omstreeks 14:15 op die verhoog gaan wees.

Die Gautrein lewer ook ʼn spesiale gratis diens vir 200 aanhangers wat na die lughawe wil pendel. Tweehonderd voorafgelaaide Gautrein-kaarte sal aan die eerste 200 Quicket-kaartjiehouers gegee word. Die kaarte is net geldig vir ʼn reis tussen 10:30 en 12:20 van die Gautrein se Sandton-stasie na die lughawe.

“Kom sê Saterdag vaarwel vir jou helde – dis pret, dis gratis en dit gaan fantasies wees,” sê Saru.

Klik hier om jou plek te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Niklaas ·

Dalks verras die Bokke ons weer soos in 2019 en bring die beker saam . Maar ek sal nie baie geld daarop wil wed nie.

Euodia ·

Ek ook nie!! Maar in die tussentyd kan Rassie asb tog besluit of hy Afr of Eng wil praat. Asb tog en Nienaber volg nou al sy voorbeeld.

Charles ·

Ag, die mense wat van Rugby hou is só verruklik. Ek geniet hul ernstigheid terdeë.

SwartBees ·

Ek twyfel of hulle dit twee in n ry kan maak. Dit sal great wees as hulle kan, maar ek sit my geld op die All Blacks.

JohanR ·

Nee wat, dink die 2023 span is lig in die broek! Ons praat miskien weer na die AB/Springbok wedstryd op Twikenham.

piet ·

Ja, dalk as hulle goed speel in daai wedstryd sal daar meer hoop wees maar ek twyfel…

Wikkie ·

Ek is 100% agter die Bokke.
Kan hulle nie net ondersteun wanneer hulle goed vertoon, maar dan soos ‘n sak patats drop wanneer hulle nie goed vertoon nie. Het self kompiterend aan sport deelgeneem. Almal kry hul op en hul af tye.

Die Bokke het die wêreld beker reeds drie keer gewen. Enigste ander span wat dit kon regkry, is die All Blacks. Ons kan weer. En dit kan netsowel hierdie jaar wees.

Delia ·

Soos my man altyd gesê het hulle word te veel betaal. Kan nie aftye het nie.

piet ·

Ons het goeie hoop gehad in 2019 na die goeie wedstryde teen NZ voor die toernooi. Ongelukkig kan ons nie dieselfde se van die Bokke se spelpeil tans na die NZ katastrofe waar hulle maklik geklop is nie. Kolisi is terug, dalk kan dit ‘n verskil maak want hulle was maar leierloos en futloos teen NZ.

Wit Leeu ·

Droom maar lekker ! Dit gaan nie gebeur nie…………………………..

Rupert Ashford ·

Dit sal alles afhang van hoe hulle teen die ABs vertoon. Kans is goed dat hulle teen die ABs sal speel in die kwarteindronde al. As hulle oor daardie hekkie kan kom, het hulle ‘n kans, maar dan sal hulle spelpeil moet optel (baie), en die ABs weer moet “choke” soos so dikwels by hierdie toernooie. Hou Ierland en die tuisspan ook dop – sal tussen die 4 wees (dink ek).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.