Baba brand toe bedjie vlam vat

Luan (2) en sy kleinboet Dian (10 maande). (Foto: verskaf)

ʼn Tweejarige seuntjie van Letsitele in Limpopo het in sy bababoetie se bedjie probeer spring om hom te help toe hy sien hoe dit in vlamme opgaan.

Dian Cloete (10 maande) het Dinsdagmiddag tweede- en derdegraadse brandwonde op 22% van sy lyfie opgedoen toe vonke, vermoedelik van ʼn foutiewe lugverkoelerstelsel, die bababed in sy ouers se slaapkamer aan die brand laat slaan het.

“Dian is nog klein, so hy slaap baie deur die dag. Ek het hom so 14:00 soos gewoonlik aan die slaap gemaak en in sy bedjie gesit,” het Michelle Cloete, die seuntjies se ma, vertel.

Cloete en Luan (2) is kombuis toe, maar die oudste seuntjie is net ʼn paar sekondes later terug na die slaapkamer.

“Hy het vir my geskree sy boetie brand,” het sy gesê.

Luan het in dié stadium in die bedjie probeer klouter om sy brandende boetie te help.

Cloete het al twee seuntjies by die bedjie weggeruk en in ʼn bad gesit waar sy hulle met water natgespuit het. Luan was ongedeerd, maar sy boetie het ernstig verbrand.

Cloete het die nooddienste ontbied en bure gebel om te kom help. Sy het intussen self die vlamme in die kamer geblus. Haar man, JJ (26), werk sowat 60 km buite die dorp en het hom terug na die huis gehaas.

Dian is aanvanklik in die Mediclinic opgeneem en kort daarna na die Mankweng-hospitaal in Polokwane oorgeplaas, waar hy steeds in die brandeenheid behandel word.

“Die eerste paar dae was baie moeilik, ek kon nie ophou huil nie. Sy pa stap nog steeds uit en huil,” het Cloete gesê.

Dian sterk baie goed aan, maar sal na verwagting nog ʼn paar dae in die hospitaal behandel moet word. Die wonde word goed skoongemaak en hy kry onder meer medikasie vir pyn. “Die hospitaalpersoneel kyk regtig mooi na hom,” sê Cloete.

Klein Dian Cloete (10 maande). (Foto: verskaf)

“Dis maar moeilik. Ek kan nie aan hom vat nie, want ek weet nie waar om te vat om hom nie seer te maak nie.”

Die egpaar waak dag en nag by klein Dian in die hospitaal. Luan sal na verwagting vandag en die naweek by sy kleinboet kom kuier, voordat hy vir ʼn rukkie by sy grootouers gaan kuier terwyl Dian in die hospitaal is.

“Hy wou net sy boetie help, hulle is baie lief vir mekaar,” het Cloete gesê.

Die meeste van die seuntjies se klere en items soos hulle melk en doeke is in die brand beskadig of verwoes, maar Cloete het gesê die gemeenskap ondersteun hulle baie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anje Badenhorst ·

Eers sê dit Luan is ongedeerd en dan sê dit Luan is in die brandeenheid. Sterkte aan die familie. Well done aan die boetie wat sy kleinboet wou help.

Gaitsigubib ·

Jy het goed opgtree deur jou kind dadelik met koue water af te spoel. Hy sal steeds n pragtige outjie wees, a.g.v jou flink optrede. Jou ander seun is net 2 en reeds ‘n held – baie dapper knapie! Prys die Here hulle ablei leef!

honourable member ·

Ag siestog die arme kind. Gelukkig het hy n brawe boetie wat kon help. Sterkte julle.

Karolis ·

Die gemeenskap ondersteun hulle baie.
Word maar selde gehoor deesdae.
So spyt dat ek daar weggetrek het.

Jammer! ·

Ek sal verseker vir Dian èn Luan bid en doen dit ook sommer nou, hier waar ek voor my rekenaar sit. Dankie Jesus, dat U hulle gespaar het en ons bid dat Dian nie infeksies sal opdoen nie, Wees ook saam met pappa en mamma vir sterkte. Amen!

Nog n rooijan ·

Maak nie saak waarheen ons probeer redeneer nie, ons is almal deel van hierdie verganklike wereld en staan bloot om ook deur satan aangeval te word. Gelukkig sal herdie dinge nie in die hiernamaals gebeur nie.

???? leser ·

sterkte aan kleinman, sterkte ook aan pappa en mamma, dis verskriklik om so klein, brandwonde op te doen
Ek sal julle ook aan Jesus opdra vir Sy Hand van Genesing en Ondersteuning
dankie ook aan die gemeenskap vir julle hulp

Nin ·

Ag shame arme kind. Baie sterkte aan die jong man en die ouers.

Maria ·

Ek is baie bly die kiddies is ok. Mag Dian gou herstel….. Net n tip wat nog elke keer vir my gewerk het. Op n brandwond gooi mens koekmeel. Dit trek die brand uit en so verminder dit ook blase en die seer na die tyd… Water werk ook maar nie soos koekmeel nie…

Amanda ·

Maroela verwyder asb die meel raad. Google dit asb. Koue water. Meel is n slegte idee.

Anoniem ·

Amanda, ek stem saam met jou. Koue lopende water of Burnshield.

Botter, skoenpolitoer, meel… hierdie boererate veroorsaak infeksie. BLY WEG!!!

Driekie ·

Maria, dis baie gevaarlike advies wat jy gee om brandwonde met koekmeel te wil behandel. Ek hoop van harte geeneen wat hier lees sal ooit koekmeel op ‘n kind se 3de graadse brandwonde gooi nie.

Gesiggie ·

Dit is so hartseer… en siestog om te dink dat klein boet wou help” so jammer dat klein Dian deur al die eina moet gaan… mag Liewe Jesus al jou wonde genees en al jou pyn wegvat,,, sodat jy en boeta Luan weer gou lekker saam kan speel. Sterkte aan die ouers en mag als gou weer beter gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.