Baba deur bure se pitbull verskeur

Argieffoto

ʼn 15 maande oue seuntjie van Gonubie Farm in Oos-Londen is Woensdag deur ʼn buurman se pitbull verskeur.

Dit is die derde pitbull-aanval in minder as ʼn week en die vierde in twee weke.

Volgens brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het die baba met die buurman se hond, ʼn pitbull, gespeel toe die voorval plaasgevind het.

“ʼn Voetganger met ʼn ander hond het naby die erf verbygeloop en die pitbull het vir die ander hond geblaf en glo uit die erf probeer kom. Toe die pitbull nie uit die erf kon kom nie, het hy teruggehardloop na die baba en hom aan sy bolyf gebyt,” sê Kinana.

Paramedici het die baba na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas, waar hy aan sy beserings beswyk het.

Die polisie ondersoek ʼn geregtelike doodsondersoek.

Hierdie voorval volg kort ná ʼn kleuter Sondag in Hennenman, Vrystaat, deur twee pitbulls noodlottig verskeur is.

Maroela Media het vroeër berig die eienaar van twee pitbulls, Lebohang Pali (21), is Maandagoggend in hegtenis geneem en het Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Op 12 November is Olebogeng Mosime (8) van Vistapark in Bloemfontein ook deur die bure se pitbull doodgebyt. Die hond is op die toneel deur polisiebeamptes doodgeskiet.

In nóg ʼn voorval is drie pitbulls die afgelope naweek in Gatesville in Athlone aan die brand gesteek nadat hulle ʼn jong meisie aangeval en ernstig beseer het. Volgens die Kaap van Goeie Hoop‑DBV was dit die tweede voorval in een naweek waar pitbulls deur gemeenskapslede aan die brand gesteek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.