ʼn Kitskoswerker in die Oos-Kaap het Sondagaand ʼn grusame ontdekking in die kleedkamer van die restaurant gemaak. Dit nadat daar al geruime tyd ʼn aardige reuk vanuit dié kleedkamer afkomstig was.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die kitskoswerker het Sondag om 20:30 die lykie van ʼn baba by die kitskosrestaurant in Cleary Park in Gqeberha (Port Elizabeth) aangetref.
“Die pasgebore babadogtertjie is in ʼn plastieksak in ʼn sanitêre asblik in die kleedkamer weggegooi,” sê Naidu.
“Die naelstring was steeds aan die kind vas toe sy ontdek is.”
Volgens Naidu was die baba reeds besig om te ontbind toe personeel eindelik besluit het om ondersoek in te stel oor die reuk wat in die kleedkamer gehang het.
“Op hierdie stadium is daar geen ander inligting oor die identiteit van die kind of die ma beskikbaar nie.”
Die polisie in Gelvandale is nou dringend op soek na die ma van die baba en het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om met enige inligting na vore te kom.
“Enigiemand wat die polisie kan help om die ma van die baba op te spoor of dalk agterdogtig is oor enige vrou wat moontlik geboorte geskenk het, maar daar geen teken van ʼn kind is nie, kan die ondersoekbeampte Edman Mandeka by 078 370 9785 kontak,” sê sy.
Die polisie het intussen ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Gebruik personeel nie die kleedkamer nie en word dit nie gereeld skoongemaak nie?
Nie eens ‘n straatbrak gooi sy kleintjies weg nie!!!!
Met ander woorde die kleedkamers word nie meer elke dag gereeld skoongemaak nie.
Wys net hoe onnet is kleedkamers maar is pateties om jou kind so tot niet te maak
en dan is daar mense wat jare bid en wag vir die geleentheid om ouers te word. Dis BITTER onregverdig en BITTER hartseer om dit te lees. Die mensdom heg nie eers meer waarde aan ‘n lewe nie, nie eers hulle eie nie.