Baba JD uit waakeenheid

Baba JD (Foto: JD Lange prayers and updates/Facebook)

“Dankie, Here, dat U altyd lig bring wanneer als so donker lyk.”

Só skryf die familiewoordvoerder van klein JD Lange op sy Facebook-blad nadat hy Maandag uit die waakeenheid na ʼn gewone saal in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas is. JD is al vir amper ʼn maand in die waakeenheid nadat hy amper by sy dagmoeder in Saldanha aan die Weskus verdrink het. Hy is wel tans blind, maar dokters is vol vertroue dat sy sig mettertyd sal terugkeer.

Volgens ʼn plasing op die Facebook-blad “JD Lange prayers and update” het die familie die naweek die nuus ontvang dat JD na ’n gewone saal oorgeplaas kan word. Hy is Maandagmiddag wel amptelik oorgeplaas.

Die familiewoordvoerder sê JD se ma is oorstelp van blydskap omdat sy nou dag en nag by haar geliefde kleinding kan wees. “Ons is almal in ekstase. Nou kan sy mamma by hom slaap, hom bad en aantrek. In die nuwe saal kan sy hom optel en vashou en hy kan op haar skoot sit en slaap,” lui die inskrywing op Facebook.

JD se drup is Sondag afgehaal en hy is ook gespeen van morfien. Hy is op 12 Maart van lewensondersteunende masjiene afgehaal en het self begin asemhaal. Dít nadat hy longontsteking twee dae tevore opgedoen het toe die dokters hom vir die eerste keer van lewensondersteuning wou afhaal.

Die familiewoordvoerder het Saterdag op die Facebook-blad geskryf die dokters het bevestig dat JD se brein gekrimp het en dat hy tans blind is, hoewel dit normaal is vir ʼn kind soos hy wat breintrauma beleef het. Die dokters het die familie gerusgestel en gesê sy sig sal terugkom. Aanvanklike toetse het gewys dat JD nie breinskade opgedoen het weens die voorval nie.

“Die dokters is so beïndruk met JD se vordering, hulle noem hom sommer hul klein wonderwerkie. Hy vaar so goed,” lui die plasing.

Maroela Media het vroeër berig JD se ma, Jessica Lange, het hom op 2 Maart omstreeks 07:30 in ʼn dagmoeder se sorg gelaat. Hy het in die dagmoeder se swembad geval en amper verdrink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

dankie Vader vir U Hand van Genesing, as dit U wil is maak die kleinman heeltemal gesond, Amen

Martie ·

Alle eer aan YHWH Rapha! Ons glo JD se sig sal ook volkome herstel!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.