Banke lag, maar middelklas huil

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne / Pixabay)

Terwyl banke heerlik wins maak uit die voortslepende hoë rentekoerse, sukkel die middelklaswerker om maandeliks uit te kom, sê die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (Saftu).

‘Waansinnige, misleidende ontleding’

Saftu stem nie saam met die Reserwebank se monetêre beleidskomitee dat inflasie alleenlik die skuld behoort te kry vir voortgesette hoë rentekoerse nie.

Die vakbondfederasie sê die komitee se besluit om die rentekoers Woensdag onveranderd te laat is gegrond op ʼn “misleidende” bepaling van rentekoerse vir inflasieteikening.

“Inflasieteikens berus op ʼn pro-kapitalistiese ontleding wat aanvaar té veel geld is altyd die oorsaak van inflasie. Die waansin van hierdie ontleding word gesien in die feit dat selfs al sou die tegnokrate erken die huidige rondte inflasie word veroorsaak deur aanbodfaktore, hulle steeds die vraag in die geheel teiken om inflasie te beveg.”

Zwelinzima Vavi, sekretaris van Saftu, sê dit is dus duidelik dat hierdie metode nie begaan is oor die werklike oorsake van inflasie nie.

“Dit word eerder gevolg om te verseker dat die orde bevorderlik is vir winsgewendheid.”

Saftu sê die nadeel van inflasie is nie net ’n afname in die koopkrag van werkers se lone nie, maar ook die vermindering van winsgewendheid vir sommige bedryfsektore.

“Dus, deur rentekoerse te verhoog bekamp die sentrale bank nie net inflasie om winsgewendheid vir daardie bedrywe te herstel nie, maar ook die aansporing van die finansiers wat wins maak uit die finansiële bates en laste.”

geld 4 kontant rand

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Vavi sê hierdie feit word geïllustreer deur die groot winste wat banke in die laaste boekjaar behaal het. Die navorsingsmaatskappy Eighty20 se onlangse kredietstresverslag toon dat die koste van die diens van skuld toegeneem het as gevolg van rentekoersverhogings.

Gegewe die feit dat banke verskeie persentasiepunte by verskillende soorte krediete voeg, is die reële persentasieverhoging hoër as die prima uitleenkoers.

Die verslag toon ook dat ʼn gemiddeld van 47% van alle krediethouers se inkomste op paaiemente bestee word. “Daarbenewens bestee middelklas werkers – ʼn afdeling van beroepslui wat bestaan ​​uit gesondheidsorgwerkers, opvoeders, prokureurs, ensovoorts –  79% van hul inkomste op die diens van skuld in die vorm van paaiemente.”

Vavi sê DebtBusters se skuldindeks, wat nie net die koste van krediet toon nie, maar ook die koste van alle skuld van geakkrediteerde finansiële verskaffers, skets selfs ʼn donkerder prentjie.

Die vierde kwartaal van verlede jaar se skuldindeks toon dat die totale skuldblootstelling aan jaarlikse netto inkomste verhouding 106% beloop het.

Argieffoto

“Diegene van die werkersklas wat maandeliks meer as R35 000 verdien, het ʼn jaarlikse netto inkomste-tot-skuld-verhouding van meer as 171% vergeleke met 164% in die derde kwartaal van 2023.”

Diegene wat tussen R10 000 en R20 000 verdien, het ʼn jaarlikse skuldblootstelling van 110% aan hul netto inkomste.

“Die vergelyking van die winste van die finansiers en die skuldblootstelling van werkende mense bewys dat ons nie duimsuig as ons redeneer dat hoë rentekoerse die rykdom van die armes na die rykes verskuif nie,” sê Vavi.

“Lesetja Kganyago se monetêre beleid is dus nie slegs beperkend tot die geld in omloop nie, maar ook ʼn manier van klasse-oorlog teen die werkersklas vir die superrykes in finansiële instellings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koen ·

Duur vakansies, Luukse 4X4’s, Net die duurste klere en selfone vir die kinders, Tuinnatmaak in die middel van die dag gedurende die hittegolf, lekker uiteet. Nee wat, vertel vir my ‘n ander storie van swaarkry.

Goldy ·

Heeltemal waar, die superrykes slaan nou lekker munt uit die middel en laerinkomstegroepe.

Heeltemal waar ook soos Koen sê dat mense minder skuld moet aangaan maar nie almal maak skuld op luukshede nie, sommige net om te oorleef of noodsaaklikhede soos mediese uitgawes of basiese vervoer.

Jacobus ·

Ek sien daar word nie gekyk na wat SARS vat by die wat n paar rand se spaargeld in die bank het en staat maak op daardie rente om te oorleef en SARS dan een derde daarvan vat as inkomstebelasting nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Vra maar vir mense met al die luukses of hulle voorsiening maak vir medies en die oudag. Waarskynlik nie. Twintig jaar vorentoe gaan hier enorme probleme wees ten spyte van NGV.

Leon ·

Ek is geneig om saam te stem met Vavi: Hierdie uitgediende monetêre beleid teiken nou al vir jare net ‘n sub-groep van die werkersklas – wat dalk eindelik inflasie tot ‘n mate inperk, maar maak groot skade in die proses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.