Bedankings by DA allermins einde vir party

(Argieffoto: Reint Dykema)

Daar is ʼn herkonfigurasie van die politieke landskap en terwyl die ANC besig is om as organisasie in te plof, is ander mense ook elders besig om na politieke alternatiewe te soek. Dit sluit die DA in.

Prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê die bedanking van nog ʼn bekende DA-gesig, dié keer politieke veteraan en LP Patricia Kopane, kan nie as aanduiding gesien word dat die amptelike opposisie die einde van sy rakleeftyd bereik het nie.

“Ek lees dit glad nie as die einde van die DA nie. Allermins. Ek dink die DA hergroepeer en gaan baie sterk terugkom,” het Duvenhage by navraag oor nog ʼn hoëprofielbedanking in die party gesê.

Kopane, ʼn voormalige DA-leier in die Vrystaat en die afgelope amper 20 jaar ʼn lid van die party, het Maandag haar bedanking aangekondig en gesê sy gaan ActionSA nader om moontlik deur hierdie party by die politiek betrokke te bly.

Sy sê sy voel nie die DA is meer die party waarby sy in 2003 aangesluit het nie en voel ook nie dat sy in die DA “hoort” of die “ruimte het om politieke bydraes” tot die land te lewer nie.

ActionSA het nie gras onder sy voete laat groei nie en Herman Mashaba, president van die party, het kort ná Kopane se bedanking gesê hy het haar gebel en haar aansluiting by die party persoonlik hanteer.

Mashaba sê die party sal na aanleiding van Kopane se stelling – dat sy by ActionSA wil aansluit – met Kopane vergadering en ʼn “gemeenskaplike verhouding tot voordeel van die mense van Suid-Afrika” vorm.

Kopane se bedanking is die jongste in ʼn hele rits DA-leiers wat nou al hul tasse gepak het, van wie die mees onlangse Makashule Gana, wat vroeër vandeesmaand ook as DA-lid bedank het.

Duvenhage sê daar was moontlik nie veel meer van ʼn toekoms vir Kopane binne die DA nie. Die party het onder sy sogenaamde ou leierskap – wat leiers soos Helen Zille, John Steenhuisen, Roy Jankielsohn en Ryan Coetzee insluit – hergroepeer en daar is waarskynlik ʼn terugkeer na “konserwatief liberale waardes, met ʼn erkenning aan groepsidentiteit”.

Die soeke na ʼn alternatiewe politieke tuiste is nie uniek tot die DA nie en Duvenhage sê dit kan ook gesien word in kritiek deur ANC-lede op die ANC. Partye soos die EFF, ActionSA en die IVP raak ʼn alternatief vir politici, en so ook kleiner identiteitspartye.

“Daar is alternatiewe vir swart leiers.”

Wat betref Kopane se bedanking, sê Duvenhage: “Jy moenie in die een swaeltjie wat nou verby beweeg, ʼn somer of ʼn winter gaan lees nie.”

DA kwyn nie weg

Steun vir die DA staan in hierdie stadium op nagenoeg 27% en Duvenhage sê dit is ʼn aanduiding dat die party tog besig is om vorentoe te beweeg. “Die party is nie besig om leeg te loop of te verloor nie,” sê hy. “Ek dink hulle raak op ʼn manier meer relevant en raak ʼn bietjie van ou hout ook ontslae.”

Volgens hom is politieke partye kwesbaar wat betref rasdiversiteit en hoewel die DA primêr fokus op wit, bruin, Indiër‑ en gemagtigde swart kiesers, lê die DA se steunbasis veral by minderheidsgroepe.

Hoewel hy nie die DA “eksklusief ʼn minderheidsparty” sal noem nie, is die party oorwegend “mense wat hulle binne daardie dampkring bevind en ek dink dit is ʼn goeie basis”.

Hy sê Suid-Afrika is ʼn land saamgestel uit minderhede en politieke partye word telkens in raskonteks gegroepeer. Stempatrone is ook dikwels ʼn weerspieëling van hierdie rassesamestelling en Duvenhage sê daar moet gevra word tot watter mate “die veelrassige eksperiment” binne partyverband suksesvol is.

“Die DA het van al die partye die verste gegaan om ʼn veelrassige profiel te skep. Dit is waar die [voormalige DA-leier] Mmusi Maimane-lyn vandaan kom. Uiteindelik het die spulletjie, met groot skok, ontplof,” sê Duvenhage.

Dit het die party duur te staan gekom en in ʼn stadium was die voorspelling dat die party se steun tot 12% kan daal. Dit lyk egter of die DA besig is om te herstel en hoewel die party nie noodwendig as ʼn minderheidsparty bestempel kan word nie, vind dit aanklank by mense met dieselfde gedeelde waardes.

“Ek verwag dat die DA met ʼn baie sterk poging gaan terugkom in 2024; ek dink hulle het bloed geruik aan die ANC.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Die VF + is so onaktief en doodstil hulle kan net sowel by die DA aansluit,ek hoor en sien nie die party nie en hulle stel teleur die afrikaans sprekende burger word onderdruk en hulle doen wat?

piet ·

Daar’s in elk geval bittermin verskil tussen die partye siende dat die VF+ nie eintlik meer as net ‘n wit party beskou kan word nie. Ook het VF+ basies hul “vorige” hoofmissie van selfbeskikking laat vaar (of hulle doen in elk geval nie voorbrand daarvoor nie) so mens kan maar hulle relevansie bevraagteken in hierdie stadium. En dit is nogal vreemd, nadat hulle soveel meer steun gekry het in die laaste verkiesing het hulle al stiller begin raak.

piet ·

DA gaan baie hof toe, weet nie so mooi van VF+ af nie, daar gaan nie veel aan nie.

annie ·

Action SA speel vir gegriefdes en belowe almal seker ministersposte in sy droomkabinet. Onthou net eenkeer ‘n beswaarde kermpot, altyd een. Almal kan ook nie die Action-leier wees nie, wat hul weldra sal agterkom. Miskien kan die DA-leier ook ‘n slag wyke buite Kaapland besoek en nie net wanneer Zuma-lyding dit aktiveer nie. Dit is deesdae darem nie meer te perd nie.

Althes ·

Ek het niks teen Herman Mashaba nie en ek dink hy het heelwat stres ervaar toe hy destyds burgermeester van Johannesburg was. Ek glo nie hy kan nie lang tye onder druk funksioneer nie.
Hy het ongelukkig op ñ kritieke tyd in die DA bedank wat DA die burgersmeesterspos gekos het.
Ek dink die DA het reg opgetree deur hul kandidaat me Mpho (kan nie haar van onthou nie) die burgermeesterspos te gee. In plaas van om hom weer as kandidaat die pos te gee.

Swerwer ·

Wel tans is daar nie regtig ‘n Party wat vlekkeloos is nie. As die DA se administrasie dalk op stadaard/datum was sou hul nog ‘n stem gehad het maar ongelukkig na registrasie en ‘n persoon is na 5 jaar nie meer op hul kieserslys nie wys dit maar net dat hul jou nie daar wou gehad het nie. .Die “Draadsitters” (soos die oumense baie van gepraat het) moet dalk ‘n slag ‘n party stig en dan kan daar dalk ‘n Party wees wat die leidsels styf bymekaar kan vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.