Beesvleisprys veerkragtig ondanks beurtkrag, verbruikersdruk

Beesvleispryse, het gunstig gereageer op ʼn toename in verbruikersaanvraag oor die feestyd. (Foto: Freepik)

Beesvleispryse, wat histories gevoelig was vir die gereeldheid en intensiteit van veral beurtkrag, het gunstig gereageer op ʼn toename in verbruikersaanvraag oor die feestyd – ondanks gereelde en kwaai beurtkrag.

Volgens Absa se jongste Agri-neigingsverslag is die verwagting dat rooivleispryse waarskynlik ʼn opwaartse neiging op middellang termyn gaan volg. Dit word gesteun deur verbeterde uitvoervooruitsigte na onder meer markte soos Saoedi-Arabië.

“Sterker bande met wêreldmarkte sal ook ruimte bied vir meer aggressiewe prysgroei, aangesien kuddelikwidasie in sleutelmarkte soos die VSA waarskynlik die vraagondersteuning vir internasionale beesvleispryse oor die komende maande gaan beperk,” sê dr. Marlene Louw, senior ekonoom by Absa AgriSake.

“Op tuisbodem sal die aanvraag na verwagting tot ʼn mate herstel namate die rentekoers daal en beurtkrag afgeskaal word.”

Absa se landbouneigingsverslag dien as ʼn deurslaggewende gids en bied aan belanghebbendes oor die hele landbouwaardeketting noemenswaardige insig in die ontwikkelende landskap wat hulle bemagtig om ingeligte besluite te neem om volhoubare groei te bevorder.

Beurtkrag gaan waarskynlik egter nog tot 2027 ʼn kenmerk van die Suid-Afrikaanse ekonomie wees. (Foto: Freepik)

Vorige uitgawes van die verslag het gewaarsku dat toenames in beurtkrag ʼn negatiewe uitwerking het op verbruikersinkomste en verbruikers se vermoë om beesvleis te bekostig.

Boonop het die risiko van vermorsing weens lang tydperke sonder krag ook beteken dat verbruikers ietwat minder geneig was om beesvleis te koop. Dit het weer druk op pryse verhoog. Die afgelope maande is hierdie neiging egter omgekeer.

Volgens Louw kan hierdie prysveerkragtigheid aan drie faktore toegeskryf word:

  • Verbruikers in hoë-inkomstehuishoudings het ʼn strukturele aanpassing gemaak om die uitwerking van beurtkrag te versag, met ontleders wat wys op ʼn toename van meer as 300% in sonpanele gedurende 2023. Hierdie tendens word bevestig deur verbruikersdata wat toon dat Suid-Afrika vyf keer meer kragopgaarbatterye in 2023 as in 2022 aangeskaf het.
  • Laer brandstofkoste gedurende die tweede en derde kwartaal van verlede jaar het gelei tot ʼn mate van verligting wat lewenskoste betref.
  • ʼn Stabilisering van rentekoerse, hoewel op ʼn hoër vlak, sal waarskynlik ʼn mate van verligting vir verbruikers gedurende die tweede helfte van vanjaar bring.

Beurtkrag gaan waarskynlik egter nog tot 2027 ʼn kenmerk van die Suid-Afrikaanse ekonomie wees.

“Ons ontleding dui daarop dat verbruikers en waardekettings tot groot mate in tegnologieë belê het wat die risiko van vermorsing sal verminder en die vloei van goedere deur die waardeketting sal vergemaklik. Die verhoogde koste hiervan, gekombineer met minimale ekonomiese groei weens elektrisiteitsbeperkings, sal waarskynlik die voordele van prysstygings, ondersteun deur sterker vraag, op middellang termyn beperk,” sê Louw.

Aan die voorsieningskant is die warm en droë weer ʼn ontwikkelende kwessie wat ʼn mate van risiko vir die gedempte aanvraag inhou. Mieliepryse het sedert begin Februarie met 15% gestyg, wat opwaartse druk by pryse oor die komende maande kan voeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rudolph ·

Ek sou ‘n paar jaar gelede op die berig gereageer het. Nou wens ek die prys van diereprodukte wil met 10000% styg en dit sal steeds te min wees om te vergoed vir die dood, ongeregtigheid, uitbuiting, mishandeling en pyn en lyding van plaasdiere verduur. Elke keer as ek by ‘n trok verby ry wat diere vervoer, ‘n slaghuis, koelkaste in die supermark wat vleis uitstal word my gemoed swaar en voel dit asof my hart in ‘n bankskroef gepers word. Ek kan dit nie ontduik, vermy, verwerk aanvaar nie. Dit sal by my bly totdat ek my laaste asem uitblaas

tweeling ·

Sjoe maar jy veralgemeen nou. Hoe wil jy vleis eet as die dier nie dood is nie. Dit bly ‘n dier. Jy is seker ‘n vegetariër.

Nommer 7 ·

@Rudolph, elke keer as ek deur die Karoo reis, en ek sien al die skape wei, dan water my mond!

Karoo ·

Rudolph, ek doen ook nie goed daarmee om diere na die slagpale te sien gaan…. of die lee trokke met mis te sien nie. Ek eet vleis, maar mors nie daarmee nie, en ondersteun boere wat self slag i. p. v kraal diere wat dalk erger af is.

Gaitsigubib ·

Ek hoop nou nie jy vaar weer uit teen groente boere nie. Het jy al gesien wat gebeur wanneer die staat die gebruik van kunsmis verban wanneer daar nie n altenatief in plek is nie? Nou was hulle hul hande in onskuld, nadat mense omgekom het van hongersnood!

Papsak ·

Ek stem ek eet nie vleis nie kan nie vat om te sien hoe moet diere dood gaan dat ek moet eet my hart breek regtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.