Begrotingsrede: Godongwana wéét hoe gek NGV is, maar durf hy dit sê?

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hush Naidoo Jade/Unsplash)

Solidariteit hoop wysheid sal seëvier in die minister van finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede deurdat hy duidelik sal sê dat die land Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie naastenby kan bekostig nie.

Ondanks politieke druk het die nasionale tesourie in die aanloop tot 2024 se begrotingsrede nog geen aanduiding gegee dat hy glo die NGV is hoegenaamd haalbaar nie.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is Suid-Afrika se belastinginkomste as persentasie van bruto binnelandse produk (BBP) reeds veel hoër as in amper elke ander land ter wêreld en belastingbetalers betaal dus rééds meer belasting as wat hulle werklik kan.

“Dit is mos kranksinnig om te dink die regering kan die bykomende sowat R300 miljard, wat die NVG gaan kos, deur belasting invorder.

“Die land handhaaf die afgelope paar jaar al ʼn begrotingstekort wat die nasionale skuld jaarliks verder laat styg. Nóg ʼn groot begrotingsitem sal die land sink,” sê Du Buisson.

Du Buisson beklemtoon dat die staat se inkomste reeds die grense van billikheid oorskry van dit wat hy kán invorder, en dieselfde kan beslis ook van sy uitgawes gesê word.

“Die minister is die waarheid aan Suid-Afrikaners verskuldig. Dit sal hy doen as hy die NGV in sy begrotingsrede as ʼn ANC-lugkasteel bestempel, eerder as om met ongegronde kader-positiwiteit daaroor nóg kluitjies te verkoop,” sê Du Buisson.

Du Buisson is nie verbaas oor die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se pleidooi dat pres. Cyril Ramaphosa die NGV-wetsontwerp “ter wille van beter gesondheidsorg” onderteken nie.

“Lesufi sê die Gautengse regering wil 18 privaat hospitale ter voorbereiding op die NGV terugkoop om staatshospitale van hulle te maak.

“Vir só iets om sin te maak, moet daar tog bewys kan word hoe die staat hospitale beter as die privaat sektor bestuur. En tog is daar ʼn lang lys van bewyse wat die teendeel onderstreep.

“Dít is, soos die NGV-planne sélf, volslae malligheid. Die nasionale tesourie het die geleentheid om die eerbare ding te doen en dit te erken,” sê Du Buisson.

Meer praktiese oplossings nodig

Craig Comrie, voorsitter van die Health Funders Association (HFA), wat sowat 73% van oop mediese fondse en byna die helfte van mediesefondslede verteenwoordig, sê die land het praktiese oplossings nodig om toegang tot gesondheidsorg te verhoog en bekostigbaarheid te verbeter.

“Met die huidige skuld-tot-BBP-ratio en talle eise op die staatsbeursie is dit egter moeilik om te sien hoe die staat dit gaan kan bekostig om alleen die NGV te finansier, soos uiteengesit in die NGV-wetsontwerp.”

Comrie meen die bestaande regulatoriese raamwerk kan ʼn meer lewensvatbare wegspringplek wees om die doelwitte van universele gesondheidsdekking te behaal deur samewerkende gesondheidsorg-inisiatiewe wat toegang tot gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners verbeter.

“Om die NVG in die huidige ekonomiese klimaat te finansier, is ʼn onmoontlike taak vir die nasionale tesourie. Ons maan die presidensie om eerder alternatiewe moontlikhede te ondersoek om universele gesondheidsorg moontlik te maak. Daar is ʼn kritieke dringende behoefte om noodsaaklike hulpbronne te hersien en beter aan te wend as die NGV se moontlik onvolhoubare raamwerk.”

Comrie sê dit sal ʼn swaar finansiële las vir die Suid-Afrikaanse belastingbetaler wees, veral in hierdie tyd, met kostevooruitskattings van tussen R200 miljard tot selfs R500 miljard of R800 miljard per jaar indien NGV ten volle ingestel word.

“As ʼn land kan ons nie bekostig om te dobbel met ʼn projek wat nie enige rigting of finansiële lewensvatbaarheid toon nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nicky ·

Ag hy gaan nie luister nie hulle is soos iemand wat sink maar glo hulle self terwyl hulle sink

Marina ·

Die ministers gaan buiteland toe gevlieg word vir mediese behandeing. Dus gaan die plan hulle nie persoonlik raak nie. Op papier klink die gesondheidsplan na n wonderlike plan, maar enige persoon met n IK van bo 70 (en durf om vir hulself te dink) kan duidelik sien dat hierdie plan nooit in SA kan werk nie. Hierdie is bloot n verkiesings-foefie om die bakhand-kultuur aan te moedig om weereens verkeerd te stem. Gooi net die gratis t-hempies by en “Bob’s your uncle”. Baie mense gaan hul lewens in die proses verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.