Bekende Afrikaanse liedjieskrywer oorlede

Piet van Wyk de Vries (Foto: FAK)

Piet van Wyk de Vries, wat deur sommige as een van die beste Afrikaanse liedjieskrywers gereken word, is oorlede.

De Vries het Sondag nog ʼn vertoning by die Atterbury Teater gedoen – op sy 51ste verjaardag en ondanks sy swak gesondheid. Hy is ʼn paar jaar gelede met kanker gediagnoseer en dit het verlede jaar tot fase 4-kanker ontwikkel. De Vries is Donderdag oorlede.

Dié bekende liedjieskrywer is verlede maand deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer met die hoogste eerbetoning wat die FAK aan ’n kunstenaar kan gee – ’n liedjiebord in die Afrikaanse Liedjietuin.

“Rembrandt” word deur Piet van Wyk de Vries en dr. Danie Langner onthul

“Rembrandt”, een van De Vries se mooiste liedere, staan nou trots in dié kultuurorganisasie se rosetuin, vir generasies wat kom ter herinnering aan ’n fantastiese man wat deurentyd die Afrikaanse kunste bevorder het.

De Vries, die liedjieskrywer agter verskeie liedjies van Mathys Roets, Ricus Nel en Dozi, om net ʼn paar te noem, het ook algemene bekendheid verwerf as solokunstenaar met vier oorspronklike solo-albums agter sy naam.

De Vries en Roets deel ‘n teer oomblik op die verhoog (Foto: Mathys Roets/Facebook)

Roets was Sondag saam met De Vries op die verhoog en was ook daar toe De Vries deur die FAK vereer is.

“Ek ken Piet al 30 jaar. En hy skryf van die mooiste Afrikaanse liedjies. Elkeen vertel so ʼn spesiale storie. Na soveel jaar verstom dit my hoe die liedjies se woorde aanpas by my omstandighede. Hy skryf nie om iemand te beïndruk of om ʼn treffer te soek nie. Hy skryf waaroor hy dink en wat hy voel en ervaar. Ons gaan sy woorde en musiek nog baie lank kan luister in Afrikaans.”

Roets het 19 liedjies uit De Vries se pen opgeneem, insluitend “Fluister”, “ Partykeer” en “Gert Vlok Nel se Treine”. Ricus Nel se “Madelein Madelein” kom ook uit De Vries se pen.

“Hy het geweier om kommersieel te skryf. As hy gevra is om ʼn liedjie wat hy geskryf het meer kommersieel te maak vir ʼn sanger, het hy nee gesê. Hy het altyd iets spesifieks gesê met ʼn lied; altyd iets moois gesê.”

(Foto: FAK)

Volgens Roets is “Rembrandt” die lied waarop De Vries die trotsste was.

De Vries se vorige groot teatervertoning was ook by die Atterbury Teater. Dit was vir sy 40ste verjaardag en die vrystelling van sy laaste album, Die Geheime Wêreld van Piet van Wyk de Vries. Hy het besluit om hierdie hoofstuk van sy lewe af te sluit by dieselfde plek en op dieselfde manier. Sondag se vertoning het ook as ʼn fondsinsameling gedien vir die mediese koste van die afgelope paar jaar.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het verlede maand saam met De Vries die “Rembrandt”-liedjiebord onthul.

“Die liedjietuin was stampvol met familie en vriende. Sy ma was daar. Matthys het van Piet se liedjies gesing voordat Piet ons op sy reis geneem het. Hy vertel van ʼn loopbaan wat met ʼn FAK-liedjieskryfwerkswinkel begin het met ʼn sertifikaat wat deur Jannie du Toit, Christa Steyn en Lucas Maree geteken is, tot ʼn wandeling waar Lucas Maree hom oortuig het om in Afrikaans te skryf en sing.

“Alhoewel hy sigbaar terminaal siek was, was sy stem vol energie. Hy het mense laat lag en huil. Toe die meeste gaste huiswaarts keer, het Piet en Matthys saam met sy familie en vriende tot naby middernag gekuier. Die kampvuur het hoog en vrolik gebrand. Hulle het rooiwyn gedrink, ʼn bietjie gesing en baie musiek gespeel. Soms hard, soms sag. Dit was Piet se laaste kampvuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Skappie ·

Sterkte aan sy familie en vriende kring. Mag onse Liewe Heer julle almal deur hierdie moeilike tyd dra.

piet ·

Moet se ek ken hom nie maar dis dikwels hierdie ouens wat in die agtergrond werk wat die lof verdien. Rudi Klaase is nog een wat ek dink nie die lof kry wat hy verdien nie. Die vet weet, ek weet nie hoeveel treffers al uit sy pen gekom het nie.

JohanEtz ·

RIV – sy laaste Atterbury optrede op sy verjaardag met rooiwyn gevier – wonderlike einde van ‘n stil man – en 4 dae later saggies heengegaan….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.