Bekende entrepreneur sterf

Matthew Buckland

Die bekende entrepreneur en digitale pionier Matthew Buckland is in die ouderdom van 45 aan kanker oorlede.

Buckland was ten tyde van sy dood hoof van Burn Media Group, ʼn groep uitgewershandelsmerke. Hy het die digitale agentskap Creative Spark en Burn Media in 2010 begin en het sy aandele in 2015 aan die internasionale advertensie-agentskap M&C Saatchi verkoop voor hy later weer die leisels by Burn Media oorgeneem het.

Michael Jordaan, voormalige uitvoerende hoof van FNB en waagkapitalis, het op Twitter gesê hy het verlede week Buckland se boek, wat nog nie gepubliseer is nie, gelees. “Hy het my gevra om dit te resenseer en op die finale bladsye het ek van sy siekte gelees. Vandag is ek selfs meer geskok om te hoor hy is oorlede.”

Buckland was van 2000 tot 2007 die hoof van Mail & Guardian se aanlyn platforms en het ook al vir Naspers en die BBC gewerk.

Buckland was ook ’n konsultant en belegger by die multinasionale mediafonds Media Development Investment Fund (MDIF) wat internasionale mediakliënte ondersteun by wyse van finansiële beleggings en strategiehulp.

Hy het ʼn BA-graad in geskiedenis, filosofie en joernalistiek van Rhodes gehad en het al  wêreldwyd praatjies oor digitale kwessies en strategieë gelewer.

Buckland het saam met sy vrou, Bridget, en twee dogters in Kaapstad gewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

bolla ·

Dis opvallend hoe baie van hierdie high achievers jonk sterf. Hulle bereik seker maar vroeg wat ander mense in ‘n leeftyd na nastreef.

Sam ·

Mens besef al meer, in die tyd waarin ons lewe, hoe tevergeefs en ‘n gejaag na wind ons lewens is as ons God nie ken, eer en dien nie. Mag ons vir ons skatte bymekaarmaak waar mot en roes nie kan verniel nie.

My innige meegevoel aan die oorledene se geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.