Bekende in ruiterkringe ernstig beseer ná val

Janita Doyer, Arkab Arabier-stoetery, perdruiter, uithouritte, Arabiere

Janita Doyer, op haar gelukkigste saam met een van haar perde. (Foto: Verskaf)

Gebede en boodskappe stroom in vir Janita Doyer, ʼn bekende in perderuiterkringe, nadat sy van haar perd afgeval het en ernstig beseer is.

“Dit is ernstige gebedsake hierdie,” het Nellie Tromp, Doyer se dogter, Vrydag gesê.

Sy was Vrydagmiddag op pad na die Life Midmed-hospitaal op Middelburg, Mpumalanga, waar haar ma sedert die Paasnaweek in ʼn medies geïnduseerde koma gehou word.

Volgens Tromp was haar ma deel van ʼn groep ruiters wat aan ʼn geskiedkundige toer deelgeneem het. Die roete het oor 117 km en vier dae gestrek. Die reis, van Dullstroom tot Belfast, het ryers geneem na talle geskiedkundige persele, monumente en gebiede waar bekende veldslae plaasgevind het.

Doyer en die groep was Maandag onderweg na die laaste monument wat hulle sou besoek, toe haar perd gestruikel het. Haar ma was op een van haar gunsteling-toerperde gewees, sê Tromp.

Met die val het Doyer ʼn nekbesering opgedoen, sy het opgehou asemhaal en haar hart het gaan staan.

“Daar was ʼn paar benoude oomblikke,” sê Tromp.

Gelukkig, sê sy, was daar van die mederuiters wat dadelik noodhulp kon toepas. Een van die ruiters was ʼn dokter en het gehelp om Doyer se hart weer aan die gang te kry terwyl daar op die ambulans gewag is.

By die hospitaal is vasgestel dat hoewel daar nie werwels in Doyer se nek verplaas is nie, sy wel haar nek in wese gebreek het.

Volgens Tromp sal die volle omvang van die skade, en of daar enige verlamming is, eers later met sekerheid bepaal kan word.

Janita Doyer, Arkab Arabier-stoetery, perdruiter, uithouritte, Arabiere

Janita Doyer soos baie haar ken op een van haar perde. (Foto: Verskaf)

Die grooste bekommernis is nou Doyer se longe wat sukkel om behoorlik te funksioneer en daar is besluit om haar op ʼn ventilator te plaas.

“Dit was ʼn moeilike besluit … maar almal dra haar op en ons ontvang baie gebede en boodskappe uit alle oorde. Dit dra ons,” sê Tromp.

Doyer is nie net bekend in uithourit- en perdekringe nie, maar ook vir haar Arkab Arabier-stoetery naby Belfast.

Tromp het haar ma as ʼn groot gees in die bedryf beskryf.

“Sy is nie iemand wat noodwendig daarvan hou om in die kollig te wees nie, maar sy het goeie raad gegee en mense is veral daarom lief vir haar,” sê Tromp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Olive ·

Wonder hoekom die arme perd gestruikel het. Dalk uitputting?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.