Bekende Oos-Randse klerewinkel in brand verwoes

Die brand by Boundary Silk Bazaar vroeër die week. (Foto: Verskaf)

Die Boundary Silk Bazaar-klerewinkel in Kempton Park aan die Oos-Rand is vroeër die week in ʼn brand vernietig.

Dié winkel bestaan al 83 jaar en verskaf uniforms aan talle skole in die omgewing. Die winkel maak ook gordyne en het sy deure in 1939 geopen.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, sê hulle het Dinsdag 22:20 ʼn oproep ontvang dat die winkel in vlamme gehul is.

“Met aankoms het die gebou op die hoek van Albatrossweg en Sarelstraat gebrand. Agter die winkel is woonstelle wat gelukkig gered kon word,” het Ntladi aan Maroela Media gesê.

Brandbestrydingspogings het tot 10:00 die volgende oggend geduur. Niemand is tydens die voorval beseer nie.

ʼn Ondersoek na die oorsaak van die brand is reeds van stapel gestuur. Die omvang van die skade is ook nog nie bekend nie.

Verskeie gebruikers het hul hartseer op sosiale media uitgespreek – met menige verwysing na die winkel as ʼn “baken” in die gemeenskap. Ander gebruikers wou weet waar hulle nou skooluniforms sal kan koop.

“Boundary Silk Bazaar is vernietig. Dis al langer deel van Kempton Park as wat my ouma en oupa leef,” het Trudie Prinsloo Kruger op Facebook geskryf.

Hannes van der Walt het op sy Facebook-blad gesê sy hart gaan uit aan die eienaars van die winkel.

“Vertrou julle gaan sterker uit hierdie verwoestende brand opstaan.”

Annatjie Oberholzer sê Boundary Silk was ʼn ikoniese plek vir ieder en elk wat skoolklere daar gekoop het.

“Nog ʼn stukkie geskiedenis vir ewig tot niet.” 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

madels ·

Ja alles wat verbind word aan die Afrikaner se geskiedenis word afgebrand, ek glo nie meer die liegstories dat dis n dit if dat wat die brand veroorsaak het nie want dis darem net te toevallig dat plekke van historiese waarde sommer so brand :-( veral as dit aan Afrikaans/Afrikaner gekoppel word

Di ·

Stem 100% saam! Hoekom nou skielik brand AL hierdie historiese besighede en geboue af??

Hompie ke Dompie ·

In my jong dae was dit ‘n klein Indiër winkeltjie. Jammer om te hoor.

Ontnugterde senior ·

Hierdie winkel behoort nog steeds aan dieselfde Indier familie wat dit oorspronklik geopen het. Dit bly nog steeds ‘n historiese erfenis al is dit nie ‘n tradisionele afrikaanse winkel nie. Ek hoop regtig die familie sal weer die winkel kan herstel. ek het graag my naaldwerk benodigdhede daar gekoop. My opregte empatie met die familie.

Maritza ·

Ons vermoed die vuur het in die kafee langsaan begin. Was baie hartseer om dit in vlamme te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.