Belfast-slagoffer se man voor haar oë doodgeslaan

Izak en Marietjie Berrangé (Foto: Verskaf)

Marietjie Berrangé (81) het gesien hoe haar man, Izak (83), sy laaste asem uitblaas nadat hy met ’n jukskei doodgeslaan is.

Die egpaar is Woensdagaand in hul huis in Belfast, Mpumalanga, deur vermoedelik twee mans aangeval. Marietjie is erg aangerand en in ’n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem. Izak is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Volgens die egpaar se seun, Rudi Berrangé, is sy ma reeds uit die hospitaal ontslaan en gaan dit onder die omstandighede goed met haar. Afgesien van die kneusplekke op haar arms, lyf en bene het sy geen kopbeserings of beenfrakture opgedoen nie.

“Haar gesig rondom haar oë is gekneus en blou. Sy kan skaars deur haar oë sien. Haar lyf is ook vol kneusplekke en haar arms is stukkend geslaan. Dit klink asof hulle haar met ’n jukskei op die lyf geslaan het,” vertel Rudi aan Maroela Media.

“Hulle het haar verskriklik op die bene geslaan en sy kan nie tans loop nie. Volgens my ma het die aanvallers vir haar gesê hulle wil nie hê sy moet kan loop en hulp soek indien sy dalk oorleef nie.”

Maroela Media het vroeër berig die egpaar se kleinseun het Donderdag op ’n bebloede toneel in sy grootouers se kombuis afgekom. Die kleinseun het sy ouma op die vloer aangetref, terwyl sy oupa se lewelose en bebloede liggaam in ’n stoel was.

Die egpaar se Nissan Sentra, ’n .22-geweer, juwele en bankkaarte is gebuit. Die voertuig is later ’n paar strate van die huis (Fitzgeraldstraat) gevind.

Kol. Donald Mdluli, polisiewoordvoerder, het bevestig dat nog niemand in hegtenis geneem is nie.

Vrees, hartseer

Die Berrangé’s se huis in Belfast. (Foto: VF Plus)

Volgens Rudi leef sy ma tans in vrees en “is bang as sy haar oë oopmaak, gaan daar iemand met ’n klapmus voor haar staan”. Die mans het die aand klapmusse aangehad, vertel hy.

“My ma is bang hulle kom terug vir haar, want hulle het haar daar in die huis vir dood gelos. Sy kan als onthou.”

Volgens Rudi het die aanvallers sy ma ten aanskoue van sy pa gemartel om hom sover te kry om die kodes van die bankkaarte vir hulle te gee.

“Hulle het my ma heen en weer in die huis gevat om vir hulle goed te wys. Sy moes ook vir hulle die registrasiepapiere van die motor kry.”

Tussendeur die vrees treur Marietjie oor haar man, wat voor haar oë vermoor is.

Marietjie kan onthou hoe Izak met die aanvallers baklei het toe hulle hom met ’n jukskei oor die kop geslaan het, vertel Rudi.

“My pa het teruggeval, begin roggel en toe sy laaste asem uitgeblaas.”

Rudi onthou ook die bebloede kombuis, met bloed wat orals teen die mure en kaste was.

“Ek kan nie die sinneloosheid van die wreedaardige aanval verstaan nie. Dit was so onnodig.”

Saggeaard en geduldig

Rudi onthou sy pa as ’n saggeaarde en geduldige persoon, wat baie vir mense omgegee het. Hy het ook ’n goeie sin vir humor gehad.

“Hy was ’n regte oupa gewees. ’n Oupa wat enigiemand wil hê. Hy was ’n vriend, pa en wonderlike man. Hy was ontsettend lief vir my ma, sy kinders en kleinkinders.”

Izak was ’n pensioenaris en het steeds trots in die kerkraad gedien. In sy vrye tyd het hy graag gaan hengel of jukskei gespeel. Hy het nasionale kleure in jukskei verwerf en was met sy dood nog president van die Platorand-hengelklub.

’n Roudiens vir Izak word Saterdag om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Belfast gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

domheks ·

Gemors van gemors! Hoop hulle kry hulle naweek! Teiken ou weerlose mense – te papbroekig om hulle eie ouderdom aan te vat! Gemors!

Jacobus ·

En dan ondersteun Ramaphosa Hamas om eerder sy eie land se burgers te beskerm.

Leona ·

Sjoe! My innige simpatie en ek wens ek kon julle net n drukkie gee.

Delia ·

Ai Tannie. Ek kan my nie Tannie se trauma indink nie. Mens verstaan net mooi niks van hoekom dit so moes gebeur. Ek is so ongelooflik jammer dat Tannie nou sonder die Oom moet leef. Ek wens ek kon Tannie net bietjie vashou en sê dit sal ok wees, maar ek weet niks in Tannie se lewe sal ooit weer dieselfde wees.

George ·

Nou ons het so baie politieke partye almal moun die moord syver is die hoogste in die werld . maar nie een doen iets omtrent dit nie . Almal bly maar net moun en moun .

Gaitsigubib ·

Soos jy se, mens moet nie net moun nie. Wat doen jy wat jy vir ons kan voorstel?

Suzette ·

Dit is ongelooflik hartseer en so onnodig. Woorde ontbreek my om te beskryf hoe ek voel teenoor hierdie duiwelse moordenaars in ons land.
Baie sterkte Tannie Marietjie en gesin in hierdie onbeskryflike hartseer tyd.

Amelia ·

Miskien sal dit help as hul n vonnis kry van n leeftyd bedoelende jy gaan in tronk dood
n geen parool maar met ons reg stelsel sal dit seker nie gebeur nie laat moordenaars ook als verloor huis kar ens terwyl in tronk is ek geen genade vir hul nie

madels ·

Dis so wreed, want dis koelbloedige moord en hul wil altyd dat dit lyk soos inbraak…dis ongelooflik evil wat in ons land aangaan..so jammer vir hierdie tannie en die kinders wat n man en wonderlike Pappa verloor het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.