Beloning uitgeloof in soektog na Joslin Smith (6)

Joslin Joshlin Smith, vermis, Saldanha, Diazville, gesoek

Die vermiste Joslin Smith (6) van Saldanha in die Wes-Kaap. (Foto: Wes-Kaap Polisie)

Die Saldanhabaai-munisipaliteit het ’n beloning van R20 000 uitgeloof vir inligting oor die vermiste Joslin Smith (6).

Dié beloning sal na verwagting binnekort tot R25 000 verhoog word nadat die munisipaliteit nog ʼn skenking ontvang het, het André Truter, burgemeester van Saldanhabaai, Maandag aan Maroela Media gesê.

ʼn Groot soektog na die dogtertjie is nou al ʼn week lank aan die gang. Sy het verlede Maandag verdwyn en haar ma, Kelly, het die dogtertjie Dinsdag as vermis by die Saldanhabaai-polisiestasie aangemeld.

Truter sê die munispaliteit se besluit om ook betrokke te raak, was ʼn “natuurlike reaksie”.

“Dit is ’n weerlose kind en wanneer weerlose mense betrokke is, voel ek daartoe gedryf om iets te doen. Ek weet my span voel dieselfde.

Joslin Smith (6) van Saldanhabaai word sedert verlede Maandag vermis. (Foto: Facebook)

“Ons het ’n hart om mense op die grond te dien.”

Verskillende departemente by dié munisipaliteit is van verlede week af op verskeie maniere by die soektog betrokke, hetsy deur die druk van pamflette, of by die soektog self. Truter plaas ook gereeld inligting op sy Facebook-blad om die gemeenskap ingelig en positief te probeer hou.

“Ons het ’n wonderlike gemeenskap, distrik, provinsie en land. Ons het selfs boodskappe van mense in ander lande gekry,” het Truter gesê.

Hy het oor die naweek foto’s gedeel van inwoners van Atlantis, ook in die Wes-Kaap, wat plakkate met foto’s van Joslin op vasgehou het. Dié saamtrek vorm deel van ’n #KeepHopeAlive-veldtog wat sedert Joslin se verdwyning posgevat het.

“Dit is verblydend om te sien hoe die hele land uitreik,” het dié plasing gelui.

“Dit is egter die mense van Saldanha en die Weskus wat geweldige vasberadenheid toon om die soektog elke dag aan die gang te hou. Mense van reg oor die provinsie sluit elke dag by die soekspan aan; almal wat loop en soek het Joslin op die hart.”

Maroela Media het ’n navraag oor die vordering met die soektog aan die Wes-Kaapse polisie gestuur, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ore ·

Watse mens met ‘n hart doen leed aan so ‘n pragtige kindjie? Soos haar moeder op TV pleit, sy is nog ‘n babatjie. Liewe genade, hoe siek is die wêreld nie. Vrouens moenie desperaat raak om mansvriende in te neem nie maar die samelewing het ook ander reëls veral waar mense daagliks veg om te oorleef. Wil nie oordeel nie, maar ek en vele ander hoop en bid die kleinding is ongedeerd. Sy is so pragtig

Chavonne ·

ons bid net dat sy gevind word. ai, dit le swaar op ‘n mens se hart as kindertjies vermis gaan.

Estelle ·

Dit is verskriklik hartseer, wat ‘n pragtige dogtertjie. Maar ek stem saam met Pierre, die kêrel weet waar sy is. Ons bid en hoop almal saam dat sy lewend gevind sal word.

Danie ·

Die groot hartseer van sulke ontvoerings is dat die kans al hoe kleiner raak hoe langer ‘n persoon weg is. Die kanse raak ook al hoe beter dat, veral sy, in iemand se muti pot sal eindig.

Laurika ·

Ek stem volkome. Die kêrel weet baie goed – maar ek het so ‘n gevoel die ma weet ook meer as wat sy voorgee….

JohanR ·

Soek nie verder as die kerel saam met wie die dogtertjie gelos is. Sy sal of weggesteek wees, of iewers begrawe. Hy weet presies wat hy gedoen het en waar haar liggaam is. Help seker ook soek!

TO ·

Ek kan nie dink sy verdwyn net so sonder enige leidrade nie. Nie in ‘n klein plekkie soos Saldanha. Begin by die begin. Daar is te veel mense wat useless boyfriends aanhou en nie dink aan die gevolge vir hulle kinders nie. Ek praat van ondervinding

Papsak ·

Ons bid net dat sy lewend gevind word vir haar ouers en familie se part sterkte

George ·

@TO, maak nie saak hoeveel mense daar is nie, dinge gebeur wat heel normaal lyk in die omstandighede waar sy gebly het – kinders wat kinders rondloop winkel toe ens. Iemand kon baie maklik so saam haar geloop het en verdwyn het, veral met die hawe 4km weg.

Cassie Carstens ·

Die Vader weet alleen hoekom ons wereld se mense so siek is.

Katrina ·

@ Danie….is my bekommernis ook….daardie uitsonderlike pragtige oë…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.