Beloning uitgeloof ná moord op 73-jarige vrou

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Beloning van R10 000 word uitgereik vir enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die skuldiges wat verantwoordelik is vir die moord op die 73-jarige Trudie Grebe van Modimolle in Limpopo.

Die Waterberg Agri System Professional Security-groep het die beloning uitgereik en ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan.

Intussen het kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, bevestig niemand is nog in verband met Grebe se dood in hegtenis geneem nie. Maroela Media het vroeër berig ʼn besoeker het Vrydagoggend op Grebe se liggaam buite haar huis in Modimolle afgekom.

Volgens Ngoepe lyk dit asof Grebe met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan is. Sy het ook verskeie steekwonde aan haar kop, nek en hande opgedoen.

Die plaaslike koerant, Die Pos, berig ontstelde bure het Grebe se man, Dolf (75), bygestaan nadat die nuus van haar dood aan die lig gekom het. Volgens berigte was Dolf glo in die huis ten tyde van die moord.

Ngoepe wou egter nie dié inligting aan Maroela Media bevestig nie en voer aan dit kan die polisie se ondersoek nadelig beïnvloed.

ʼn Ander polisiewoordvoerder het aan Maroela Media gesê verskeie honde is deur die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) van die Grebe-egpaar se erf verwyder.

Grebe het haar eie onderneming waar sy honde gebad en geskeer het van die huis af bedryf.

Cheryl Oosthuysen van die DBV het aan Maroela Media bevestig dat die honde tans by die vereniging is. Sy het gesê al die honde is veilig en goed versorg.

Op sosiale media is Grebe beskryf as ʼn waardige, saggeaarde en nederige mens wat baie geliefd was in haar gemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Magda ·

Hoop hy/sy word gou gevang – maar dat die Psigiatriese kaart asb tog net nie weer gespeel gaan word nie.

marous ·

Daar is geen land ter wereld wat meer lafhartige ou mens moordenaars het as die plek
nie . ‘n Stuk lap is ‘n volgens die heersers van die hool ‘n verskrikking maar die uitwissing van ou mense op die wreedaardigste maniere denkbaar elke dag , word duidelik goed gekeur . Publiseer weer die statistiek en met toestemming van die families die fotos in elke land denkbaar dat die wereld die ware kleure kan sien .

Michelle ·

Elke keer as ek so ‘n artikel lees is my hart en siel in stukke geskeur. Party het dit deur gemaak en is gespaar ander soos die weerlose dame is op so wrede manier weggevat van haar geliefdes, almal wat haar geken het en mens vra altyd waarom. Ek wil net God vra laat haar siel in vrede rus en dat sy geregtigheid sal kry.

hercu ·

en die oranje, blanje, blou is ‘n aarts vyand!

dit gaan my verstand te bowe, ek belowe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.