Bentley die polisiehond ‘volg sy maat oor reënboogbrug’

(Foto: Verskaf)

Die polisie in die Oos-Kaap is weer in rou gedompel nadat nóg ʼn geliefde en dapper hond van die honde-eenheid Donderdag dood is. Bentley se dood kom skaars drie weke na dié van Mufasa, ʼn negejarige rottweiler wat vroeër sy stryd teen ʼn aggressiewe soort kanker verloor het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê Bentley, ʼn eens energieke en lojale Duitse-herdershond, “het die wil verloor om sonder sy beste vriend, Mufasa, te leef” en moes ongelukkig van kant gemaak word nadat servikale spondilose by hom gediagnoseer is.

“’n Mens kan aanvaar dat Bentley hartgebroke was toe die tragedie Mufasa tref. Ná Mufasa drie weke gelede ter ruste gelê is, het Bentley se gesondheid skielik versleg – dit was asof hy nie die hartseer sonder sy vierpotige vriend kon verwerk nie.

“Hy het skielik begin weier om op te staan en moes deur sy hanteerder gedra word. Hy is na die staatsveearts in Pretoria geneem wat gesê het dat dit weens sy gevorderde agteruitgang beter sal wees om hom te laat gaan,” sê Naidu.

(Foto: Verskaf)

Sy sê die dinamiese duo – wat wyd deur hul menskollegas bewonder is – het elke uitdaging saam aangepak.

“Bentley en Mufasa het in 2016 saam by die Roodeplaat-honde-akademie gegradueer en is saam by die K9-eenheid in Gqeberha ontplooi. Die twee honde het ook hul pligte op dieselfde skof saam met hul hanteerders uitgevoer. Hulle was beste maats.”

Bentley het sedert 2016 saam met sy hanteerder, ao. Wallace Kettledas, gewerk en het ʼn benydenswaardige band met hom gedeel. Hy was vanjaar verantwoordelik vir altesaam 16 duikslae en inhegtenisnemings.

“Bentley en ao. Ketteldas het ook verlede jaar die provinsiale toekenning vir uitnemendheid gewen vir die beste K9-hond en hanteerder van die jaar.

“Toe Bentley Donderdag vreedsaam die reënboogbrug oorgesteek het om by sy metgesel, Mufasa, aan te sluit, was daar ʼn gevoel van vrede en eenheid by ons honde-eenheid in Gqeberha,” sê Naidu.

“Die herinneringe aan Bentley en Mufasa sal voortgaan om ʼn nuwe generasie polisiehonde en hul hanteerders te inspireer en behoort as ʼn herinnering te dien dat selfs in die aangesig van verlies, die bande wat ons smee ʼn nalatenskap kan skep wat tyd te bowe gaan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

trotsNAMSA ·

Bentley, rus sag in die Hemel. Jy sal gemis word.
A/O Ketteldas, dankie dat jy as hanteerder so goed was vir Bentley.
My hart is seer !

Die wat wonder oor die SAPD se K9 eenhede, Polisie honde word ook siek, word beseer aandiens en gaan dood. Ondersteun gerus jou naaste K9 eenheid.

Ek was ook ‘n K9 hanteerder. Beter kan jy nie kry nie. SAPD K9 BO !!

electricmango ·

Dis massiewe verliese, sulke honde gaan gelukkig reguit hemel toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.