Beplan jou roete: N1 tussen Rigellaan, R21 by Pta dié naweek gesluit

Argieffoto van die N1. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die N1-hoofweg tussen Rigellaan en die R21-wisselaar in Pretoria sal oor die naweek met tye gesluit wees en kwaai verkeersopeenhopings word veral Saterdag op dié gedeelte van die pad verwag.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) sê die pad moet Saterdag en Sondag gedeeltelik gesluit word sodat voorafgegote betonbalke oor die snelweg opgerig kan word vir die bou van ʼn nuwe brug wat deel vorm van die verdubbeling van Solomon Mahlangu-rylaan in Erasmusrand.

Die hoofweg sal van Saterdag om 05:00 tot twee bane in ʼn noordelike rigting vanaf die R21-wisselaar na Rigellaan beperk word.

Die snelweg in ʼn noordelike rigting sal deur die loop van die dag egter ook in stadiums heeltemal gesluit moet word terwyl die kontrakteur die een betonbalk ná die ander oor die snelweg plaas.

Verkeer sal daartydens via die R21 herlei word.

“Sodra die balk in plek is, sal die verpligte herleiding opgehef en beperkte verkeersvloei na twee bane toegelaat word om die opeenhoping van voertuie te verminder. Die proses sal deur die oggend en vroegmiddag herhaal word totdat vier balke in posisie oor die noordwaartse rybaan geplaas is,” sê Alan Agaienz, projekbestuurder van Sanral in die noordelike streek.

Sanral waarsku dat ʼn groot hyskraan Saterdag én Sondag oor drie bane op die snelweg suidwaarts in posisie geplaas sal moet word. Verkeer in ʼn suidwaartse rigting sal daarom van Saterdag om 05:30 tot Sondag om 18:00 tot twee bane beperk word.

“Die kontrakteur sal Sondag om 08:00 begin deur ʼn balk oor die snelweg in die suidwaartse rigting te plaas. Gedurende hierdie tyd sal verkeer op die hele snelweg via Rigellaan herlei word totdat die balk in posisie is. Die beperkte bane sal dan vir verkeer in die suidwaartse rigting oopgestel word om die opeenhoping te verminder.”

Agaienz sê dié proses sal Sondagoggend tot vroegmiddag herhaal word totdat al vier balke oor die snelweg in die suidwaartse rigting geplaas is.

Die hyskraan sal dan uitmekaar gehaal word.

Daar word verwag dat die N1-suid teen Sondag om 18:00 weer ten volle vir verkeer oopgestel sal word.

Agaienz sê die sluitings sal dalk aangepas moet word na gelang van weerstoestande en ander onvoorsiene uitdagings wanneer die proses begin.

Motoriste word aangeraai om hul reise dienooreenkomstig te beplan, die alternatiewe aanbevole roetes te oorweeg, waaksaam te bly en die padreëls te alle tye te gehoorsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.