Beplande instandhouding nou hooffokus by Eskom – minister

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, het die media Maandag oor die kragsituasie in Suid-Afrika toegespreek. (Foto: @GovernmentZA / X)

Die plan is uiteindelik nie minder beurtkrag nie maar eerder géén beurtkrag, sê dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit.

Dit is waarom Eskom deesdae die megawatt wat hy “bykry” danksy minder gedeeltelike ladingsverliese gebruik om beplande instandhouding te doen eerder as om tydelike verligting te bring deur van beurtkragfases te verlaag.

Dit was Maandag die minister se rede vir beurtkrag ten spyte van minder onbeplande onderbrekings.

Teen Mei verlede jaar het 17 369 MW verlore gegaan weens gedeeltelike ladingsverliese en onbetroubare opwekkingseenhede, het Ramokgopa vanoggend tydens ʼn mediakonferensie gesê. Verskeie pogings is aangewend om aandag te gee aan die probleem en teen Oktober het daar maar 13 473 MW verlore gegaan, wat beteken dat Eskom in wese weens sy pogings byna 4 000 MW meer beskikbaar gehad het as in Mei verlede jaar.

Eskom het in Februarie op dieselfde manier sowat bykomende 3 000 MW “gespaar”.

“Die volgende vraag wat die algemene publiek gaan vra, is waarom dan beurtkrag instel indien jy 3 000 MW meer as gewoonlik het?

Die minister se verweer is dat beurtkrag ingestel word om meer beplande instandhouding te doen, ten einde Eskom se opwekkingseenhede gesond te hou en die algemene prestasie van die nasionale kragnetwerk te verbeter.

Hy sê indien beplande onderhoud van September 2023 tot Februarie 2024 met tussen 25% en 50% verminder kon gewees het, kon beurtkrag gedurende die tydperk heeltemal afgeweer gewees het. “Dit sou egter die stelsel kwesbaar en swakker laat in aanloop tot die komende winter.”

Al was die toename in instandhouding ʼn bewuste besluit, erken hy dat dit bygedra het tot Eskom se swakker prestasie die afgelope paar maande.

‘Meer stabiele Eskom’  

Ramakgopa glo ook daar is deesdae effens meer stabiliteit in Eskom. Die stabiliteit is onder meer toegeskryf aan onlangse permanente aanstellings soos dié van Dan Marokane, wat begin vandeesmaand as nuwe uitvoerende hoof van Eskom begin het.

Die minister was ook vanoggend vol lof oor die sogenaamde VGBe-verslag wat die nasionale tesourie, in oorleg met Eskom, in Februarie 2023 aangevra het.

Die verslag is in September aan die nasionale tesourie en die minister van finansies oorhandig voordat dit onlangs aan die breër publiek bekend gemaak is. Aanbevelings van die verslag sluit in dat ʼn span kundiges buite Eskom aangestel word. Die verlies aan ervare werkers die afgelope jare moet ook aandag kry.

“Ons verwelkom die verslag,” sê Ramokgopa. “Eskom sal geweldig baat by die perspektief van ander kundiges wat ʼn onafhanklike mening of lens van ontleding van die probleem en hul eie aanbevelings verskaf.”

Die nasionale tesourie het verlede jaar gevra dat ʼn onafhanklike span ondersoek instel na Eskom se steenkoolkragstasies om meer oor die aard van die probleem by Eskom te wete te kom.

Die span het al 14 steenkoolkragstasies besoek en verskeie aanbevelings in sy verslag gemaak.

Die onafhanklike ondersoek deur VGBe is gedoen as deel van voorwaardes verbonde aan die R254 miljard-reddingsboei wat die nasionale tesourie aan Eskom gegee het en sommige van die bevindings in die verslag sal in Eskom se 2024-’25 korporatiewe plan geïnkorporeer word.

Ramakgopa het vanoggend gesê dit is juis die reddingsboei van R254 miljard wat Eskom ruimte gegee het om asem te skep en op beplande instandhoudingswerk te fokus.

“Die resultate sal duidelik wees wanneer opwekkingseenhede aanlyn gaan,” sê Ramokgopa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Casper ·

‘n Reddingsboei van 254 miljard rand en nog steeds is daar van fase 1 tot 4 beurtkrag.Word instandhouding deur kundiges gedoen of transformasie gedrewe mense.Onkundige en onbevoegde werknemers is een van die groot redes vir beurtkrag en dan die groot vyande geldgierigheid,korrupsie,sabotasie, diefstal en bedrog.Raak van dit ontslae en die ligte brand 24/7.Hoekom hierdie skielike verbetering kort voor die verkiesing.Hoekom dan die pensione gryp as dit beter gaan by eskom.

Meerkat ·

BOERE KRY NOG STEEDS BEURTKRAG TOT 4 KEER PERDAG. EN AL HUL GEWASSE ENS LEI SKADE WANT HUL KAN DIT NIE NAT MAAK NIE. SO LIG IN DIE TONNEL IS NOG BAIE VÊR. DOEN VERASLAG EN HOU OP BELOFTES MAAK. EN SLUIT DIE VANDALE TOE WAT AAN HOUDEND SKADE MAAK.

AREND1 ·

Daar is een rede hoekom daar beurtekrag is en die rede is dis in die anc se hande.

Pieter ·

Meerkat ek verstaan jy is kwaad maar almal kry beurtkrag, as ons uitsondering gee vir die boere dan gaan die myne, winkels en vervaardigingsaanlegte dit ook wil hê. Die punt is dat dit almal raak.

Die enigste manier hoe die gaan eindig is as ons nuwe kragstasies bou. Geen hoeveelheid onderhoud gaan ‘n 45 jaar oue kragstasie weer maak werk soos ‘n nuwe een nie. Daarvoor gaan die land moet geld leen en baie leen.

Wondermaarnet ·

Meneer, nou skrik jy wakker na meer as ‘n jaar in jou pos. Is dit nie die norm dat instandhouding deel van daaglikse pligte moet wees nie?

Ore ·

Dis waar agbare minister, een van die dae geen beurtkrag meer nue. Nie omdat jy en Eskom so oulik is nie, dit sal wees omrede landsburgers hulle eie krag gaan opwek. Daar was nooit ondersteuning aan de Ryuter nie, skielik het jy ‘n oop tjekboek

Mariana ·

Sien is glo en jammer maar ons vertroue in enigiets Eskom en ANC is lankal daarmee heen. Tyd vir mense wat weet wat hulle doen, kundiges, maar ons weet dit gaan nie gebeur nie, intussen moet ons maar self sien kom klaar.

kragaap ·

Regtig, daar bestaan nie eers so woord in julle woordeskat nie. Of dit nou ‘n weed eater is of ‘n biljoen rand aanleg, dryf hom tot hy breek dan vertel hulle jou.

Andre ·

…dìe elektriese kulkunstenaar het nie genoeg toorgoed om hierdie een reg te toor nie. Belê in gas en kerse!

Wielspore ·

Die sukses van ‘n vervaardigings aanleg word nie gemeet aan die hoeveelheid wat hy bespaar het, eerder die beskikbaarheid van sy toerusting. As alle eenhede wat krag opwek 96% van die tyd aan lyn is sal daar geen beurtkrag wees, die 4% van lyn af is voldoende vir instandhouding sonder dat beurtkrag nodig is. Die verskonings en redes wat tans op die tafel is, is gelykstaande aan ‘n ongeskikte persoon wat uit verskoning begin hardloop. Stel bevoegte mense aan>

Martie ·

En wat van ons elektriese motors? Sal ek nog een kan koop en mee ry, of sal hy net staan en vergaan sonder krag.

SjN ·

Instandhouding en onderhoud is mos standaard praktyk, so die kaders moes nog n persoon aanstel as minister om dit te ondersoek en na n jaar dit te besef, viva.

Jan ·

Baie betalende kliente gaan oor na solar……so waar gaan ESKOM dan geld vandaan kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.