Berusting 686 dae ná mynwerker verdwyn

Die Gamsberg-sinkmyn (Foto: Vedanta Zinc International)

Die mynwerker wat byna twee jaar gelede by die Gamsberg-sinkmyn in die Noord-Kaap vermis geraak het, se oorskot is vandeesweek gevind.

ʼn Grootskaalse soektog is in November 2020 na Christopher Whitlow gelas. Whitlow se oorskot is Donderdag – 686 dae later – eindelik na die oppervlak gebring.

Whitlow het in die vroeë oggendure van 17 November 2020 vermis geraak nadat ʼn geotegniese fout by die westelike gedeelte van die sinkmyn se suidelike skag voorgekom het. ʼn Geotegniese voorval word beskryf as ʼn ongeluk wat gewoonlik voorkom weens skade aan ondergrondse uitgrawings.

Agt mynwerkers is die betrokke dag na veiligheid gebring, terwyl die liggaam van Melvin Saal sowat twee dae later uit die skag na die oppervlak gebring is.

Talle hulpbronne, waaronder hommeltuie, snuffelhonde en radarstelsels, is destyds ingespan om na Whitlow te soek.

Christo Witbooi, woordvoerder van Vedanta Zinc International, sê daar is die afgelope anderhalf jaar onverpoos na Whitlow gesoek.

Whitlow was ten tyde van sy verdwyning 44 jaar oud. Hy word oorleef deur sy vrou, Ruwene Whitlow, vyf kinders (onderskeidelik 21, 20, 18, 16 en 4 jaar oud), asook sy broers, Charl en Selvin Cloete.

“Ons wil graag ons hartlike dank uitspreek teenoor elkeen wat onverpoos gewerk het om mnr. Whitlow op te spoor en vir hul volgehoue bystand en geduld tydens die redding-en-herwinningsoperasie,” sê Witbooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen-oog ·

Shoe dit was n lang wag. Maar nou kan die gesin en familie die hoofstuk van wag afsluit. Baie sterkte vorentoe.

Tanya ·

Dis ongelooflike goeie nuus, ek is bitterlik bly dat die familie finaal hierdie hartseer hoofstuk kan afsluit met ietsie om te begrawe en ‘n diens te kan hou, 44 is dan nog so jonk! Baie sterkte aan die familie in hierdie hartseer tyd om die wonde nou weer heeltemal oop te grawe…
Ek moet ook net my kommentaar lewer dat wie ook al die brokkie nuus geondersoek het beslis nie kan tel nie….. November is nog 4 maande weg, dis 120 dae, volgens die berig werk hulle sommetjies vroeg September uit as dit op 686 dae staan. Ek besef dis tegnies, maar ek dink regtig ons benodig weer proef-lesers voordat berigte geplaas word….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.