Besluit oor maatskaplike toelae ‘heroorweeg’

Gautengse premier Panyaza Lesufi. (Foto: Verskaf)

Die Gautengse regering het Dinsdag ʼn ommeswaai gemaak en aangekondig dat die jongste begroting vir nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat maatskaplike dienste lewer, heroorweeg sal word.

ʼn Herrie woed sedert verlede week nadat NRO’s hul nuwe diensvlakooreenkomste van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang het. Dit stipuleer dat ʼn groot deel van hul toelae besnoei word.

Die meeste van die organisasies se subsidies is met tussen 50% en 60% besnoei – en dit sou die laaste spyker in baie NRO’s se doodskis wees.

Premier Panyaza Lesufi sal eersdaags ʼn begrotingskomitee byeenroep om die kwessie van finansiering vir NRO’s te bespreek.

“NRO’s speel ʼn belangrike rol in hul vennootskap met die regering om kwesbare mense in ons samelewing te versorg,” sê Lesufi.

Hy en Mbali Hlophe, LUR van maatskaplike ontwikkeling, landbou, landelike ontwikkeling en omgewing, gaan ook Donderdag met NRO’s vergader om hulle te betrek by die samestelling van die nuwe finansieringsmodel en ander kwessies wat die sektor raak.

Vuyo Mhaga, woordvoerder van die premier, sê die besluit om die begroting te heroorweeg is “in ooreenstemming met die verbintenis wat premier Lesufi gemaak het om te bepaal of die R2,3 miljard wat aan die sektor toegewys word, doeltreffend versprei en gebruik word vir die beoogde doel om die behoeftes van bejaardes, kwesbare mense en armes te pak”.

Ondanks Lesufi se aankondiging beplan die VF Plus steeds om ʼn klag teen hom en die provinsiale regering by die Menseregtekommissie (MRK) in te dien “om ʼn menslike katastrofe groter as die Life Esidimeni-tragedie te voorkom”.

Die VF Plus gaan in sy klagte die MRK vra om onder meer ondersoek in te stel na die grondwetlikheid van die besluit om die maatskaplike finansiering in die eerste plek te besnoei.

“Die MRK moet die situasie ook monitor om seker te maak dat die beskikbare geld ten volle wel aan maatskaplike organisasies betaal word,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se voorsitter.

Die VF Plus het verlede week tydens ʼn vergadering van die wetgewer se oorsigkomitee oor die premier se kantoor die probleem aangemeld en versoek dat die komitee optree deur Lesufi te dwing om die kwessie op te los.

“Lesufi en die departement van maatskaplike ontwikkeling se ondeurdagte besluit sou baie organisasies gedwing het om hul deure te sluit, met die gevolg dat die weerloses op straat sou beland.”

Alberts sê daar bestaan geen twyfel by die VF Plus nie dat dit ʼn enorme skeur in die maatskaplike vangnet in Gauteng sou veroorsaak en dat ʼn menslike tragedie die provinsie in die gesig sou staar wat die Life Esidimeni-tragedie oorskadu.

“Die weerloses verdien beter as die ANC en Lesufi se wrede en roekelose besluite.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kokerboom ·

Die kader Lesufi is ‘n manteldraaier wat sinnelose besluite neem

Hennie Biebouw ·

Nee man , hy is nie ‘n manteldraaier nie. Om ‘n mantel te kan draai, moet jy een hê. Die knaap verdwaal bloot in die oerwoud van sy arrogansie.

Hendrik ·

Dit blyk duidelik,vir hierdie kommunisties gesinde regering is n menselewe minder as n send werd.

Willem ·

Hy het die onderwys ń gemors van gemaak nou probeer hy op ander plek

Harley Davidson ·

Hoekom kry die lesufi rasis so baie media dekking?

Hennie Biebouw ·

Smaak my hoe hoër die kaders die ANC se “stam paal” beklouter, hoe ronder raak hulle…

Lillian ·

Wil iemand nie net asseblief hierdié suurstofdief help nie…..

Jackie ·

Dit duudelik dat alle dom besluite wat regerings instansies maak eers n paar taai klappe moet ontvangvoordat hulle besef ‘ons is nou stupid’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.