Besluit verwelkom om N-Kaap tot rampgebied te verklaar

Die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, tydens haar besoek aan die Noord-Kaap die afgelope week. (Foto: GCIS)

Die proses is aan die gang gesit om die Noord-Kaap weens die moordende droogte daar tot rampgebied te verklaar.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, het gesê die besluit het gevolg op ʼn vergadering tussen die minister, Lindiwe Sisulu, en die Noord-Kaapse premier, Zamani Saul, Vrydag.

Ratau het gesê verskeie administratiewe prosesse moet nou eers gevolg word en die premier het nog nie die verklaring onderteken nie. “Jy kan nie ʼn ramp verklaar net omdat ʼn droogte aan die gang is nie. Daar is wetlike prosesse betrokke,” het Ratau by navraag gesê.

Die verklaring moet aandui watter soort bystand die provinsie nodig het. Dit word daarna aan die nasionale rampbestuursentrum vir finale goedkeuring van hulp voorgelê.

Die DA het die besluit verwelkom en sê die droogte het die provinsie op sy knieë gedwing.

“Die besluit om R200 miljoen in finansiering beskikbaar te stel om die krisis op te los, moes lankal geneem gewees het, maar word steeds verwelkom,” het Willie Aucamp, ʼn DA-lid van die Nasionale Raad van Provinsies, gesê.

“Dit is ʼn stap in die regte rigting, maar veel meer is nodig om wydverspreide verligting aan die reeds platgeslane provinsiale landbousektor te bring.”

Volgens Aucamp is meer as R600 miljoen nodig om die uitwerking van die vyf jaar lange droogte te verlig. Minstens 60 000 werksgeleenthede is op die spel.

Pres. Cyril Ramaphosa op besoek aan die droogtegeteisterde Noord-Kaap. (Foto: @MYANC/Twitter)

“Ek het ʼn persoonlike gesprek met pres. [Cyril] Ramaphosa hieroor gehad om te verseker hy is deeglik op hoogte van die omvang van die krisis.”

Ramaphosa is in die Noord-Kaap vir die ANC se verjaardagvieringe.

Aucamp het gesê die DA doen weer ʼn beroep op die provinsie se premier, Zamani Saul, om bykomende noodfondse by wyse van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur beskikbaar te stel.

“Die DA-geleide Wes-Kaap het dit reeds gedoen en help honderde boere en boeregemeenskappe in hul tyd van nood. Ons pleit by premier Saul om nie nog ʼn dag te laat verbygaan sonder om beslissend op te tree om die geld beskikbaar te stel om die uitwerking van die droogtekrisis in die Noord-Kaap te help beveg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Christine vd Westhuizen ·

Ek is baie bly dat opposissie party die anc tot verantwoording begin dwing hulle kom te maklik met alles weg ry hulle tot by daantjie in die kalwerhok

Basjan ·

Ek is ook besonder verheug oor die aankondiging. MAAR die tydsberekening daarvan laat veel te wense oor. Is dit “toevallig” noudat die president op ‘n besoek aan die Noord-Kaap is. Beslis nie! Die ANC doen niks sommer so uit die goedheid van hul hart nie. Daar is altyd ‘n verskuilde agenda. Gooi gou die bekendstelling van die noodtoestand by die resep en siedaar: Die ANC “score” weer ‘n paar punte!

JO ·

Hierdie is maar net die begin want volgens die IWMI Global Water Scarcity Study gaan Suid-Afrika onder andere in 2025 n groot water te kort he, wat beteken ons sal dus nie meer genoeg waterbronne hê nie:

1. Om huidige voedselproduksie per capita via besproeiingslandbou te handhaaf – selfs al is besproeiing baie intensief –

2. of om aan redelike watervereistes vir huishoudelike, industriële en omgewingsdoeleindes te voldoen.

Wat beteken die ekonomie gaan basies agteruit. Kombineer dit nou met die ESKOM crisis en Grondonteiening, Dan kan mens maar menself voorstel. Maar nou ja #IamStaying of ek nou wil of nie.

P ·

Noordkaap rampgebied. Wat van die OOK KAAP is ons so vergete net so kritiek droog. NET VADER kan ons red Nie ANC of da Nie. Ek bid vir genade vir ons almal

André André ·

Dit is interessant dat dit NOU geskied terwyl die ANC in hiérdie dae hul 108 jarige bestaan in Kimberley, wat ook in die NoordKaap geleë is vier. Dit is net té toevallig, gegewe die ANC se geskiedenis en hoe hulle geleenthede gebruik om mense na hulle toe oor te wen. Dan wil ek nie Cyril Ramaphosa se toespraak vandag hoor nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.