Betaalvakansie: vinnige voordeel of langtermynpyn?

Foto bloot ter illustrasie (Geskep deur KI, Dall-e)

Nóg ʼn rentekoersverhoging verlede maand – nou op die hoogste vlak in 14 jaar – het dit vir baie Suid-Afrikaners nog moeiliker gemaak om hul skuldverpligtinge soos studielenings, voertuigfinansiering en huisverbande op datum te hou.

Een opsie wanneer die nood werklik begin druk is ʼn sogenaamde betaalvakansie; ʼn korttermynblaaskans wat ʼn verbruiker toelaat om die terugbetaal van lenings vir ʼn vasgestelde tydperk te onderbreek of te verminder.

Tydens die Covid-19-pandemie het verskeie groot banke betaalvakansies aangebied, dikwels vir een tot drie maande.

Die maatskappy JustMoney, wat Suid-Afrikaners help om hul geldsake slimmer te bestuur, het gaan ondersoek instel om te bepaal of dié soort finansiële verligting enige voordeel inhou – en wat moontlik die gevolge van só ʼn betaalvakansie kan wees.

Waarom ʼn betaalvakansie oorweeg?

Volgens dr. Stephan van der Merwe, ʼn regskenner aan die Universiteit van Stellenbosch (US) se regskliniek, geld ʼn betaalvakansie gewoonlik slegs in die geval van korttermynverlies aan inkomste, byvoorbeeld weens ʼn mediese noodgeval of onbetaalde kraamverlof.

“Daar is egter uitsonderings op die reël, en jy kan jou krediteure nader indien jy eenvoudig nie jou terugbetalings kan byhou nie,” sê Van der Merwe.

“Die Nasionale Kredietwet maak nie melding van betaalvakansies nie, so jy en jou krediteur sal tot ʼn wedersydse ooreenkoms moet kom. Dit is slim om dit te dokumenteer sodat albei partye duidelik ingelig is oor die voorwaardes.”

Van der Merwe sê jy kan ook slegs vir ʼn betaalvakansie kwalifiseer indien jy kan bewys dat jou probleem net tydelik is.

“ʼn Betaalvakansie is nie ʼn manier om van jou skuld ontslae te raak nie, maar dit is beter as om net doodeenvoudig op te hou met verpligte terugbetalings.”

Shafeeka Anthony, bemarkingsbestuurder van JustMoney, sê een van die vereistes vir ʼn betaalvakansie is ʼn goeie reputasie by jou kredietverskaffer, wat beteken dat jy op datum met jou maandelikse betalings moet wees.

Finansiële gevolge van ʼn betaalvakansie

“’n Betaalvakansie is bloot ʼn uitstel van maandelikse terugbetalings; dit maak nie die oorspronklike kredietooreenkoms ongedaan nie. Sodra die betaalvakansie verby is, moet jy met jou maandelikse terugbetalings voortgaan,” sê Anthony.

“Die rente wat jy tydens die betaalvakansie aangaan, sal by die totale verskuldigde balans gevoeg word. Dit is onwaarskynlik dat jy elke maand ʼn groter bedrag sal terugbetaal, wat beteken dat dit langer sal neem om die skuld terug te betaal.”

Anthony sê daar kan ook nie-rente-administrasiegeld wees.

“Al hierdie faktore kan jou terugbetalings ná die betaalvakansie beïnvloed, en moontlik ook jou kredietwaardigheid.”

Anthony beveel aan dat verbruikers hul finansiële situasie behoorlik evalueer, al die moontlike gevolge opweeg en moontlike alternatiewe ondersoek alvorens ʼn betaalvakansie aangegaan word.

Alternatiewe moontlike sluit in ʼn termynverlenging op ʼn lening, ʼn oortrokke fasiliteit of skuldkonsolidasie.

“Hoewel ʼn betaalvakansie na ʼn maklike oplossing kan lyk, het dit aansienlike langtermyngevolge,” sê Anthony.

“Om proaktiewe stappe te doen, soos om behoorlik te begroot, finansiële advies in te win of alternatiewe terugbetalingsplanne te ondersoek, kan op die lang termyn meer voordeel inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oom ·

Alle vakansies kos geld, ook hierdie soort. Leef binne jou finansiële vermoeë al is dit hou moeilik. Moenie koop wat jy nodig het nie. Koop waarsonder jy nie kan klaarkom nie. En dink dan nog tweekeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.