Beurtkrag oor nuwe jaar? Ja, dit ís nou nodig – kenner

(Foto: Rodger Bosch/AFP)

Dit was net ʼn kwessie van tyd voor beurtkrag weer op ʼn daaglikse basis ingestel sou word, maar min Suid-Afrikaners, en selfs energiekenners, het verwag dat dit sommer al op die tweede dag van die nuwe jaar sou inskop.

Sommige kenners meen dit is nou duidelik waarom dit ʼn noodsaaklike stap deur Eskom was.

Vally Padayachee, energiekenner en voorsitter van die onafhanklike energieliggaam National Rationalised Specifications (NRS) Association of South Africa, sê histories gesproke was die vraag na krag oor die feestyd – en selfs vroeg in die nuwe jaar – gewoonlik uiters laag omdat die meeste sakeondernemings en groot nywerhede nie operasioneel is nie.

“Die vraag na krag op die netwerk was nog altyd baie laag in hierdie tyd, terwyl dit wat beskikbaar was, die vraag oorskry het; dus was daar in die verlede nooit beurtkrag in hierdie tyd nie,” sê hy.

“Daarom kan die beurtkrag wat nou op fase 2 en 3 geïmplementeer word, as ʼn anomalie beskou word.”

Die kragvoorsiener het egter met die aankondiging oor beurtkrag toegegee dat hy ʼn terugslag ondervind het toe drie opwekkingseenhede – wat meer as 2 000 MW se opwekkingskapasiteit verskaf – nie, soos beplan, tot die netwerk teruggevoeg kon word nie.

Dít tesame met ses opwekkingseenhede (3 113 MW) wat nie beskikbaar is nie weens beplande instandhoudingswerk en ʼn verwagte toename in die vraag na elektrisiteit, het “daartoe gelei dat die vraag na krag die beskikbare aanbod oorskry het”.

“Dit is om dié redes dat Eskom geen keuse gehad het as om beurtkrag voorts van 2 Januarie af in te stel nie,” sê Padayachee.

“Sou hierdie onklaarrakings plaasgevind het terwyl die sakesektor almal weer aan die werk was en die vraag na krag veel hoër was, glo ek kon ons waarskynlik fase 5- of 6-beurtkrag gehad het.”

Beurtkrag nog lank hier

Gegewe die huidige stand van sake is Padayachee nie hoopvol dat Suid-Afrika vanjaar al beurtkragvry gaan wees nie. Inteendeel, Suid-Afrikaners gaan waarskynlik lank daarmee moet saamleef.

Padayachee wys daarop dat die kragvoorsiener steeds worstel om sy energiebeskikbaarheidsfaktor te verhoog. Dit staan tans op 55%, maar moet eerder tussen 70% en 75% wees om stabiliteit in kragverskaffing te verseker.

“Met dié dat Eskom ʼn beperkte nasionale transmissie- en verspreidingsnetwerk het en lae termiese doeltreffendheid van die meeste van sy steenkoolvloot beleef, is ek van mening dat beurtkrag vir die res van 2024 sal voortduur,” sê hy.

“Inteendeel, beurtkrag sal dalk nog vir die volgende twee tot drie jaar van krag wees, hoewel dit waarskynlik teen veel laer fases ingestel sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SwartBees ·

Twak, julle kom sê vir ons ‘n skaap is ‘n scrambler. Ons almal is wel bewus van die olifant in die kamer ( genaamd kaal geplunder en onbevoeg).

Ben ·

Sal graag wil weet hoeveel KW deur sonkrag en turbine’s voorsien word ?
Glo beurtkrag sou meer wees as dit nie vir skoon energie krag was nie.

MAGRIETHA ·

Ek glo niks van enige iets wat van eskom se kant af kom nie ekt voorspel 2 januarie is beurt krag terug ,

Gert ·

Die ander skok gaan nog kom vir verbruikers. Ons betaal nou reeds meer met ons krag 50% van die tyd af vergelykend met die tyd voor fases 3 en op begin het. Verbeel jou die skok van n volle 30 dae rekening sonder loadshedding. Ek dink van ons het nou al reeds waansinnige rekening begin ontvang weens geen beurtkrag tydens Desember.

NWT ·

Eskom moet ophou krag voorsien aan ander lande.

Eskom se meterlesers moet hul lesings maandliks doen en nie kwartaaliks nie. Wanneer Eskom geskatte lesings gebruik is dit astronomiese rekenings vir verbruikers.

Ek wens Afri Forum vat hul hof toe oor hul geskatte rekenings.

Dit is onwettig dat munisipaliteite geskatte water lesings gebruik. Dit moet werlike lesings wees. Eskom moet dieselfde doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.