Die departement van gesondheid het verskeie kenners se menings oor die verpligte dra van maskers in die buitelug ingewin en ʼn voorstel is aan die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) voorgelê om vir eers daarmee weg te doen.
“Die NCCC sal nou die voorstel oorweeg en ons behoort binnekort uitsluitsel hieroor te hê,” het dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, Vrydagoggend tydens ʼn webinaar gesê.
Suid-Afrika het die afgelope week ʼn afname van 20% in nuwe bevestigde gevalle van die koronavirus aangeteken. Die gemiddelde aantal nuwe gevalle het van 16 000 verlede week tot 12 800 vandeesweek afgeneem.
Phaahla sê egter dit is “teleurstellend” dat die tempo van infeksies nie geleidelik afgeneem het soos daar verwag is nie. Die minister sê dit blyk dat die positiwiteitskoers net nie wil daal nie, met dié koers wat die afgelope maand tussen 7% en 10% bly staan het.
Die positiwiteitskoers was wel Vrydag 6,5%.
“Ons hoop om meer volgehoue afname tot ʼn positiwiteitskoers van minder as 5% te sien, wat sal kwalifiseer om te sê die pandemie is onder beheer,” het Phaahla vanoggend gesê.
Mpumalanga se persentasie van positiewe toetsuitslae was vandeesweek die hoogste (14%) gevolg deur die Wes-Kaap (12,6%) en Noordwes (10,5%). Die res van die land se provinsies het almal ʼn positiwiteitskoers van minder as 10% gehandhaaf.
Altesame 21% van kinders tussen 10 en 14 jaar oud se Covid-19-toetsuitslae het egter positief teruggekom.
Phaahla het dit gevolglik duidelik gestel dat die Covid-19-pandemie hoegenaamd nog nie verby is nie.
Omikron is in dié stadium steeds die oorheersende variant in Suid-Afrika. Dié virusvariant het in Januarie en Februarie 78% van die land se nuwe Covid-19-gevalle uitgemaak.
Maroela Media het vroeër vandag berig kommer heers nou oor die land se lae inentingsyfer. Minder as die helfte van die Suid-Afrikaners het al minstens een dosis van die entstof ontvang.
Daar word intussen gevrees dat 100 000 dosisse Covid-19-entstof vernietig sal moet word weens ʼn tekort aan belangstelling onder Suid-Afrikaners.
Lees meer daaroor hier.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
43 Kommentare
Nou hoekom toets die mense nog?
Positiwiteitskoers – wat ‘n belaglike maatstaf om te gebruik om vas te stel of die pandemie onder beheer is.
En ons aanhoudend melk vir geld tot ons leeg getap is.
Laaste paragraaf… So trots op my mense!! Hul Dink vir hulself
Hulle wil besluit oor maskers in die buitelug maar lyk my nie hulle kyk ooit om hulle rond nie. Die publiek het al lankal self besluit.