Bewaringsoptrede vir withaaibevolking dringend nodig

‘n Groot withaai by Valsbaai in die Wes-Kaap. (Foto: Chris en Monique Fallows)

ʼn Groep mariene bioloë wat spesialiseer in haai-ekologie, -genetika en visserye het die bevindings vaʼn’n onlangse studie uitgedaag, wat te kenne gee dat Suid-Afrika se withaai-bevolkingsgetalle nie afgeneem het nie, maar slegs ooswaarts gevlug en herversprei het om te voorkom dat hulle orka-kos word.

Die bioloë sê daar is verskeie probleme met die metodes wat gebruik en gevolgtrekkings wat gemaak is in die studie, waarvan die bevindings in September in die artikel “Decline or shifting distribution? A first regional trend assessment for white sharks (Carcharodon carcharias)  in South Africa” gepubliseer is. Die artikel het in die ooptoegangvaktydskrif Ecological Indicators verskyn.

In ’n repliekartikel getiteld: “Uncertainty remains for white sharks in South Africa, as population stability and redistribution cannot be concluded by Bowlby et al (2023)”, wat onlangs in dieselfde vaktydskrif gepubliseer is, voer die bioloë aan dat die data, soos wat dit tans ontleed en geïnterpreteer word, nie die aansprake steun wat tans oor bevolkingstabiliteit of herverspreiding van Suid-Afrika se withaaie gemaak word nie.

Dr. Enrico Gennari, direkteur van die Oceans Research Institute en hoofouteur, sê hulle voel verplig om hierdie bekommernisse te opper gegewe die impak wat dit op die bestuur van bewaringsaksies het: “Indien die withaaibevolking stabiel is, is daar geen rede tot kommer nie.  Indien die afname in die getal waarnemings van withaaie by plekke wat voorheen konsentrasiepunte was egter inderdaad verteenwoordigend van die bevolking is, dan is bewaringsoptrede dringend nodig.”

Eerstens, met betrekking tot die bewering dat Suid-Afrika se withaaibevolking ooswaarts migreer het, opper hulle twee besware. Die eerste beswaar het te make met die voorstelling van die twee datastelle in die 2023-studie, en dat ʼn mens nie tot die gevolgtrekking kan kom dat ’n toename in die getal haaiwaarnemings in een plek (in hierdie geval Algoabaai) direk vergelykbaar is met ’n afname in haaiwaarnemings in ’n ander plek (soos Valsbaai) nie. “Om dit eenvoudig te stel: ’n afname van 80% van 100 individue by plek A, kan nie dieselfde wees as ’n 80%-toename van 10 individue by plek B nie,” verduidelik Gennari.

Groot withaai in Kleinbaai gewaar. (Foto: Marine Dynamics)

Hy sê ’n noemenswaardige toename in die getal haaiwaarnemings in een plek kan aan ’n verskeidenheid redes toegeskryf word, onder meer die gebruik van verbeterde tegnologie soos hommeltuie. “’n 2022-studie het byvoorbeeld ’n 357%-styging uitgewys in die gebruik van hommeltuie in die Suid-Afrikaanse ontspanningsvissery sedert 2016. Die vestiging van mariene beskermende gebiede om Algoabaai sedert 2004, en die voltooiing van ’n nuwe hawe in 2006, is ander potensiële faktore wat ook tot ’n toename in die getal withaaie in Algoabaai kon bydra.”

Intussen het die getal withaaiwaarnemings in die Wes-Kaap afgeneem tot minder as 10 per jaar.

“Indien die algehele bevolking inderdaad streeksgewys stabiel is en dié wat waargeneem is slegs van oos na wes beweeg het, sou ʼn mens verwag dat die getal withaaie in Algoabaai tienvoudig hoër moet wees,” skryf die navorsers.

Tweedens, met betrekking tot die bewering dat die sogenaamde withaaiherverspreiding ooswaarts gedryf is deur haai-etende orkas, wys hulle daarop dat die aanvang van die afname in withaaigetalle in Valsbaai (2012-’13), Gansbaai (2013-‘14) en Mosselbaai (2015), dateer vóór die eerste verskyning van daardie orkas in Valsbaai en Gansbaai in 2015, en in Mosselbaai eers in 2017. “Met ander woorde: die beweerde oorsaak kan nie twee jaar later as die uitwerking daarvan verskyn nie.”

“Alhoewel ons saamstem dat orkas waarskynlik ’n invloed op withaaigetalle en -gedrag gehad het, en minstens tydelik van hul historiese saamkomplekke verplaas het, dui die data soos wat dit tans voorgestel word nie daarop dat orkas die primêre drywer is van die afname in withaaigetalle wat in die Wes-Kaap waargeneem word nie,” lui die artikel.

Dr. Sara Andreotti, ’n mariene bioloog in die Departement Plant- en Dierkunde  aan die US en een van die mede-outeurs, sê hulle is bekommerd oor die uitwerking van die narratief op bewaringspogings: “Daar is geen bewyse dat die honderde withaaie wat tien jaar gelede in Valsbaai, Gansbaai en Mosselbaai getel is, nou elders aan die Suid-Afrikaanse kuslyn saamtrek nie. Ons bekommernis is dat ongegronde bewerings van bevolkingstabiliteit, dringend noodsaaklike bewaringsaksies vir withaaie in gevaar stel.”

Die groep van bekommerde mariene bioloë doen ’n dringende beroep op owerhede soos die departement bosbou, visserye en omgewingsake om ’n voorkomende benadering te volg in die lig van die afname in waarnemings van withaaie by hul historiese konsentrasiepunte, die gevolglike negatiewe impak op Suid-Afrikaanse ekotoerisme-ekonomie, die afname in waarnemings van groot volwasse withaaie – in die Wes- sowel as die Oos-Kaap – die baie lae genetiese diversiteit van hierdie bevolking, die historiese en teenswoordige onvolhoubare vlakke van withaaivrektes aan die hand van die dodelike haaibeheerprogram van die KwaZulu-Natal Haaieraad, en die onlangs onthulde withaai-vrektes as gevolg van ’n kus-haai-langlyn-visserypraktyk in Suid-Afrika.

“Ons artikel beklemtoon die belangrikheid van robuuste, deursigtige wetenskaplike ondersoek om bewaringspogings te rig, terwyl dit ’n voorsorgbenadering volg. Dit dien ook as kritieke kontrolepunt wat ons dwing om ons verbintenis tot die bewaring van Suid-Afrika se haaibevolking te herevalueer en te versterk, gegewe die kardinale rol wat hierdie belangrike roofdiere speel in mariene ekosisteme en in die ekonomie van Suid-Afrika,” sluit hulle af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.