Bfn-man glo ontvoer, vermoor

Bloemfontein. (Argieffoto: Facebook)

’n 46-jarige man van Fichardtpark, Bloemfontein, is Sondag na bewering by sy huis ontvoer, waarna sy liggaam later in sy voertuig langs die N1 gevind is.

Volgens sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, het die man se vrou (41) omstreeks 08:00 in die buurt gaan draf toe sy deur ’n gewapende man oorval is. Die man se gesig was bedek.

“Die man het die vrou met ’n vuurwapen terug in die gesin se erf gedwing en geld geëis. ’n Tweede verdagte het ook verskyn,” het Kareli gesê.

“Die vrou en haar twee kinders, onderskeidelik 14 en vier jaar oud, is in die badkamer toegesluit. Hul hande en voete is vasgebind.”

Die vrou se man het ’n ruk daarna by die huis opgedaag en is deur die verdagtes met ʼn vuurwapen oorrompel.

“Die man is gedwing om in sy voertuig (’n donkergrys Toyota Hilux-bakkie) te klim. Sy hande en voete is ook vasgebind en die verdagtes het ’n plastieksak oor sy kop getrek.”

Die verdagtes het met die man weggery en die vrou en kinders in die badkamer gelos. “Die vrou het daarin geslaag om haarself los te maak en het hulp gaan soek.”

Die polisie is ontbied en die voertuig is omstreeks 13:30 langs die N1 buite Bloemfontein gewaar. Dit het langs die pad gestaan.

“’n Man is bebloed op die agtersitplek van die voertuig aangetref. Paramedici is ontbied en het die man op die toneel dood verklaar.”

Die polisie ondersoek ’n saak van moord, ontvoering en huisbraak. Niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met meer inligting kan speurkaptein Van Dyk by 082 526 2589 kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Harley Davidson ·

As daar net ‘n beter beskrywing van die verdagtes was kon ‘n mens op die uitkyk gewees het maar met die vae beskrywing is dit feitlik onmoontlik.

Delia ·

Ek stem. Watter taal, aksent as jy kan, kleur van persoon. Was die 2de verdagte ook n man of aanvaar ons so?

Perdeby ·

Sy gesig was bedek gewees, so hoe moet hulle hom beskryf? En ek wat baie lank in die SAPD was, hierdie mense raak binne ‘n paar sekondes onslae van hulle klere wat hulle aan het. Hulle het gewoontlik 2 of 3 lae klere oor mekaar aan.

Cherokee ·

So jy dink soortgelyk gebeur nie in Zim, Mexico, die state of Britanje? Jy moet wyer lees.

SjN ·

Was Hoedeman al op die toneel? Hierdie optrede was beplan en die moordenaars het inside info gehad, sterkte aan sy geliefdes en vertrou hul word gekry.

piet ·

So nou kom haal die kriminele jou uit jou huis uit om jou op ‘n ander plek te gaan vermoor. Nou hoekom die man vermoor, hulle het mos gekry wat hule wou gehad het? Die misdaad ruk nou heeltemal handuit. Vuilgoed.

Erik ·

Dit is nogal ‘n skok. Fichardtpark is een van die veiligste woonbuurtes in die land met bitter min misdaad.

Daleen ·

Wonder net watse mens in hulle regte verstand gaan draf in vandag se tyd nog. En erger nog vrou alleen.

piet ·

Hier by ons stap en draf tientalle mense elke dag. Ek stap self omtrent elke dag. Veilig in die dag, Ek sal nie sommer in die donker alleen gaan stap nie (hang af waar).

Erik ·

Baie mense, selfs ouer dames met hul klein hondjies, stap elke dag verby ons huis laatmiddag. Hier in Bloemfontein. Hier is selfs nog klein kinders wat alleen fiets ry. Dis hoekom ons nie in Gauteng bly nie. Ons het geen alarm nie. Nie eers ‘n hond nie. Bly al 17 jaar hier en nog nooit eers ‘n poging tot inbraak gehad nie. Dis hoekom ek so geskok is oor die moord.

Daar is wel sekere dele waar ek heeltemal wegbly, maar meeste buurte is baie veilig te danke aan Afriforum en buurtwag wat baie aktief is.

Botterblommetjie ·

As ek ‘n dief/ mafia /bendelid of enige van die uitvaagsels was, sou ek ook mal gegaan het. Wie gaan my wat doen. Ek wat aan die anderkant van die lyn loop, besef my lewe is niks werd in Bloemfontein nie. Jy hoor saans skote, en tot bedags kyk jy rondom jou rond as jy van die mall af stap of enige plek in jou kar ry, uit/in klim ens. Bloemfontein glo ek het die middelpunt van donker dinge geword. Om alleen toilet toe te gaan het ek beleef is al gevaarlik. Ons vriendelike stad het verander in ‘n “hoekom kyk jy vir my en wat beteken daardie glimlag” stad…. oral loop “tikkope” en “dealers” openlik rond, ek wat nie eens van sulke dinge iets af geweet het om my ouderdom nie, is nou al bewus en die polisie…. ja wat kan ons sê… jy kry nie eens die basiese goed gedoen nie, wat nog te sê as jy hulp nodig het… bel liewer buurman of baklei met al wat jy kan….Gee die goed maar gewillig oor, moet nie kwaai vriende maak nie, want almal ken iemand wat jou dalk gaan uithaal….

Toy ·

Sjoe dit is verskriklik hartseer. Sterkte aan sy gesin en familie.

Deidré ·

Verstaan iets nie.
“’n Man is bebloed op die agtersitplek van die voertuig aangetref. Paramedici is ontbied en het die man
op die toneel dood verklaar.”

So dit is dan nie die vrou se man wat oorlede is nie maar dan iemand anders?

piet ·

Dis hoe die owerhede behoorlik berig oor ‘n voorval, dis algemene standaard. Jy kan byvoorbeeld die geval kry waar die oorledene so vermink is dat hy nog uitgeken moet word.

Christo ·

Ek het voor elf daar verby gery. Die bakkie gesien en wou eers kyk hoekom dit daar staan. Min geweet wat aangaan. So hartseer

piet ·

Jy moet dalk die polisie net laat weet dat die voertuig reeds voor 11h00 daar gestaan het. Dalk nie belangrik nie maar wie weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.